Intercape nader hof wéér oor aanvalle

Argieffoto van ‘n Intercape-bus (Foto: Intercape, Facebook)

Die langafstandbusoperateur Intercape het hom Donderdag weer tot die hooggeregshof in Grahamstad (Makhanda) gewend, met ʼn dringende aansoek om die polisie en die nasionale en provinsiale verkeersowerhede te dwing om aandag te gee aan die gewelddadige aanvalle op sy busbestuurders en -passasiers.

Intercape het verlede jaar met dieselfde aansoek hof toe gegaan, waar die hof toe ten gunste van die operateur beslis het. Drie maande later is nog niks egter van die regering of polisie se kant gedoen om die veiligheid van busbestuurders op te skerp nie. Inteendeel, talle aanvalle op Intercape-busse is sedert Januarie aangemeld.

ʼn Bus is Woensdagaand by die Penhoekpas op die N6-snelweg in die Oos-Kaap aangeval, waartydens ʼn passasier geskiet en gewond is. Die bus was van Gqeberha op pad na Pretoria.

Intercape-personeel is dieselfde dag in Idutywa, Oos-Kaap, herhaaldelik deur taxi-operateurs gedreig. Die N2-snelweg naby Idutywa is ook ure lank deur lede van plaaslike taxi-verenigings versper om te verhoed dat die Intercape-busse hul roetes voltooi.

Intercape het die afgelope jaar al meer as 150 sake in die Oos-Kaap aanhangig gemaak in verband met die aanvalle, maar nog nie ʼn enkele inhegtenisneming is gemaak nie.

“Die minister van vervoer het sedert die hof se beslissing nog nie ʼn aksieplan ontwikkel wat aan die vereistes van die hofbevel voldoen nie,” sê Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape.

“Na vele versoeke dat die polisie moet ingryp, is polisielede slegs 20% van die tyd sigbaar in sleutelaflaaipunte in die Oos-Kaap. Die res van die tyd word ons aan ons eie genade oorgelaat,” sê Ferreira.

Die maatskappy het in Januarie sy eie private sekuriteitsbeamptes in brandpuntdorpe in die Oos-Kaap ontplooi, maar moes middel Februarie onttrek omdat die maatskappy dit nie meer kon bekostig nie. Dit het die maatskappy meer as R1 miljoen (sowat R45 000 per dag) uit die sak gejaag.

“Die oomblik toe die beamptes onttrek is, het die intimidasie weer begin.”

Gevaarsones

Intercape het in Januarie bedrywighede hervat in vyf Oos-Kaapse gebiede wat gevaarsones geword het nadat taxi-verenigings busdienste daar tot stilstand gedwing het. ʼn Aksieplan is opgestel en dienste in gebiede soos Cofimvaba, Butterworth, Engcobo, Tshomo en Idutywa is hervat.

“Die busdienste is met ope arms deur hierdie gemeenskappe ontvang, maar die taxi-verenigings het duidelik gewys dat hulle nie daarvan hou dat ons dienste weer in hierdie gebiede hervat word nie. Ons het reeds onder geweld en intimidasie deur die verenigings deurgeloop, sonder die regering se hulp om dit stop te sit.”

Intercape-busse is in Januarie en Februarie in van hierdie gebiede met klippe bestook, gedreig en selfs weggejaag.

“Hierdie voorvalle het plaasgevind ten spyte daarvan dat Intercape die plaaslike polisie ingelig het oor wanneer die busse in hierdie gevaarsones aankom en vertrek. Polisiebeamptes was nêrens te sien nie.”

Ferreira vra ook dat ondernemings en die privaatsektor, asook die gemeenskap, moet ingryp.

“Ek smeek alle Suid-Afrikaners om op te staan en die regering aan te moedig om ʼn einde aan hierdie anargie te bring. Hoe kan ons toelaat dat kriminele onskuldige mense skiet?

“Hierdie wetteloosheid beïnvloed nie net Intercape nie, maar ook verskeie sektore en lede van die publiek. Teen hierdie trant gaan boosdoeners later die septer in die land swaai. Veral as die regering ʼn blinde oog vir hul dade draai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

M ·

Gegewe die situasie rakende Kartel-eienaars, wonder mens of die Taxi- bedryf nie ook maar onder beheer is van ‘n “Senior lid” nie. Laat my wonder daaroor, na aanleiding van die berig.

Frank ·

Sluit dit aansoek in om die Minister in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou vir skade en veronagsaming van hofbevelle?

Cherokee ·

Minister van Vervoer behoort gedagvaar te word vir verontagsaming van ‘n wettige bevel.
En die busse moet toegerus word met grawe soos ‘n stootskraper. En vierwielaandrywing.

Pietertjie ·

Die laaste paragraaf som dit mooi op: kriminele swaai die septer in hierdie land. En die stemvee besef dit nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

*Newsflash* die regering is die kriminele en die kriminele is die regering. Taxi-base het die regering in hulle sakke, just follow the money!

Jack ·

As ek Interkaap se MD was sou ek onmiddelik alle dienste na die Ooskaap staak asook enige area waar my busse geteiken word.Die regering steur hulle nie aan howe nie.

Nici ·

Klink asof elke regeringsafdeling bestuur word soos ‘n mafia staat.

LANA is ELANè ·

Same old same, hier die man staan nie kans nie, want daar is hopeloos te veel geld onder die tafel wat maak dat die minister van vervoer wegkyk en selfs bereid is om hofbevelle te verontagsaam. Hoe bedryf mens ñ besigheid waar al jou pleidooie op dowe ore val?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.