Internasionale Woordeboekdag

atkv woordeboekInternasionale Woordeboekdag word Vrydag wêreldwyd gevier.

“ʼn Woordeboek is vir ʼn spreker van enige taal soos wat tandepasta vir ʼn tandeborsel is.” Só sê Naomi von Branden, bestuurder: taalaangeleenthede by die ATKV. “Goeie kommunikasie en die gebruik van ʼn woordeboek gaan dus hand aan hand, daarom is ʼn goeie woordeboek onontbeerlik en onmisbaar in byna enige taalsituasie.”

Internasionale woordeboekdag word jaarliks op 16 Oktober gevier. Die algemene doel van die viering van hierdie dag is om mense regoor die wêreld bewus te maak van die onontbeerlikheid van ʼn woordeboek. “Daarsonder is nie net ons woordeskat baie skraal nie, maar ás woorde wêrelde open soos wat algemeen aanvaar word, verklein ons dan ook ons leefruimte,” het Von Branden bygevoeg.

Die ATKV deel die volgende inligting:
Noah Webster is op 16 Oktober 1758 gebore en het as ʼn arm seun saam met sy twee broers en twee susters op ʼn plasie in Connecticut grootgeword, waar hulle saam met hul ouers die arbeid verrig het. Noah was ʼn briljante leerling wat op 15-jarige ouderdom aan Yale begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie. Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier.

Talle inisiatiewe het die afgelope paar jare die lig gesien om hierdie dag te vier, soos byvoorbeeld die WAT se Borg ʼn Woord. Teen net R100 kan jy ʼn woord “koop” en dit jou eie noem. Op hierdie manier dra jy ook by om die voortbestaan van ʼn pragtige taal te verseker.

Die nuutste HAT6 (2015) het onlangs verskyn – heel betyds vir internasionale woordeboekdag. Kyk byvoorbeeld na inskrywings soos:
bai-ley-brug s.nw. [baileybruê] tydelike traliebrug van vooraf vervaardigde staaldele wat vinnig gemonteer kan word en daarom vir militêre gebruik geskik is.
hi-gro-gram s.nw. [-me] kurwe deur ʼn higrograaf geteken; grafiese voorstelling van een of ander aspek van lugvog.

“Een uitdaging wat veral onderwysers mee gekonfronteer word, is om leerders so ver te kry om die woordeboek daagliks in die klas te gebruik. Indien dit wel gebeur, kan dit nie net die leerder se woordeskat verbreed nie, maar ook uiteindelik ʼn liefde aanwakker om nuwe woorde aan te leer en dit in die daaglikse omgang met die taal te gebruik,” het Von Branden bygevoeg. “Só word die taal lewendig gehou.”

Enige interessante voorstelle om leerders aan te moedig om woordeboeke te gebruik, kan aan [email protected] gestuur word.

Net vir die lekker daarvan: maak vandag nog ʼn woordeboek oop, soek ʼn woord wat jy nog nooit voorheen gesien het nie en leer die woord én sy betekenis om jóú bydrae tot internasionale woordeboekdag te maak – sommer net, omdat jy kan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.