Interdik wink oor skoolhoof

Anton Prinsloo, hoof van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion, is deur die departement van onderwys in Gauteng uit sy pos verwyder en by die distrikskantoor in Gauteng geplaas.

Die beheerraad van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion oorweeg om ʼn interdik te bekom sodat die skoolhoof verwyder kan word uit sy pos en die besluit van die departement van onderwys, om dr. Anton Prinsloo weer in sy pos terug te plaas, hersien kan word.

Maroela Media het vroeër berig ouers van die hoërskool was verslae nadat Prinsloo, teen wie verskeie klagtes van boeliegedrag aanhangig gemaak is, heraangestel is as hoof van dié skool. Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het egter Woensdag gesê ondersoeke na Prinsloo kon niks wesenliks oplewer nie en hy is opdrag gegee om terug te keer na die skool.

Prinsloo is in Mei vanjaar by die distrikskantoor in Gauteng geplaas. “Bewerings van boeliegedrag en viktimisering het ’n onafhanklike ondersoek tot gevolg gehad,” het Mabona in daardie stadium aan Maroela Media gesê. “Uit die ondersoek het die aanbeveling gekom dat die hoof as voorsorgmaatreël na die distrikskantoor oorgeplaas word terwyl die dissiplinêre prosesse afgehandel word.”

Die adjunkhoof, Dave du Plessis, het in die amp waargeneem terwyl die ondersoek voortgeduur het.

ʼn Dringende algemene ouervergadering het Donderdagaand plaasgevind. “Die ouergemeenskap van Hoërskool Eldoraigne het hul oorweldigende steun aan die skool se beheerliggaam verleen om voort te gaan met regstappe teen die departement van onderwys,” lui ʼn omsendbrief deur die beheerliggaam aan die ouers. “Met hierdie regsaksie wil die skool se beheerliggaam dit baie duidelik maak dat die regte van personeel en leerders, veral om in ʼn emosioneel-veilige omgewing te werk en skool te gaan, ʼn prioriteit is – geskoei op die fundamentele menseregte, soos vervat in die Nasionale Grondwet.”

Maroela Media verneem uit ʼn aanlyn opname van 1 003 ouers wat intussen gedoen is, het slegs drie ouers ten gunste van Prinsloo in die pos gestem.

Hoërskool Eldoraigne (Foto: Hoërskool Eldoraigne/Facebook)

ʼn Anonieme bron het Saterdag aan Maroela Media gesê die beheerliggaam wil ʼn dringende interdik bekom om Prinsloo uit sy pos te verwyder en te versoek dat die besluit van die departement hersien sal word. “Die verloop van gebeure sedert November 2019 sal in die hofdokumente bekendgemaak word,” het hy gesê. “Dit is vir ons baie belangrik om ʼn emosioneel veilige omgewing te skep vir die kinders en die onderwysers.”

Volgens ʼn verslag wat opgestel is tydens die ondersoek is daar bevind 155 onderwysers het die afgelope vyf jaar by die skool bedank. Dit is in vergelyking met tussen 35 en 42 onderwysers by die twee naburige Afrikaanse skole. “Die afgelope kwartaal, waartydens Du Plessis waargeneem het, was daar geen bedankings nie,” het die bron bygevoeg.

Volgens hom wou die departement ook nie die dokument aan die beheerliggaam verskaf wat die redes aandui waarom die voorlopige skorsing opgehef is nie.

Maroela Media verneem van die ouers beplan ʼn samekoms by die skool om hul ontevredenheid uit te spreek teen die heraanstelling van die hoof. Hulle moet egter eers toestemming by die Tshwane-metro bekom voor enige betoging gehou mag word.

“Dit is vir ons belangrik dat die skool ʼn veilige plek moet wees vir ons onderwysers en ons kinders,” sê ʼn ouer by die skool. “Juis omdat vandeesmaand Vrouemaand is, wil ons seker maak dat ons vroue-onderwysers beskerm word.”

Intussen het ʼn graad 10-leerder by die skool, Nina Kriel, ook ʼn petisie van stapel gestuur onder haar medeskoliere. Die petisie is van Saterdagaand na Hoërskool Eldoraigne-skoliere versprei. Teen Sondagoggend het 562 leerders al aan die petisie deelgeneem en elkeen van die respondente het aangedui dat hulle die petisie ondersteun dat Prinsloo nie na die skool moet terugkeer nie.

Kriel het aan Maroela Media gesê dit is vir hulle as skoliere belangrik dat goeie onderwysers by die skool moet bly.

Paula Galego, distriksbestuurder van die departement van onderwys, het die skool verlede week toegespreek.

“Sy het eers gesê ons is volwasse en ons is in die skool om geleer te word, maar in die volgende asem het sy gesê ons moet die saak nou in die volwassenes se hande laat,” het Kriel verduidelik oor haar rede waarom sy graag die petisie van stapel wou stuur. “Ons as skoliere se stem word dus stilgemaak, terwyl ons en ons geliefde onnies direk benadeel sal word deur dr. Prinsloo se terugkeer. Soms dink mens jy alleen dink op ʼn spesifieke manier oor iets, maar dan is dit goed om te sien dat ander ook soos jy oor ʼn saak dink.”

Haar petisie, wat slegs oop is vir Eldo’s om aan deel te neem, sal na verwagting tot die einde van hierdie week beskikbaar wees. Sy hoop dat elke leerder van die skool hul mening sal lug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Dit blyk dat daar wel probleme met die hoof bestaan wat kinders,onderwysers en ouers noop om die beheerliggaam te steun om ‘n interdik te verkry.Die hoof moet die eerbare ding doen en of bedank of met vervroegde pension gaan.Bieliery het geen plek in enige skool nie.Ek was op skool ook deur ‘n onderwyser geboelie en 46 jaar later dra ek nog die emosionele letsels.

Maggies ·

Ek is self deur ‘n onderwyseres geboelie, 30 jaar later is my seun én sy neef deur dieselfde onderwyseres geboelie. Dit laat beslis ‘n ewige letsel.

Trotse Boervrou ·

Maggies, dit is werklik so jammer dat mens soveel jare na die geboelie nog steeds met daardie letsels moet sit. Dit is bitter hartseer dat boelie-onderwysers al ‘n leeftyd daarmee wegkom. Soveel so dat jou kind deur dieselfde boelie se hande moes gaan. Ons almal ken sulke boelies. Ek wil egter nie veralgemeen nie. Daar is, volgens my, baie meer wonderlike onderwysers as boelies, waarvoor ons innige dankbaar is. Dit is hierdie boelies wat, spreekwoordelik, uitgeroei moet word! Hulle kom al te lank daarmee weg…

Trotse Boervrou ·

Indien daar so ‘n heftige teenkanting is moet daar beslis baie goeie redes voor wees. Indien julle nie vir die Beheerliggaam wil luister nie, luister ten minste vir die onderwysers, en veral die skoliere, vir wie dit direk raak. NEE, VIR ENIGE BOELIE GEDRAG!

Harley Davidson ·

Die grootste fout wat de klerk gemaak het met sy ondeurdagte oorgawe was om nie eers al die skole te privatiseer ,onderwys en finansies is wat bepaal of jy ‘n land suksesvol kan groei en in hierdie geval het die skool se beheerliggaam n besluit geneem en die ANC onderwys departement is soos altyd die probleem

Francois Le Cochon ·

Jasper, min ouers kan R60,000 tot R100,000 betaal vir ‘n privaat skool. Wetgewing oor skoolgeld afslag geld ook nie vir privaatskole nie.

Harley Davidson ·

En wie onderhou die huidige model c skole, die ouers betaal skoolfonds,samel geld in met kompetisies,R5 om Vrydae in gewone klere skool toe te gaan die departement betaal die minimum indien enige aan sekere skole,maar hulle bly onderhewig aan die onderwys reëls

JohanR ·

Die ou klink erg as ouers soe stap wil neem. Kan mens se die boelie in die skool is nou die boelie in bevel van die skool?

Jax ·

Die ouers en leerlinge staan bankvas dat hy nie meer hul skoolhoof moet wees nie. Dr Prinsloo, as ek jy was, sou ek die eerbare ding gedoen het en bedank het. Wie wil nou regtig terug gaan na n werk waar jy nie welkom is nie? Is dit dan nie maar beter om die beste man te wees en weg te stap nie? Waarom jou eie werksdag en die van so baie ander, te vergal! Daar’s is twee konstante in die lewe: tyd om te kom en tyd om te gaan – joune is laasgenoemde!

Naomi ·

Hoekom is hy nie al in Bastion se dae ondersoek nie? Toe was hy al so. Waar is al diegene wat hom verdedig het oor dissipline? Dok Prinsloo, kry vir jou.

Anoniem ·

Daar moet beslis drasties iets verkeerd wees as daar so ‘n groot omswaai van personeel is.

Elmarie ·

En so daag Dr Prinsloo nie op by die skool vanoggend nie…………………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.