Interdik teen seismiese opname bly

Kleinskaalse vissers het ook Maandag voor die hof betoog. (Foto: Verskaf)

ʼn Hofaansoek deur die Australiese maatskappy Searcher Geodata om die interdik teen sy seismiese opname aan die Weskus op te hef, is Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof van die hand gewys.

Die aanvanklike interdik wat verlede week aan die niewinsgewende organisasie The Green Connection en bestaansvissermanne toegestaan is, bly dus van toepassing totdat die meriete van die saak op 7 Maart aangehoor word.

Searcher se bedrywighede op die seebodem in sy soeke na gas en olie sal tot dán op ys bly.

Liziwe McDaid, The Green Connection se strategiehoof, het gesê regter Daniel Thulare het in hul guns beslis ná “ongelooflike gespanne” hofargumente van albei kante.

Die applikante was aanvanklik bekommerd dat Searcher ondanks die interdik steeds sal voortgaan met sy bedrywighede nadat bewyse daarvan glo aan die lig gekom het. Die jongste uitspraak het egter verseker dat dit nie die geval is nie.

“Ons is uiters tevrede met die uitkoms en dat die verbod op Searcher se bedrywighede staande bly. Ons is bly dat die wet weer eens aan die kant van kleiner bestaansvissermanne is wat deurlopend veg vir hul reg om self oor hul eie lewensbestaan ​​te besluit,” sê sy.

“Ons is van mening dat ontwikkeling nie vooruitgang is as dit ons ryk, dog delikate mariene ekosisteme bedreig of in gevaar stel en dan ook nog die risiko loop om duisende van hul lewensbestaan, ​​wat oor generasies heen opgebou is, te ontneem nie.”

ʼn Aantal kleinskaalse vissers het ook Maandag ʼn betoging buite die hof gehou waarin hulle gevra het dat die regering se planne om skadelike olie- en gas-eksplorasie op die seebodem te onderneem, beëindig moet word.

Christian Adams, ʼn bestaansvisserman van Steenberg’s Cove in St. Helenabaai en ook ʼn applikant in die saak, sê hulle het nog geen steun van die regering ontvang met betrekking tot die saak teen ʼn internasionale sakeonderneming nie.

“Daar was geen verwysing daarna tydens vanjaar se staatsrede nie, selfs al word kleinskaalse vissers steeds bedreig deur besluite wat deur die departement van minerale bronne en energie geneem word. Selfs die departement van bosbou, visserye en omgewingsake bied geen ondersteuning nie,” sê hy.

“Maar, net soos met die Shell-debakel verenig die Searcher-saak kleinskaalse- en bestaansvissermanne, asook inheemse mense wat te lank in hierdie land gemarginaliseer is. Ons weet die wet is aan ons kant.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Op die einde van die dag sal ons sien wie wen, integriteit of geldmag.

Di ·

Nee wat ek hou nie my asem op nie. Die ANC Kaders sal SORG dat dit goedgekeur word, hulle soek GELD!

Elmarie ·

Ai die baklei teen omgewingsopneukers hou net nooit op nie!

Casper ·

Plaas voertsek hulle terug Australië toe en los ons pragtige natuurskoon en see lewe uit.Ek weet wat kan hulle gaan boor.

Delia ·

Auz…gaan boor by julle eie Golden Coast en neuk julle eie Sea World en marine lewe op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.