Internasionale handel in renosterhoring steeds verbode  

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die internasionale handel in renosterhoring word steeds ingevolge die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) verbied.

Volgens die departement van omgewingsake is enigiets wat die teendeel beweer ʼn wanvoorstelling. “Enige beplande kommersiële handel in renosterhoring deur private renostereienaars kan moontlik slegs vir binnelandse handel wees,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, gesê.

“Internasionale handel in renosterhoring is en bly verbode ingevolge die Cites-regulasies, en as sodanig kan dit nie ingevolge enige plaaslike wetgewing gemagtig word nie. Suid-Afrika kan dus nie permitte uitreik vir internasionale handel nie.”

Modise het benadruk dat indien daar gepoog word om renosterhoring internasionaal vir kommersiële doeleindes te verkoop, dit strydig sal wees met Cites-regulasies en die nasionale Wet op die Bestuur van Biodiversiteit (Nemba).

“Die plaaslike handel in renosterhoring is onderhewig aan die uitreiking van die toepaslike permitte ingevolge Nemba en die regulasies en toepaslike provinsiale wetgewing.”

In terme van Nemba is ʼn permit nodig om onder meer renosterhoring te besit, te vervoer of dit te verhandel. Volgens Modise is ʼn hoëvlakpaneel besig om onder meer beleid- en praktykaangeleenthede oor handel, teling, jag en hantering van renosters in Suid-Afrika te hersien waarna die paneel aanbevelings aan die minister sal doen.

“Die departement hou ʼn elektroniese databasis by wat uitgebreide besonderhede oor alle individuele renosterhorings in private en regeringsbesit opneem. Daar word ook voortgegaan met die verifikasieprogram om te verseker dat DNS-monsters geneem is en dat alle horings gemeet, geweeg en gemerk is, ʼn mikroskyfie kry en op die nasionale databasis vasgelê word.”

Volgens Modise is dit om te verseker dat die departement ten alle tye akkurate inligting het oor die aantal renosterhoring in die land en wie die geregistreerde eienaars daarvan is. “Dit is noodsaaklik om te keer dat horings uit die land gesmokkel word.”

Daar is lank reeds versoeke dat internasionale handel in renosterhoring toegelaat word. Volgens dié wat ten gunste hiervan is, sal dit onder meer help om renosterstropery te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.