Internasionale kundiges grom vir SA-regering oor fiasko by Vredefort-koepel

die Vredefort-koepel. Foto: Wikipedia

Die Vredefort-koepel. Foto: Wikipedia

Die VF Plus het Sondag gesê die Vredefort-koepel wat vir Suid-Afrika ʼn erfenis-juweel behoort te wees waarmee duisende besoekers jaarliks na die land gelok word, het nou ʼn internasionale verleentheid geword waar miljoene rande se belastinggeld die afgelope jare vermors is.

Dr. Pieter Mulder, leier van die party, het in ʼn verklaring gesê die moontlikheid word selfs genoem dat Unesco, die opvoedkundige, wetenskaplike en kultuur-organisasie van die Verenigde Nasies, sy klassifisering van dié omgewing as wêreld-erfenisgebied kan terugtrek weens die gebrek aan samewerking van die ANC-regering.

“Luidens Unesco se webwerf is ʼn sperdatum van 1 Februarie vanjaar aan die regering gestel om sekere vereistes na te kom. Dit is nie gedoen nie,” het Mulder gesê.

Die Vredefort-koepel het sowat 2 miljard jaar gelede ontstaan toe ʼn meteoriet met ʼn deursnee van ongeveer 10 km die aarde teen ʼn spoed van sowat 150 000 km/h getref het. Die aarde se oppervlak was toe sowat 17 km hoër as vandag.

ʼn Krater van sowat 100 km wyd en veel dieper as 10 km is veroorsaak. Erosie het veroorsaak dat dit intussen feitlik verdwyn het. Dit bly steeds die beste voorbeeld van ʼn reuse-impaktoneel op aarde en is daarom uiters waardevol vir wetenskaplike navorsing.

Nadat die VF Plus talle klagte in die verband ontvang het, het Derek Hanekom, minister van toerisme, op skriftelike navraag geantwoord dat ʼn bedrag van R11,7 miljoen bewillig is net vir ʼn besoekersentrum.

Die bouwerk is in Augustus 2008 voltooi, maar die gehalte was so swak dat dit nooit in gebruik geneem kon word nie. Minister Hanekom het gesê dit is selfs só swak gebou dat dit lewensgevaarlik sou wees om die gebou binne te gaan.

Toergidse van Vredefort en Parys wat die gebied gereeld besoek, sê die gebou en die omliggende paaie is totaal vervalle. Die gebou is glo totaal geplunder deur vandale en haweloses het hul intrek daar geneem.

Luidens mediaberigte van destyds is altesaam R18 miljoen bewillig vir die sentrum en om die gebied toeriste-vriendelik te maak met onder meer wandelpaaie en inligtingsborde. Ook daarvan is glo niks te sien nie.

Uit gesprekke met kundiges soos dr. Craig Smith, uitvoerende hoof van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika, en volgens die webwerf van Unesco, blyk dit dat Unesco die gebied nog net “gelys” het as wêreld-erfenisgebied. Dit was reeds in 2005.

Suid-Afrika moes daarna verskeie stappe volg, soos om die gebied te ontwikkel en om dit deur wetgewing tot ʼn erfenisgebied te proklameer. Eers as hieraan voldoen is, kan Unesco dit tot wêreld-erfenisgebied proklameer.

“Unesco self draai geen doekies om in hul skrywes nie en sê dat die teendeel eerder gebeur het en dat die gebied intussen ‘met opset vernietig word’. Van die ander probleme wat Unesco noem is onwettige praktyke, swak of afwesige bestuurstelsels, grondwater-besoedeling, veral van die Vaalrivier, diefstal en vandalisme en ʼn gebrek aan toerismebestuur en -toegang,” het Mulder bygevoeg.

Mulder het gesê die regering sal verantwoording moet doen oor die wanbesteding van die geld.

“Ons wil weet hoe dit aangewend is. Aan wie het meer as R11 miljoen gegaan vir die swak bouwerk? Waar is die ander miljoene wat vir ander ontwikkelings gebruik moes word? Erger nog, die regering sal aan die publiek van Suid-Afrika moet verduidelik waarom hulle oënskynlik geen waarde heg aan iets so belangrik as ʼn wêreld-erfenisgebied nie. Nadat die R18 miljoen gestroop is, het die ANC se belangstelling in die gebied blykbaar daarmee saam verdwyn,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Strussbob ·

Dis nou een waarheid van di Meerderheid Party- : dit leef net vir nou en homself- hulle eie nageslag gaan hierdie vrot vrugte moet eet!!

Riaan ·

Hierdie hele fiasko kon gestop gewees het as die hele konsep weldeurdag was. Waar het jy gesien dat ‘n gebou bo-op die graniet gebou word wat juis vir die geologiese attraksie daar is. Die gebou as sulks is ‘n wit olifant soos menige ander ondeurdagte projekte in die NSA en sal heellass gestroop moet word met die skade!!!!!! aan die graniet reeds gedoen.

Olga Joubert ·

hou duim vas dat arme apartyd ni weer die skuld sal kry nie. So moeg vi die mense wat dink alles behoort aan hulle.

Gerhard Kok ·

Die beeld wat by die artikel gebruik word is defnitief nie die Vredefort-koepel nie! Dit getuig van swak/lui joernalistiek. Doen volgende keer asb beter navorsing voor u uit onkunde so ‘n beeld plaas. Alternatiewelik kan u volgende keer oppad af Kaap toe nie net deur die Vrystaat jaag nie, maar oor Vredefort ry en uself vergewittig hoe dit daar lyk. Dit is immers baie belangrik aangesien dit bygedra het tot die ontstaan van die Vrystaatse gouvelde.

Maar ons moet u miskien maar die swak joernalistiek verskoon aangesien dit, lyk my, ‘n gewoonte geword het, want u verwys ook na “2000 miljoen jaar”…. verregaande!

Gerhard Kok ·

Verskoon tog ek het bedoel “op pad af Kaap toe”….

Phillip ·

Dankie vir u terugvoer. Ons het die argieffoto verander.

Vriendelike groete

Phillip Bruwer (Namens Maroela Media)

Gawie ·

Gerhard, dalk net ‘n glips. In Afrikaans is 1 Biljoen gelyk aan ‘n miljoen miljoen (1 000 000 000 000). 1 Miljard is gelyk aan ‘n duisend miljoen (1 Amerikaanse “billion”). Net on ons almal deurmekaar te maak. :)

Sean Brebnor ·

Uhm, waar’s die glips? Hy het dan gesê “2000 miljoen”…

alex ·

@ Gerhard Kok hierdie media ontvang ons gratis. Gaan kyk bietjie hoeveel moet jy betaal om ander media te lees.

Miskien moet jy nie so vinnig die sambok uithaal nie!!

Johan 2 ·

Dankie Alex! Wat is verkeerd met 2000miljoen jaar? En sovêr ek verstaan is die foto reg?

Martin ·

Moet julle nie aan Gerhard steur nie, dit wys op swak smaak en ‘n manier van aandag soek. Maroela julle doen ‘n goeie job.

Jakoos ·

Moet julle nou nie Gerhard aanval – Maroela het dit gewysig en so genoem, so hy was tog reg!Bepaal jul kommentaar op die berig self. Alhoewel mens nuus gratis kry is dit mos reg om te verwag dat feite reg deurgegee word so kalmeer julself hoor.

Jacques ·

Hoe is dit moonlik dat ek nie eens geweet het van so plek in SA nie.
Ag wat dis maar n paar pennies vir die ouens wat al ons geld so vermors, dit lyk of iemand die land wil bankrot maak.

Jonine ·

En om te dink dat my Pa se erf plaas ook deel van die koepel erfenis gebied was. En my stief oupa dit in die begin 1980 vir R60 000 verkoop het. Nadat my Pa n vorm geteken het dat hy afstand doen van sy erf grond en agv n heup operasie wat skeef geloop het nie geweet het wat hy teken nie. Is n paar jaar gelede weer gekoop vir n paar miljoen.

Pieter ·

Die bewaring van kultuur en erfenis is ‘n natuurlike uitvloeisel van die vlak van beskawing. Hoe hoër die beskawingsvlak van ‘n samelewing hoe hoër die gemeenskap se vermoë/behoefte/entoesiasme/ywer om te “bewaar”. Moenie te veel gal braak nie ouens. Ons bly in Afrika en jy moet met dié onderliggende realiteit vrede maak. Jy hoef nie daarmee saam te stem nie, moet net nie jou kop daaroor breek nie want jy gaan jouself net vroeg oud maak. Maak vrede of emigreer.

Peet Schabort ·

Wat anders is te wagte? Indien jy as regering nie eers riool ordentlik kan bestuur, hoe dan?

Peet Schabort ·

Wat anders is te wagte? Indien jy as regering nie eers riool ordentlik kan bestuur, hoe dan?

cozican ·

Die ANC se gat kan maar toemaak. Selfs oorsee wil hom nie soen nie!

Johan Roetz ·

Wie wil nou na `n gat kom kyk wat nie meer `n gat is nie.

Gert Petzer ·

Omrede mieliepap en BMW’s die belangrikste goed is.

rissiepit ·

Unesco speel nie speletjies nie. In Dresden waar baie geld en goeie werk gedoen is het hul steeds net gewys op een groot fout…die nuut geboude brug wat die beeld van Dresden volgens hulle verander het. Hul status het hul verloor. Selfs al kry die plek die status word dit gereeld kontroleer so jy kan nie nou goeie werk doen en dink nou kan jy daarvan vergeet nie. Dit werk nie so vir die Unesco nie. Ek het al baie Unesco-bekende plekke besoek en as daardie naam by ´n plek staan is dit gewoonlik ´n belewenis. Hier het ons regering ons eie land geen groot guns gedoen nie. Baie baie hartseer.

Loeis ·

Dankie aan Pieter Mulder wie hierdie aangeleentheid aanspreek, en aan Maroela Media wie die publiek bewus maak van die probleem. Ek wens VF+ suskses toe met julle poging om die regering tot verantwoording te roep, en hoop dat die situasie omgeswaai kan word.

EMK ·

Hier in die Wieg vand ie Mensdom (Cradle of Humankind) is dit ook gedurig ‘n gesukkel. Eers wou Eishkom reg deur die plek hoogspannignsdrade en al die onooglikhede wat daarmee saamgaan bou SONDER behoorlike studies. Maar osn het dit met hand en tand beveg en ek self het aan UNESCO epos gestuur. Wel osn het die geveg gewen want ondergrondse grotte sou beskadig word ens ens. Hulle moes maar mooitjies ‘n ander plan maak. Maar intussen besoedel hoenderplase ondergrondse water (wat baie skade aan grotte vol stalagtiete en-miete doen) en voeter voort en hoewel ons klagtes gelê het word net geld onder die tafel gegee (dis so genoem aan ons) en alles word toegelaat. Hier is ook baie reels en wette wat self deur dei regerign ingestel is om die area te bewaar maar hulself oortree dit geereeld. Wanneer gaan hulle eendag besef dat toerisme eintlik die enigste volhoubare inkomste vir ‘n land bied? Myne bring geld in en as hulle alles uitgemyn het los die (gewoonlik) oorsese eienaars dit net so en verdwyn na hul skatryk geword het uit ons land, so dis nie vohoubaar nie en net so met meeste goed. Gee die cna om? Solank hulle aandele en/of geld uit dit kry is hul min gepla. En pas hulle ons toerisme plekke op, probeer hul hard om misdaad by sulke plekke te bekamp? GLAD NIE! Ons as trotse grondeienaars moet heeltyd baklei om dinge reg te hou en die plek op te pas, van regringskant kry ons niks. Maar hulle wil gou spog om te se dis ‘n UNESCO Werelderfenisgebied, o ja, maar doen NIKS om dit reg te hou nie.

Johannes Meintjes ·

Homo Naledi is op ‘n lang pad van ontwikkeling vanuit die spelonk in SA. Die ster skyn nog nie helder nie. Moontlik be-oordeel mense uit Europa te vinning of is die verwagtings te hoog. Humanisme, unieke werkwyses, “entitlement” en regte moet in ag geneem word. Unesco moet asb. moontlik ‘n meer begripvolle pad rondom besluite en uitvoering in SA handhaaf …

EMK ·

Johannes, Naledi is slegs die jongste hier in die Wieg, daar is tonne ander goed al jare gelede aan die gang. Nou dink hulle as hul Maropeng gebou het is dit nou genoeg. Intussen moet jy gereeld kom kyk hoe staan die kakiebos en ander vuilgeod heuphoogte by die ingange na die Sterkfontein grotte. Niks word ordentlik opgepas soos ek al in ander lande by erfenisgebiede gesien het nie. Bordjies word nei vervang en/of in stand gehou nie. Die Pom-pom blom plaag word elek jaar erger en hulle doen NIKS daaraan nie – en dit in ‘n werelderfenisgebied. Hulle gee eenvoudig nie om nie, solank dit geld erens inbring vir hulle of ‘n “brother” en solank hul kan spog met dit, ja dan is dit goed, maar oppas, nee wat!Ek kan boekdele skryf, jy woon nie hier en weet nie hoe mens sukkel nie. Dat hul ‘n spul plakkers aangemoedig en toestemming gegee het om te gaan plak op ‘n stuk grond – daar is nei eers werk en geen vervoer ne maar ja, hulle kan maar daar gaan bly en sedertdien het misdaad toegeneem. Hulle het nie gedink nie, ons woon in ‘n dolomietese area dus is daar streng reels met bou van huise (dmv wetgewing wat deur die REGERING ingestel is en vir veiligheid natuurlik, aangesien sinkgate kan vorm) maar nou wou hul dat die spulhuise bou en water wat loop riool wat sommer in die grondloop – weereens sinkgate kan gevorm word maar niks word vir die mense gese totdat ‘n sinkgat inval, dan sal dit ander stories wees. Moet ook nei vergeet hoe word die suur mynwater probleem geignoreer, dis ‘n aanhoudende geveg want dit alles verniel en vernietig die grotte…soos ek geskryf het ek kan boekevol skryf. Ekwoon hier so ek weet, ons werk met die dinge, so ek weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.