Interdik bekom om geweld by myne te verhoed

Die Beatrix-myn. Foto: Sibanye-Stillwater

Sibanye-Stillwater het Donderdagaand gesê hy het ʼn dringende interdik by die arbeidshof bekom teen twee botsende vakbonde, die National Union of Mineworkers (NUM) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), in ʼn poging om verdere geweld by sy myne in die land te voorkom.

Dit het gevolg nadat talle werkers wat met die twee vakbonde geaffilieer is koeëlwonde en steekwonde opgedoen het by die Beatrix-myn in Welkom en die Kloof-myn in Johannesburg. Minstens een werker is dood gedurende gewelddadige onderonsies nadat Amcu-lede Woensdagnag begin staak het.

Sibanye se interdik verbied die vakbonde en hul lede om aan enige vorm van geweld, teistering of intimidasie deel te neem; om ander werknemers te verhoed om werk toe te gaan; en om met die maatskappy se diensverskaffers, verskaffers of kliënte in te meng.

Neal Froneman, Sibanye se uitvoerende hoof, sê hy is verlig dat nie-stakende werkers nou in staat is om terug te keer werk toe sonder dat hulle gedreig word. “Ons is verlig dat ons die interdik gekry het sodat nie-stakende werknemers hul reg om te werk kan uitoefen, op dieselfde manier wat ons Amcu se reg om te staak gerespekteer het,” het Froneman gesê.

“Die veiligheid van ons werknemers is ons eerste prioriteit. Ons hoop dat die vlakke van intimidasie en geweld wat ons bedrywighede beïnvloed het sedert die aanvang van die staking nou sal afneem en dat ons verdere tragiese voorvalle kan verhoed. Ons wil al ons aandeelhouers bedank wat die interdik ondersteun het in die beste belang van alle werknemers se veiligheid.”

Froneman het gesê meer inligting sal mettertyd gedeel word rakende die maatskappy se bedrywighede. Maroela Media het vroeër berig Sibanye het reeds al sy nagskofte opgeskort vir die tydperk van die staking om die veiligheid van werknemers te verseker.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het vroeër Donderdag gesê hy het aan die ministers van minerale hulpbronne en polisie geskryf en hulle versoek om dringend in te gryp en verdere eskalering van geweld te verhoed.

Ongeveer 15 000 Amcu-lede het Woensdag om middernag met ʼn beskermde staking by Sibanye begin nadat onderhandelings tussen die vakbond en werkgewer vasgeval het. Die vakbond eis ʼn minimumloon van R12 500 per maand, met ʼn R1 000 aanwas elke jaar vir die volgende drie jaar. Sibanye het verlede week met drie ander vakbonde ooreenkomste onderteken wat ingestem het tot kleiner pakkette as waarop Amcu aandring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.