Interdik teen Distrik Ses-grondbesetters

Die stad het ‘n hofbevel teen die besetters bekom. (Argieffoto ter illustrasie: City of Cape Town/Facebook)

Die Stad Kaapstad het ʼn dringende hofbevel bekom teen ʼn groep mense wat grond in die voormalige Distrik Ses onregmatig beset.

Die Distrik Ses-restitusieproses word gelei deur die nasionale regering en daar was tot dusver talle vertragings. Die grond is geoormerk vir begunstigdes wat deur die apartheidsregering van die grond afgeskop is.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê ʼn suksesvolle en grootskaalse besetting van die grond gaan ʼn rampspoedige uitwerking op die duisende restitusie-begunstigdes hê.

Volgens die stad beoog nog ʼn groep mense boonop om verdere gedeeltes van Distrik Ses, asook grond in die sentrale deel van Kaapstad, te beset.

Plato sê daar was ook bewerings van doelbewuste politieke aanhitsing wat ondersoek word.

Die tussentydse bevel verbied toegang tot eiendomme met die doel om dit onwettig te beset, die oprig van enige strukture, die besetting van vakante strukture op eiendom, asook enige intimidasie, teistering of dreigemente teen amptenare, raadslede of wetstoepassers.

Die bevel laat die stad ook toe om enigiemand wat die bevel oortree, te verwyder en enige onvoltooide of onbewoonde strukture te vernietig.

“Ons verwelkom die toestaan van die interdik teen die onregmatige pogings om Distrik Ses te beset. Die stad is in verbinding met alle grondeienaars in die gebied en die owerhede bly op ʼn hoë gereedheidsgrondslag,” sê Plato.

“Ek het onlangs met die Distrik Ses-werkkomiteee vergader wat verbind is daartoe om die grond te beskerm en saam met die stad te werk om te verseker dat die restitusieproses sonder enige onnodige vertragings voortgaan.

“Die stad gaan alles moontlik binne die voorskrifte van die wet doen om steeds die regmatige begunstigdes van Distrik Ses te beskerm.”

Volgens die stad was daar reeds kleiner pogings om die grond onwettig te beset.

Die Covid-19-regulasies en twee onlangse hofsake oor uitsettings maak dit egter vir die stad moeilik om onwettige besettings te verhoed. Plato sê die regulasies word misbruik en veroorsaak ʼn krisis in stede landwyd.

Die stad het ook weer gevra dat die nasionale ramptoestand opgehef word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Nie lank nie dan is Distrik Ses net een groot, vuil stinkende squatter kamp! Al gesien hoe die tente op die middle mannetjie in Strand straat staan? Wag vir die dag waaneer ‘n taxi en ‘n bus bots, buite beheer raak, die middle mannetjie tref en daar ‘n hele paar sterftes is. Miskien dan sal die DA ietsie doen. Jy kan nie mense op ‘n middle mannetjie laat bly nie, en aan weers kante vlieg karre, busse en taxi’s verby. En dan wil hulle he jy moet ‘n woonstel koop, en IN die vuil stad bly! Kaapstad sal eendag soos die middestad van Pretoria wees. NIEMAND wil daar werk of bly nie.

Persheks Adri ·

Tipies van die klomp om net alles te wil hê. O tog nou kry apartheid weer die skuld ek’s so moeg vir die verskoning ek kan iets oorkom! Gaan werk bietjie vir wat julle hê magtag niks is vir mahala nie

Danie ·

Wel niemand sal binnekort ook nie eens in die dorpe ver van die Kaap af wil woon nie.
Al gesien hoe lyk n plek soos Somerset Wes byvoorbeeld?
Laas wat ek getel het was daar 16 tent struture met gepaardgaande gemors wat plakkers bymekaarmaak opgerig op die publieke oopruimte reg oorkant die polisiestasie.
Somerset Wes net soos sy buurdorp Stellenbosch is vervuil van dromkrappers/bedelaars/bosslapers.
Jou empatie en wil om te help droog onmiddelik permanent op indien jy sien hoe hulle die dorp bemors en hoe absoluut niks die munisipaliteit en sy wetstoepassingsbeamptes daaromtrent doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.