Internasionale Vrouedag: Kongolese mans stig feministegroep

Foto: Radio France Internationale

Foto: Radio France Internationale

24 mans in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het ʼn groep gestig wat ten doel het om te veg vir die regte van vroue in dié streek. Daar word daagliks 1 152 vroue in die DRK verkrag, volgens ʼn studie deur die American Journal of Public Health. Dié gebied word beskou as die slegste plek in die wêreld om ʼn vrou te wees.

“Die nie net feministebewegings wat deur vroueregte geraak word nie,” het die lede van dié groep, V-Men Congo, in ʼn verklaring oor die groep se totstandkoming gesê.

“Die regte van vroue het ʼn invloed op ons gemeenskaplike menslikheid en die toekoms van ons samelewing.”

Die groep staan onder die leiding van Denis Mukwege, ʼn dokter wat bekend is vir die kliniek vir verkragtingslagoffers wat hy in die ooste van die DRK opgerig het, en is gestig met die oog op Internasionale Vrouedag wat vandag gevier word.

Die doel van die groep is om op te staan teen die “skandelike diskriminasie en haatdraende houding teenoor vroue” wat ekonomiese ontwikkeling in die wiele ry, het hulle gesê.

“Kom ons verbreek die stilte. Kom ons verander die ingesteldheid van ons seuns en dogters, ons broers en susters, ons vaders en moeders, en kom ons maak ʼn einde aan die seksuele geweld teen vroue wat ongestraf bly,” het hulle gesê.

Die groep se naam is afkomstig van die V-Day beweging  wat die beëindiging van geweld teen vroue en meisies ten doel het. Die beweging is begin deur die aktivis en dramaturg Eve Ensler, die skrywer van “The Vagina Monologues”. Die V staan vir “victory”, “valentine” en “vagina”.

Die ooste van die DRK word steeds gekenmerk deur die gewelddadige optrede van rebelle- en militaristiese bewegings wat, volgens regse groepe, verkragting as ʼn oorlogswapen gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.