Intercape-busse opnuut geteiken

Intercape busse. (Foto: Intercape/Facebook)

Dae nadat die langafstand busmaatskappy Intercape aan die lig gebring het dat sy busse onder ʼn string gewelddadige aanvalle deurloop, is nog drie van sy busse en een van sy busbestuurders vandeesweek geteiken.

Die aanvalle kom kort nadat ʼn 35-jarige busbestuurder Donderdag dood is nadat hy etlike kere buite die maatskappy se depot geskiet is.

Die jongste aanvalle het almal in Gauteng plaasgevind en twee busbestuurders en ʼn passasiers is beseer.

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, sê die maatskappy het vroeër ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa en die regering gedoen om dringend in te gryp om die geweld teen die langafstand busmaatskappy te stop.

Volgens Intercape loods onwettige taxi-verenigings ʼn gewelddadige veldtog teen dié bedryf.

“In ʼn tydperk van 13 maande was daar meer as 150 aangetekende gewelddadige voorvalle, waarvan ʼn aantal tot ernstige beserings vir werknemers en passasiers van Intercape gelei het,” sê Ferreira.

Koeëls mis bestuurder net-net

Daar is Donderdag net na 19:00 op ʼn Intercape-bus op pad van Pretoria na Mthatha in die Oos-Kaap geskiet vanuit ʼn onbekende motor op die M2-snelweg in Johannesburg.

“Drie skote is aan die bestuurder se kant van die bus afgevuur, met die laaste skoot wat die bestuurder net-net gemis het. Terwyl die motor verbygejaag het, het die aanvallers nog vyf skote afgevuur,” sê Ferreira.

“Die eerste, tweede en derde skote het die voorruit getref en die vierde en vyfde skote het die bus links voor getref.”

Die busbestuurder het daarin geslaag om die bus onder beheer te hou en hy het stadiger begin ry totdat hy eindelik veilig langs die pad afgetrek het.

“Intercape-reaksiepersoneel is na die toneel ontbied, asook die Johannesburgse metropolisie en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hulle het verklarings afgeneem en bewyse versamel.”

Niemand is in die voorval beseer nie, en die passasiers is na ʼn ander bus oorgeplaas om hul reis voort te sit.

ʼn Saak is reeds by die Jeppe-polisiestasie aanhangig gemaak.

Bestuurders, passasier beseer

In twee afsonderlike voorvalle Vrydagaand, wat byna op presies dieselfde tyd en plek plaasgevind het, is twee busbestuurders en ʼn passasier beseer.

Om 19:40 het ʼn bus, ook op pad na Mthatha, op die M2-snelweg onder ʼn koeëlreën deurgeloop.

Volgens beeldmateriaal wat op die bus verkry is, staan daar ʼn man op ʼn brug wat twee skote op die bus afvuur. Een van hierdie skote het ʼn passasier in die been getref.

Die bestuurder het ook beserings aan sy gesig opgedoen nadat die bus se venster weens die skote gebreek het.

“Die bestuurder het na Germiston gery waar hy ʼn polisievoertuig ontmoet het wat hom na die Germiston-polisiestasie vergesel het,” sê Ferreira.

“Nooddienste het ook die beseerde bestuurder en passasier behandel.”

In ʼn afsonderlike voorval om 19:45, net etlike kilometer voor Intercape se Johannesburg-busstasie op die M2-snelweg, het verdagtes in ʼn motor op die bus begin skiet. Die bus was van Pretoria na Durban op pad.

“ʼn Koeël is deur die bestuurder se deur geskiet en is by die linkerkantse venster uit. Die bestuurder is deur die gebreekte glas getref en beseer.”

ʼn Ambulans is ontbied en personeel het die busbestuurder behandel. Die passasiers is ook na ʼn ander bus oorgeplaas om hul reis voort te sit.

Verdagtes nog op vrye voet

Ferreira sê ten spyte daarvan dat meer as 60 sake reeds by polisiestasies regoor die land aanhangig gemaak is, was daar nog nie ʼn enkele inhegtenisneming waarvan hulle weet nie.

“Die gewapende mans en die moordenaars van ons werknemer in Kaapstad loop vry rond en dink niks daarvan om onskuldige mense te skiet nie,” sê hy.

“Hoe word daar van ons verwag om as ʼn gelisensieerde bedryf te funksioneer as daar kriminele elemente is wat ons openlik teiken? Dit is anargie en tensy daar nie beslissend opgetree word nie, is ons land op ʼn pad na selfvernietiging.”

Ferreira het die sogenaamde “veldtog van geweld”, wat skietvoorvalle, brandstigtings en bestokings insluit, as “bedryfsuiwering” bestempel en het verder ʼn beroep op die breër sakesektor, arbeidsbewegings sowel as die burgerlike samelewing gedoen om hulle hierteen uit te spreek.

“Wie by sy volle verstand sal ooit tyd en geld wil belê in ʼn ekonomie wat gyselaar gehou word deur kriminele ondernemings wat as ʼn wet op sigself en met volkome straffeloosheid funksioneer.”

Die voortslepende aanvalle op Intercape-busse word grotendeels op roetes na die Oos-Kaap of in die Oos-Kaap self gedoen.

Volgens die busdiens het taxi-operateurs in die Oos-Kaap passasiers van busse af gedwing of hulle gewaarsku om nie van die busdiens gebruik te maak nie.

Sommige roetes in die Oos-Kaap kan ook glad nie meer deur busbestuurders gebruik word nie, aangesien taxi-verenigings poog om mededingers uit die streek te verdryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.