Internasionale spioene teiken Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopane Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se selfoonnommer verskyn op ’n uitgelekte lys van persone wat as moontlike teikens van spioenasie met die omstrede bespiedware (spyware) Pegasus geïdentifiseer is.

The Guardian berig 14 staatshoofde, onder wie Ramaphosa, die Franse president, Emmanuel Macron, en die Pakistanse eerste minister, Imran Khan, se selfoonnommers verskyn op die betrokke lys saam met dié van diplomate, militêre hoofde en senior politici van 34 lande.

Die Pegasus-bespiedware is deur die private Israeliese maatskappy NSO Group ontwerp en stel volgens die maatskappy regerings en wetstoepassingsowerhede in staat om misdadigers vas te trek wat daarin slaag om die owerhede deur geënkripteerde kommunikasie te ontduik.

Daar word egter nou beweer dat die Pegasus-bespiedware deur regerings ingespan is om op aktiviste, joernaliste, prokureurs en politici oor die wêreld heen te spioeneer.

Dié skokbewerings is geopper ná ’n gesamentlike ondersoek deur The Washington Post, The Guardian, Le Monde en ander media-instansies. Die ondersoek is gelas nadat ’n dokument uitgelek het met die selfoonnommers van 50 000 mense wat as potensiële teikens vir Pegasus tussen 2016 en Junie 2021 geïdentifiseer is.

Die lys bevat veral nommers van belanghebbendes in tien spesifieke lande: Azerbeidjan, Bahrein, Hongarye, Indië, Kazakstan, Mexiko, Marokko, Rwanda, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate.

Die private Israeliese maatskappy NSO Group se webtuiste vir sy bespiedware, Pegasus. (Foto: Mario GOLDMAN / AFP)

Gevorderde spioenasie

NSO ontken ten sterkste dat sy sagteware aan outoritêre regerings verkoop word om op staatshoofde, politici en verslaggewers te spioeneer en sê alle verkope van sy sagteware moet deur die Israeliese ministerie van verdediging goedgekeur word.

Pegasus behels uiters indringende tegnologie. Die toerusting maak dit moontlik vir die bespieder om die kamera en mikrofoon van sy “prooi” se selfoon aan te skakel. Die bespiedware maak dit ook moontlik vir afloerders om toegang tot die data op ʼn ander persoon se toestel te verkry. In sommige gevalle kan Pegasus op ʼn selfoon gelaai word, sonder dat die gebruiker van die telefoon die aflaai van die sagteware hoef goed te keur.

Verslaggewers, koninklikes geteiken

Die gesamentlike ondersoek na Pegasus het minstens 180 joernaliste in 20 lande geïdentifiseer waarop daar moontlik tussen 2016 en 2021 gespioeneer is of waarop daar gespioeneer sou word. Dit sluit in verslaggewers van die Wall Street Journal, CNN, The New York Times, Al Jazeera, Associated Press, Bloomberg, The Economist en Reuters.

Staatsaanklaers in Frankryk het nou ’n ondersoek gelas na bewerings dat Marokkaanse intelligensiedienste Pegasus gebruik het om verskeie Franse joernaliste na te speur.

Dit word beweer dat op ongeveer 30 joernaliste en mediabase in Frankryk, onder wie werknemers van die Franse koerant Le Monde, gespioeneer is.

Radio France het Dinsdag berig dat Marokko se monarg ook op die uitgelekte lys verskyn, sowel as ’n groot aantal Marokkaanse koninklikes.

Marokko hou vol hy het nog “nooit rekenaarsagteware aangeskaf om kommunikasietoestelle te infiltreer nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hennie ·

Hoekom? Sal graag wil weet wat die “spyware” uitgevind het. Van zero tot multi-biljoener in 27 jaar….

Cherokee ·

…miljoener en beslis nie biljoener. Daar is so ietwat van ‘n verskil.

Pieter ·

Ag asb kinders wat op skool is kan sien waar mee julle ANC kommuniste mee besig is.

Wielspore ·

Ag nee regtig, Durban het se eie Bluff en dan kry jy mense wat bluff. In hierdie geval lyk dit soos ‘n bluff storie.

Harley Davidson ·

Net om weer die aandag af te haal van sy onvermoë om ‘n land te regeer ,baie moeiliker as om Lohnmin se BEE partner te wees .

Oom ·

Regtig! Is daar nie belangriker sake / persone om op te spioeneer nie. Gebeure in SA of optrede deur persone in SA maak nie ‘n rimpeling op die water van die wêrelddam. Ten beste kan die spioene vir hulle daaglikse ligter (humoristiese) momente kyk na die kinderagtighede van die plaaslike bevolking (meestal die politici) in SA.

Gert ·

Hy is maar net besig om voorbrand te maak vir een of ander skelm streek waarmee hy gevang gaan word…. Zuma se maniere.

Jaco ·

Ramaphosa se foon is seker net vol info oor “terugkry” tot in ewigheid van wit mense vir apartheid, onteiening sonder vergoeding, radikale ekonomiese transformasie en hoe hy en die ANC nog meer kan in-cash uit korrupsie.

Realis Thailand ·

Wie gee nou regtig om waarvan die anc praat en beplan . Al wat hulle beplan is verdere stroping van die fiskus

Realis Thailand ·

Enige mens kan sagteware koop waarmee jy na selfone kan luister
Wie wil die president se kinderagtige praatjies meeluister kinders in Haas Das .Dit sal hulle mentaliteit pas tot 4 jaar oud en daarna is hulle verveeld

Jack ·

Nee wat hier is geen geheime wat die wereld hoef te weet nie. As hulle wil weet hoe n regstelsel nie moet werk nie of hoe om moord en korrupsie te beplan dan moet hulle die fone kom tap. Hulle gaan baie leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.