Interdik teen invordering van onwettige heffings, belastings

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Die sakeorganisasie Sakeliga en plaaslike verteenwoordigers het Donderdag ʼn tussentydse interdik bekom teen die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in Noordwes en ʼn diensverskaffer. Die interdik verbied die verdere onwettige invordering van munisipale heffings, belastings en gelde vir riool- en vullisverwydering.

Die tussentydse interdik is bekom hangende die hoofaansoek om Kgetlengrivier (Swartruggens/Koster) se besluit – om ʼn diensverskaffer toe te laat om heffings, belastings en ander gelde in die diensverskaffer se eie bankrekening, in plaas van die munisipaliteit s’n, in te samel – te hersien en ter syde te stel.

“Met hierdie aanvanklike hofbevel is groot skade vir plaaslike ondernemings en die gemeenskap verhoed,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê. “Ek is bly dat Sakeliga ʼn plaaslike sakegemeenskap op hierdie wyse kon bystaan, deur aan hulle ʼn nasionale ondersteuningstruktuur wat vinnig en doeltreffend kan optree te bied. Munisipaliteite met goed-georganiseerde sakegemeenskappe gaan ongetwyfeld veel beter vaar gedurende die volgende paar jaar in Suid-Afrika as die wat dit nie het nie.”

Sakeliga en inwoners het ʼn semi-dringende aansoek vir tussentydse regshulp in die hoë hof in Mahikeng gebring nadat dit onder die aandag van Sakeliga en gemeenskapsleiers gekom het dat die munisipaliteit op onwettige wyse met ʼn derdeparty kontrakteer om beheer van die munisipaliteit se invordering van heffings, belastings en gelde oor te neem. Van groot sorg vir Sakeliga was die opdrag van die munisipale bestuurder aan inwoners om betaling van hul munisipale rekeninge te doen in die bankrekening van die diensverskaffer, in weerwil van verbiedende bepalings in die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Binne hierdie alternatiewe stelsel van inkomsteverhaling het die munisipaliteit die reg van inwoners om dispute oor hul munisipale rekeninge te verklaar misken en nagelaat om behoorlike fakture aan inwoners te verskaf. Die alternatiewe stelsel het boonop op growwe wyse inbreuk gemaak op die gemeenskap se staande dispuut met die munisipaliteit oor eiendomsheffings wat onwettiglik vanaf 2010 tot 2014 gehef is, nieteenstaande ʼn swaarverdiende hofoorwinning deur die plaaslike belastingbetalersvereniging in 2018.

Die hof het vandag die munisipaliteit opdrag gegee om die gemeenskap onmiddellik in kennis te stel dat betaling vir munisipale dienste, uitgesonder voorafbetaalde elektrisiteit, slegs in die rekening van die munisipaliteit gedoen mag word en nie in die rekening van ʼn derdeparty nie.

Die hof het ook die munisipaliteit beveel om onmiddellik sy opdrag aan derdepartye, om gelde namens dit in te vorder, te staak, behalwe in die geval van voorafbetaalde elektrisiteit.

Ten slotte het die hof ook die munisipaliteit opdrag gegee om betaling vir munisipale dienste, heffings en belastings slegs in te vorder nadat kliënte van ʼn faktuur voorsien is.

Die hofbevel verhoed nie die invordering van betalings vir voorafbetaalde elektrisiteitsdienste via ʼn derdeparty nie. “Alhoewel hierdie toegewing oor voorafbetaalde elektrisiteit in ooreenstemming is met Sakeliga se bede aan die hof, is die munisipaliteit se gebruik van derdepartydiensverskaffers die onderwerp van voortgesette ondersoek deur Sakeliga se regspan,” het Armand Greyling, regspraktisyn by Sakeliga, bygevoeg. “Ons verwelkom inligting deur lede van die publiek met kennis van soortgelyke onwettige kontrakte vir die invordering van munisipale heffings, belastings en elektrisiteitsbetalings in enige munisipaliteit in Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George in Bloem ·

Wat is die punt daarvan om enige kommentaar te lewer? As ek se wat eintlik moet gese word,word dit deur MM gesensor. So much for free speech.

sarie van heerden ·

Ek is sonder enige verduideliking summier verwyder van Maroela media se blad en kan dus geen kommentaar lewer nie. Ek kyk maar nt.

Stephan de S ·

Hierdie hofbevel is n geweldige bemoediging vir andere wat so deur korrupte stadsrade-en-vaders skaamteloos misbruik word. Wie weet wat alles ten goede nog hieruit gaan voortvloei…….dit kan help om ons geleidelik meer en meer te ontworstel v onderdrukkende en gewetenlose owerhede….op watter vlak ookal. Dankie AF en Solidariteit vir die onvervangbare diens en hoop wat jul bring met julle aksies…….dikwels te midde v groot venyn en jaloesie. Ek dink ook met dankbaarheid aan die groot koste wat jul aangaan om al die sg sittings vd NGV te monitor. Alles bymekaar getel kry ek uitstekende rente op my klein belegging in julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.