Die arbeidshof het Donderdag tydelik ʼn interdik goedgekeur teen ʼn staking van lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) by die lugredery Comair Limited, maar het uitspraak voorbehou in die saak.
Comair het die uitspraak verwelkom en Numsa-grondpersoneel moet terugkeer werk toe. Numsa se staking het Donderdag om 13:00 begin.
Die lugredery, wat handel dryf as ʼn laekostelugredery onder sy handelsmerk kulula.com en plaaslike roetes as ʼn British Airways-filiaal bedryf, het die arbeidshof genader ná Numsa Dinsdag ʼn 48-uur-stakingskennisgewing ingedien het oor ʼn loondispuut.
Die dispuut hou verband met salarisafwykings vir 21 werknemers wat voor 2009 aangestel is en ʼn hoër salaris verdien as die ooreengekome salarisskaal. Numsa verteenwoordig net meer as 50% van Comair se 700 lughawe-grondpersoneel uit ʼn algehele personeelkorps van 2 200.
Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur vir die lughawensafdeling van Comair, het gesê die maatskappy wou ʼn interdik bekom om seker te maak dat sy passasiers hul bestemmings oor die Paasnaweek bereik.
“Ons heg baie waarde aan ons werknemers en ons respekteer hul reg om te staak, maar ons verkies altyd om eerder ʼn oplossing te kry tot voordeel van albei partye. Ons sal steeds in gesprek bly met die vakbond,” het Stander gesê.
Comair het omvattende gebeurlikheidsplanne in plek gestel indien die staking sou voortgaan. Dit sluit in om vrywilligers uit die bedryf te kry om bystand te lewer by lughawens; om klante betyds te kontak om seker te maak hulle kan inboek; en bykomende toonbanke waar bagasie vinnig afgelewer kan word.
Stander het gesê alhoewel die staking nie mag voortgaan nie, bly die Paasnaweek altyd ʼn besige tydperk om te reis. “Ons moedig klante aan om aanlyn in te boek of van die kiosk by die lughawe gebruik te maak.”
Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, het gesê die vakbond se lede sal terugkeer werk toe, maar het gewaarsku dat die “stryd nog nie verby is nie”. “Ons moet dit duidelik stel dat, alhoewel ʼn interdik teen die staking bekom is, dit nie beteken die saak is verby nie. Die dispuut is nog nie opgelos nie. Dit is ʼn uitgerekte kwessie wat die bestuurspan by Comair veroorsaak het. Die bestuurspan het versuim om leierskap en visie te toon om die kwessie op te los.”
Hlubi-Majola het gesê die vakbond herhaal sy versoek dat die bestuur met hulle in gesprek moet tree om die probleem op te los. “Hulle is die mense wat werkers onregmatig hoë salarisse betaal het.”
Volgens hom sal Numsa en Comair Donderdag weer vergader, aangesien die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie versoek het om in te gryp.
Hofbevel. Wat is minagting van die Hof. Ministers ignoreer dit. En kom niks oor nie. Vakbonde ignoreer dit. En kom niks oor nie. Dit is net ek en jy wat moeilikheid het as ons ‘n hof minag
So asof die unies ‘n snars omgee vir enige wette en hofuitsprake.
Maak die plek toe en verkoop alles .