Internasionale optogte teen plaasmoorde: ‘SA regering kry dalk van hul eie medisyne’

Die optog in Perth in Australië (Foto: Facebook)

Wat is die impak van die talle internasionale protesoptogte wat nou opnuut die kollig op plaasmoorde in Suid-Afrika plaas? Vestig dit die wêreld se aandag op die probleem en kan dit regtig druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas om enige iets te doen?

Maroela Media het met politieke kenners gesels om meer hieroor uit te vind nadat sowat 3 000 betogers Sondag weer in Perth, Australië, byeengekom het om ʼn optog teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding te hou. Honderde mense het ook in Maart in die strate van Brisbane ingevaar om teen die aanslag op Suid-Afrikaanse boere te betoog.

Plaasmoorde en eiendomsregte is in dieselfde maand in Vlaandere bespreek en ʼn optog teen plaasmoorde in Suid-Afrika is ook onlangs in Gent in België gehou.

Peter Dutton, die Australiese minister van binnelande sake, het ook vroeër vanjaar gesê die land wil die emigrasieproses vir wit Suid-Afrikaanse boere versnel omdat hulle in hul eie land “vervolg” word.

Die optog in Perth in Australië (Foto: Facebook)

Druk vir verandering

Proff. Deon Geldenhuys, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, sowel as Theo Neethling, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studies, sê die internasionale optogte plaas die Suid-Afrikaanse regering in ʼn baie ongemaklike situasie, maar hulle twyfel of dié soort optrede die regering skielik tot beter landelike beveiliging sal aanspoor.

Geldenhuys reken die binnelandse druk op die Suid-Afrikaanse regering is net so belangrik, indien nie belangriker nie, as die buitelandse druk oor die kwessie van plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding. Hy sê dié soort optogte moet deel wees van ʼn groter strategie aan die kant van landbou- en burgerregte-organisasies.

“As ʼn mens dit in isolasie beskou gaan internasionale protesoptogte nie ʼn blywende impak hê nie. Dit sal opgevolg moet word met verdere kommunikasie en deel word van ʼn deurlopende bewusmakingsproses met die klem op volhoubaarheid.”

Hy reken sosiale media is ʼn uitstekende manier om dit te doen.

“Die druk van binne én dié uit die buiteland sal onderliggend versterkend wees. Dit is ʼn internasionale verskynsel dat binnelandse kwessies geïnternasionaliseer word en dit is maar net iets waaraan die Suid-Afrikaanse regering gewoond gaan moet raak.

“Die ANC was self in die dae van apartheid meesters in die internasionalisering van Suid-Afrika se binnelandse politiek. Ek dink hulle begin nou ʼn bietjie van hul eie medisyne terugkry en dit is ongelukkig so dat ʼn mens nie jou eie knoeiwerk meer agter skanse kan wegsteek nie,” voeg Geldenhuys by.

Neethling beaam dat sosiale media ʼn al groter rol speel om politici verantwoordbaar te hou en hy glo dit is ʼn faktor waarmee ons regering sal moet rekening hou.

Geldenhuys sê ook dit is nie meer deesdae vreemd dat lede van die publiek van een land direk met regerings van ander lande gesels nie. “Dit is oudmodies en uitgediend om te reken dat net regerings oor sekere sake met mekaar mag kommunikeer en dit is plein nonsens om te dink sekere groepe in Suid-Afrika kan nie met buitelandse regerings praat nie.”

Betogers in Brisbane. Foto: Zelna Palm

Suur verhoudings

Hy reken ook as die amptelike verhoudings tussen die regerings van Suid-Afrika en Australië wel oor die optogte en uitsprake versuur, dit net sal wees omdat die Suid-Afrikaanse regering op sy perdjie gespring het en ongelukkig is.

“Ek dink nie die Australiese regering is so seer ongelukkig nie. Daar is nie enige beletsels op vreedsame optogte nie – dit is alles deel van ʼn vreedsame demokrasie.

“Buitendien het Australië ʼn diverse bevolking en hulle sien sekerlik ook gereeld protesoptogte van ‘expats’ van verskillende lande. Oud-Suid-Afrikaners het sekerlik ook die reg om dit te doen.

“My houding teenoor die Suid-Afrikaanse regering sou wees om dit in Engels te sê ‘get over it’. Regerings knor elke nou en dan vir mekaar oor die een of ander saak maar ek dink die Suid-Afrikaanse regering is definitief in die geval te liggeraak. Miskien is dit omdat ʼn rou senuweepunt nou raak getrap is,” sê Geldenhuys.

Neethling reken die optogte kan dalk die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Australië versuur maar die plaaslike regering se verhouding met Westerse state het in elke geval oor die afgelope twee dekades aansienlike afgekoel.

“Die uitbou van die verhouding met Afrika-state, die Brics-groepering en ontwikkelde lande is in die algemeen veel hoër op die lys as lande soos Australië of België.”

Betogers in Brisbane. Foto: Zelna Palm

Buitelandse politici wat optogte kaap vir eie gewin

Dan is daar die aantygings dat politici, van veral regse partye, die optogte oor plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding vir eie gewin aanblaas.

Geldenhuys sê hy is nie seker of regses die optogte in Australië enigsins gekaap het nie. “Ek dink dit is eintlik maar net goedkoop politiekery om ʼn regse etiket aan die optogte te hang en alles verdag te maak. Dit is net so verkeerd om te sê die klomp oud-Suid-Afrikaners wat oor die naweek in Perth betoog het, is ʼn klomp regses – dit is pure bog. Ek dink nie ʼn mens moet jou steur aan daardie etiket nie.”

Hy glo wel as instansies in Suid-Afrika op die internasionale verhoog wil speel, moet hulle redelik versigtig wees oor die vennote wat hulle kies om voorbrand te maak vir jou saak in die buiteland. Dit is iets wat ook deur Neethling beaam word.

“Dit sal die geloofwaardigheid van die optogte in die gedrang bring en in die hande speel van politici soos Julius Malema wat onlangs smalend hierop gereageer het en dit met rassistiese oud-Suid-Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland in verband gebring het,” sê Neethling.

Die optog teen plaasmoorde in Gent, België. Foto: Facebook

Maar dit help wel

Neethling reken ʼn mens moenie die druk wat die optogte in die buiteland op die plaaslike regering onderskat nie.

“Dit skep immers die indruk dat goeie orde en ʼn doeltreffende veiligheidstelsel nie in die land aan die orde is nie. Dit verskerp ook die fokus op een van die mees basiese funksies en verpligting van ons regering, naamlik om sy burgers te beskerm.”

Neethling glo ʼn verbeterde veiligheidstelsel in die land sal inderwaarheid nie alleen baie sterk politieke wil verg nie, maar onder meer ook afhang van hoër vlakke van funksionaliteit en professionaliteit binne die strukture van die SAPD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk

Terwyl ek hier sit en lees dink ek aan ‘n ou met die naam Peter Hain (the pain) wat só erg teen die blanke bewind was. Hy sit in die Engelse parlement vandag, kan nie help om te wonder wat hy alles te sê het nie, het hy sy sin gekry? Is hy jammer vir sy aandeel? Wonder maar net.

Johanna Botha

Dalk is dit nou tyd vir sport sanksies !

Jerry

Die ooglopende is dat buitelandse veldtogte n impak sal he en druk uitoefen op die regering om omsigtig te handel met grondonteiening sonder vergoeding en plaasbeveiliging. Wat die organiseerders egter uit die oog verloor is dat dit net sowel die teenoorgestelde impak kan he as waarvoor gehoop word en dat die aanslag binnelands teen die Afrikaner en die burgerregte organisasies eerder sal verskerp en versnel. Jy het hier te doen met n hartelose bevrydingsorganisasie wat sy siel verloor het aan kommunisme en sosialisme en wat streng volgens n rewolusionere agenda werk.

Hanna

Die buiteland is tog te bang om as “rassisties” gebrandmerk te word. Dankie tog vir die enkeles wat wel opstaan!

Ella

Stem saam..