Intercape: Regering voel vere oor misdaad – DA

Intercape-busse. (Foto: Intercape/Facebook)

“Die regering se oënskynlike laksheid oor misdaad en die direkte uitwerking wat dit op die openbare vervoerbedryf het, word bevestig deur die voortslepende aanvalle op langafstandbusoperateurs.”

Só sê Chris Hunsinger, die DA se woordvoerder oor vervoer, oor die vlaag aanvalle op busoperateurs soos Intercape die afgelope paar jaar.

Die DA het Donderdag sy steun gegee vir Intercape se besluit om Bheki Cele, minister van polisie, hof toe te sleep weens die polisie se “versuim” om die aanvalle op sy busse stop te sit. Hy beplan om die kwessie “vir dringende bespreking” by die volgende parlementêre portefeuljekomiteevergadering ter tafel te lê.

“Aangesien duisende Suid-Afrikaners oor lang afstande moet reis, eis ons dat Cele en die inkomende minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, dadelik ʼn veiligheidsplan in werking stel,” sê Hunsinger.

Weens die aanvalle in die Oos-Kaap het Intercape reeds miljoene rande verloor en is talle van sy passasiers gestrand gelaat.

“Dit is onrusbarend dat daar die afgelope paar weke reeds 14 aanvalle op busse uitgevoer is.”

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, sê dat busse in hierdie aanvalle met klippe bestook is, passasiers en bestuurders geïntimideer is en daar selfs skote op busse afgevuur is. Minstens drie mense is sedert Maart gewond deur skote wat op Intercape se busse afgevuur is en nog twee is erg aangerand.

Nog niemand is in hegtenis geneem weens die aanvalle nie en daar is geen hangende vervolgings nie, ondanks die feit dat meer as 160 sake die afgelope drie jaar aanhangig gemaak is.

Intercape het al by verskeie geleenthede hofbevele bekom om die polisie en die nasionale en provinsiale vervoerowerhede te dwing om werk te maak van die gewelddadige aanvalle op sy busbestuurders en passasiers.

“Dit is verregaande dat enige onderneming sulke drastiese stappe moet doen om die beskerming en ingryping van die minister van polisie te verseker,” sê Hunsinger.

Volgens die DA het Cele en die voormalige minister van vervoer, Fikile Mbalula, klaarblyklik tou opgegooi en die langafstandbusoperateur en sy passasiers aan die genade oorgelaat.

“Georganiseerde misdaad word toegelaat om te floreer in die afwesigheid van polisieoptrede en dit kan ernstige gevare vir beleggersvertroue inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johanna ·

Daar Gaan niks van Kom NIE. Hulle almal het n paar luukse mothers en wagte wat belastingbetalers Moet betaal. Bekommer
Hul net oor die taxis. Hul dink NIE DAT daar mense is wat NIE die luukse Kan bekostig nie

Frans ·

Die gesloer wek die indruk dat van die polsielede dalk betrokke by die aanvalle kan wees of net wegkyk wanneer dit plaasvind

Samuel ·

Hoe kan ons verwag dat die Mafiabase teen hulle handlangers sal optree? Die misdadigheid hoort mos so.

CHRISTINE ·

Dis omdat die huidige regerende party vir hulle die voorbeeld stel.

domheks ·

Taxi eienaars sit dalk in die parlement. Dit is hoekom daar GEEN optrede van polisie se kant af is nie.

Eugene ·

Ramp-phosa regering keur geweld goed en het deel daar in. Hoedman is useless.

Elméne ·

En dan word die media “oorlaai” met boodskappies van HOE GOED die DA / HOE HULLE dan kwansuis genoeg SAPs personeel het om “misdaad” te beveg en te beheer??? Afgesien van Inter Cape se probleme, hoekom gaan, o.m. Kaapstad so gebuk onder die “bende geweld”?????? Ek meen ek VRA maar net.

Francois ·

Wonder hoeveel betaal die taxi base ons minister om anderpad te kyk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.