Internasionale sjefbloubloed dié naweek in Pretoria

Die Australiese MasterChef-beoordelaars Gary Mehigan, George Calombaris en Matt Preston is hierdie naweek in Pretoria in aksie. (Foto: Christel Cornelissen)

Hulle is sjefbloubloed. Wêreldberoemd vir hulle vernuf agter die kospotte. En dié naweek kook hulle – net hier in Pretoria – dat dit klap.

Die Australiese sjefs en MasterChef-beoordelaars Gary Mehigan, George Calombaris en Matt Preston, beroemd en geliefd onder kosfoendies en leunstoelkokke die wêreld oor, is in aksie by die Appetite Fest by Time Square in die hoofstad. Saam met hulle is gassjef Shannon Bennet, asook die 2018 Australiese MasterChef-wenner, Sashi Cheliah.

Verskeie plaaslike sjefs deel ook die naweek hulle kulinêre vernuf met feesgangers. Hulle sluit in Siba Mtongana, Bertus Basson, Sarah Graham, Lorna Maseka en Claire Allen.

Verlede jaar het nagenoeg 18 000 mense die fees oor twee dae besoek en vanjaar word selfs méér besoekers verwag nadat die skou met ʼn ekstra dag verleng is.

Verskeie bekende sjefs is by die fees te sien. Hulle sluit in Shannon Bennett, Claire Allen, Sashi Cheliah, Sarah Graham, George Calombaris, Siba Mtongana, Gary Mehigan, Matt Preston, Lorna Maseko en Bertus Basson. (Foto: Christel Cornelissen)

Mehigan, Calombaris en Preston (ook bekend as die bes geklede man in die kosbedryf) was Donderdag op hulle stukke voor die fees wat Vrydag afskop. Die drie het onlangs, ná 11 seisoene, die televisiereeks MasterChef vaarwel toegeroep.

“Alles in die lewe moet in ʼn stadium eindig. Ons het 11 ongelooflike jare gehad. Dit is nou tyd om diep asem te haal en weer te begin droom. Ons het tyd om asem te skep,” het Calombaris gesê.

Volgens Preston is daar ander dinge waarop hulle voortaan gaan konsentreer en een daarvan is om meer te reis. “Ons is mal daaroor om te reis. As ons reis, kan ons werklik wonderlike kos eet.”

In Suid-Afrika is een van die wonderlikhede wat Preston se palet gekaap het, dalk ʼn vreemde keuse … Ghost Pops. “Dis die beste happie ooit,” het Preston geskerts.

Hy gaan dié bonkige skyfies boonop in een van sy hoenderdisse inwerk. “Jy moet die Springbokke ondersteun, en jy moet van Ghost Pops hou.”

Een van die disse op Calombaris se spyskaart dié naweek is eend. Met chakalaka. “Maar net omdat ek régtig baie van die woord hou. Chakalaka, chakalaka, chakalaka,” het hy tot groot vermaak gesê.

Volgens Mehigan is Suid-Afrikaners geseënd met ʼn magdom uitstekende produkte en hy hou vol dit is selfs beter as die gehalte wat in Australië gevind word. “Ons geniet die plaaslike kos en wyn ongelooflik baie en dit is beslis net soos goed soos enige ander plek ter wêreld. Ons is werklik beïndruk.”

Hulle gaan ook eksperimenteer met plaaslike produkte soos Springbokvleis en ʼn nagereg geïnspireer deur daardie ou gunsteling: Klippies en Coke. “Ons is hier om dit te geniet en pret te hê en as iets skeefloop, is dit nog snaakser,” het Preston gesê,

Calombaris sê die fees is die geleentheid om ʼn ongeredigeerde weergawe van die sjefs in aksie te sien. “Jy sien ons net soos wat ons is en hoe en wat ons voel. Jy het toegang tot alles. Dis rou, dis werklik en ek hoop mense word geïnspireer deur ʼn nuwe tegniek of idee.”

Afgesien van die kosteater en meestersklasse, is daar die naweek ook tientalle kos- en drankstalletjies waar besoekers na hartelus kan smul, asook lewendige vermaak.

Appetite Fest vind op 13, 14 en 15 September by Time Square in Pretoria plaas. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk Brand ·

Hulle het nie sommer net MasterChef na 11 seisoene vaarwel toegeroep nie. Daar is heelwat meer wat nie hier genoem word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.