Interdik ingedien om Wildekus te beskerm

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Vier omgewing- en menseregte-organisasies het vroeër vandeesweek ʼn dringende interdik teen Shell ingedien om te verhoed dat die olie- en gasreus met seismiese opnames aan die Wildekus voortgaan. Shell het intussen gesê sy planne is wettig en dat omvattende omgewingstudies gedoen is alvorens die projek van stapel gestuur is.

Die saak is Woensdag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) aangehoor. Shell sou reeds op dié dag met sy opnames aan die seebodem begin het.

Border Deep Sea Angling Association, Kei Mouth Ski Boat Klub, Natural Justice en Greenpeace Africa word deur die omgewingsregsfirma Cullinan & Associates verteenwoordig.

Volgens Happy Khambule, senior klimaat- en energieveldtogbestuurder by Greenpeace Africa, het die hof Donderdag uitspraak voorbehou. Die regter sal na verwagting vroeg Vrydagoggend uitspraak lewer.

Die organisasies het in ʼn gesamentlike verklaring gesê Shell se bedrywighede – wat vanaf Morgansbaai tot by Port St. Johns sal strek – is onwettig totdat hy aansoek doen om die nodige omgewingsmagtiging ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) te verkry.

“Ons glo ook dat die besluitnemingsproses op onregverdige administratiewe optrede neerkom aangesien belanghebbende en geraakte partye nie ingelig is oor die toekenning van die eksplorasiereg of geleentheid gebied is om daarteen te appelleer nie,” lui die verklaring.

“Die publiek is ook nie in kennis gestel van die twee aansoeke om die eksplorasiereg te hernu nie.”

Talle organisasies en politieke partye het sedert Shell se planne aan die lig gekom het, beroepe op die minister van bosbou, visserye en omgewing en haar eweknie by minerale hulpbronne en energie gedoen om dit stop te sit.

Dié departement het egter aangevoer dat Shell destyds in 2014 deur die nodige prosesse en goedkeuring gegaan het.

Shell sê planne wel wettig

Shell het intussen gesê sy planne om seismiese opnames te doen, is wel deur die nodige owerhede goedgekeur en dat ʼn wettige permit bekom is.

Hy voer ook aan ook dat ʼn breedvoerige omgewingstudie gedoen is en daarvolgens is besluit om ʼn gebied af te baken wat buite die omgewing is waar walvisse normaalweg in Suid-Afrika migreer.

Kenners het reeds die vrees uitgespreek dat Shell se aktiwiteite onherstelbare skade aan die seelewe en omgewing kan aanrig.

Om te verhoed dat enige skade aan seelewe gedoen word, sal ʼn onafhanklike spesialisspan aan boord die Amazon Warrior – wat hierdie opnames gaan fasiliteer – wees. Hulle sal die teenwoordigheid van seediere voor en tydens die seismiese aktiwiteit monitor.

“Die teenwoordigheid van seediere sal deurlopend 24 uur per dag gemonitor word deur ʼn passiewe akoestiese moniteringstelsel. Dit is ʼn stel hidrofone wat in die water geplaas word om mariene soogdiere se vokalisering waar te neem,” sê Shell.

“Enige seismiese aktiwiteit sal slegs begin indien geen walvisagtige aktiwiteit binne die uitsluitingsone vir ʼn tydperk van 60 minute waargeneem word nie.”

Die klankgolwe wat afgevuur gaan word, sal glo oor ʼn periode van 20 minute geleidelik harder word.

“Die opname sal gestaak word sodra ʼn seesoogdier binne die 500 m van die afgebakende gebied om die klankbron kom.”

Woede heers steeds

Politieke partye het onder andere gesê dat nuwe openbare deelnames en ʼn bygewerkte omgewingstudie egter steeds van stapel gestuur moet word, aangesien ʼn aantal faktore sedert Shell se aanvanklike aansoek verander het.

“Dit is belaglik dat die regering dit selfs net oorweeg om vir gas- en oliereserwes aan die bodem van die sensitiewe Wildekus te soek. Soveel te meer in ʼn ontwikkelende en ‘groener’ wêreld wat stelselmatig oorbeweeg na hernubare energie,” sê John Luef van die Border Deep Sea Angling Association.

“[Shell se planne] weerspreek die regering se verantwoordelikheid om die omgewing te beskerm,” meen Pooven Moodley, uitvoerende direkteur van Natural Justice.

“Dit ondermyn ook ons regering se verpligtinge ingevolge die Parys-klimaatooreenkoms om die klimaatkrisis vir mense nou en vir toekomstige geslagte te mitigeer. Dit weerspreek ook die beloftes wat onlangs by die COP26 in Glasgow gemaak is om emissie te verlaag en ʼn oorgang na hernubare energie te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris dupreez ·

En hoeveel geld het die anc gekry om dit goed te keur

casper ·

Jy moet weet dat Shell al sedert die sestiger jare die ANC steun.
Weet ook dat die huidige Lootfreely House in Johannesburg eers Shell House was.
Dan word dinge sommer baie duideliker ne !!!

casper ·

Permissies vir eksplorasies het gewoonlik ‘n tydperk waarvoor dit geldig is.
Sedert 2014 goedkeuring en nou nog geldig klink vir my baaaie onwaarskynlik !!!!

JohanR ·

Moet die betrokke ANC ministers nou die om koop geld terug gee?

Shakespeare ·

Wettige toestemming by die “owerheid” moet entlik “onderduimsheid” lees. BAIE geld om te aas deur die “owerheid”.

annie ·

Nêrens op aarde werk ‘n maatskappy binne ‘n land se wettige kuslyn sonder daardie regering se goedkeuring nie. Shell het goedkeuring. Die ANC jok anders sal Shell nie so manhaftig wees nie. Almal beskerm die Wlde Kus en die Oos-Kaap. ‘n Atoomkragstasie word vir Thyspunt beplan. Wat gaan hierdie selfde groen-bewaringsbende daaromtrent doen?

Janice ·

Iets gaan net gebeur as die inwoners self inspring en iets doen. Ek bly aan die Wildekus en ons het van geen sout of water geweet nie, maar toe die inwoners snuf in die neus kry, toe spring almal hier in om te help.

Di ·

Die korrupte ANC sal alles goedkeur ongeag die verwoesting wat dit aan die seelewe sal versoorsaak. Solank hulle geld kan inpalm sal dit nooit stop totdat daar NIKS oor is in die land nie. Geldgierige VERWOESTERS

Kaptein ·

As walvisagtige lewe binne 500me kom sal toetse gestaak word. Klank trek verder as 500me onder water. Dan is die skade klaar gedoen. Ons loop nie almal met n shell op ons oor nie. Die anc ministers hier betrokke kry al van 2014 af sommetjie geld en kan dit nie nou meer kry nie. Maar ons as inwoners van Suid Afrika kan nie saamstaan nie. Kyk maar net hoeveel motoriste het volgemaak met Shell tydend die laaste prys verhoging.

Dirk Mostert ·

Maroela Media. Hierdie en die vorige berig deur dieselfde skryfster IS NIE GEBALANSEERD NIE. Dis groen propaganda. My kommentaar word gesensor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.