Interdik gevra teen EFF oor standbeelde

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Solidariteit Beweging sal Dinsdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof aansoek doen om ʼn interdik teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) te bekom in ʼn poging om verdere standbeeldskending te verhoed.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, nader die beweging die hof om ’n interdik teen die EFF en sy leierskap te bekom om die verdere aanhitsing van sy lede en die publiek om enige standbeelde in die land te beskadig of te verwyder, te verbied.

Kruger het gesê hierdie aksie is in belang van die Afrikaner-kultuurgemeenskap sowel as in die groter openbare belang. “Die ontsiering en beskadiging van standbeelde wat ’n bepaalde deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verteenwoordig, is ’n uiters emosionele saak. Hierdie soort optrede is verdelend en veroorsaak spanning tussen kultuurgemeenskappe en rassegroepe,” het hy gesê.

Volgens Kruger bestaan daar ’n direkte verband tussen die aanhitsing deur die EFF-leierskap en die vandalisering van standbeelde. “Die roekelose aanhitsing deur die EFF word telkens gevolg deur ontsiering en beskadiging van standbeelde. Die EFF aanvaar telkens verantwoordelikheid vir hierdie dade terwyl hy deeglik daarvan bewus is dat dit ’n misdaad is.”

Talle standbeelde is in die afgelope paar weke deur vandale geskend, wat die standbeelde van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria en in Krugersdorp, Koningin Victoria en die perdegedenkbeeld in Port Elizabeth in die Oos-Kaap, Andrew Murray in Wellington in die Wes-Kaap, Louis Botha voor die parlement in Kaapstad en Mahatma Ghandi in Johannesburg insluit.

Alhoewel die EFF nie openlik verantwoordelikheid vir die vandalisme aanvaar het nie, het hy wel gesê dat hy die skending van die standbeelde ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.