Intercape maak stem dik oor geweld, intimidasie

Intercape busse. (Foto: Intercape/Facebook)

Die bestuur van Intercape sê die regering sit hande gevou terwyl taxiverenigings die langafstandbusdiens teiken en busbestuurders vir hul lewe vrees.

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, het Vrydag voor die Wes-Kaapse staande komitee oor vervoer en openbare werke en lede van die senior provinsiale polisiebestuur verskyn om te pleit vir dringende ingryping.

“Intercape word byna elke tweede dag deur ʼn voorval van geweld of intimidasie in die gesig gestaar. Vandag is dit die langafstandbus- en konstruksiebedryf. Wat sal dit môre wees?” wou Ferreira van die komiteelede weet.

Die pleidooi volg nadat twee Intercape-busse Woensdag naby Nyanga deurgeloop het. Die bestuurder van een van die busse is tydens die aanval geskiet.

Dié voorval kom enkele dae nadat ’n busbestuurder van Intercape buite dié busdiens se depot in Airport Industria in Kaapstad geskiet is. ʼn Ander busbestuurder, Bangikhaya Machana, is in April by dieselfde depot doodgeskiet.

Ferreira het daarop gewys dat langafstandbusse in 2017 begin deurloop het onder dreigemente en geïsoleerde voorvalle van intimidasie.

“In die afgelope twee jaar het die aantal en intensiteit van voorvalle drasties toegeneem tot die punt waar aanvallers nou wapens gebruik.”

Meer as 150 voorvalle van intimidasie, klipgooi en skietvoorvalle is sedert die begin van 2021 aangemeld. Daarby is busse van Intercape vanjaar alleen in 141 voorvalle geteiken.

“Daar was tot dusver vanjaar 92 voorvalle van intimidasie. Personeel is gedreig en vuurwapens is op passasiers gerig voordat hulle gedwing is om die busse te verlaat. Een busbestuurder is aangerand en in Mei het ʼn taxi-operateur gedreig om die passasiers te skiet,” het Ferreira gesê.

Daar is ook vanjaar reeds 30 voorvalle aangemeld waarin busse met klippe bestook is. Tien personeellede en twee passasiers is in die proses beseer.

Nie minder nie as 19 skietvoorvalle is intussen aangemeld.

Volgens Ferreira is bewyse, waaronder foto’s en videomateriaal, wat die aanvallers in sommige gevalle duidelik identifiseer sowel as die voertuie wat in die aanvalle gebruik is, aan die polisie oorhandig.

“Tot op hede was daar nie ʼn enkele inhegtenisneming nie.”

Die bestuur van Intercape dring nou daarop aan dat sekuriteitskameras op die brug naby die Intercape-depot in Kaapstad geïnstalleer word en dat alle voorvalle van geweld en intimidasie as misdade ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) ondersoek word.

“Ons is ʼn private maatskappy wat wettig funksioneer met al die nodige permitte, maar ons word onderwerp aan ʼn gesamentlike veldtog van geweld aan die hand van skelm taxiverenigings wat daarop ingestel is om busoperateurs uit sekere streke en van sleutelroetes te dwing.

“Hulle doen dit met vuurwapens en owerhede het niks gedoen om hierdie aanvalle te stop en bloedvergieting te voorkom nie. In plaas daarvan is daar pogings om ons te intimideer en te oorreed om betrokke te raak by ooreenkomste rondom prysstrukture en roetes wat neerkom op prysvasstelling. Dit is ʼn ernstige kriminele oortreding en Intercape weier om aan sulke dade deel te neem.

“Ons pleit by die private sektor en alle regdenkende Suid-Afrikaners om op te staan en hul stem te laat hoor teen hierdie blatante afpersing en boewery.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.