‘Interne probleme’ rede vir nóg ʼn busstaking in Noordwes

Argieffoto: http://upload.wikimedia.org/

Die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoer in Noordwes sê “interne probleme” het daartoe gelei dat die Thari-busdienste in die Bojanala-distrik in dié provinsie tydelik opgeskort is.

Mpho Motlhabane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer, sê dié tydelike opskorting van dienste het daartoe gelei dat duisende pendelaars al byna ʼn week lank gestrand is omdat busse hulle nie na hul verskillende bestemmings kon vervoer nie.

“Afgevaardigdes van my departement sal met die direkteure van Thari vergader met die doel om dienste weer te begin. Dit is ons plig as die departement om te verseker dat ons mense daagliks ʼn veilige en betroubare manier van vervoer het,” het hy gesê.

Motlhabane het intussen ʼn beroep op pendelaars gedoen om van alternatiewe maniere van vervoer gebruik te maak terwyl die departement met die bestuur van Thari in gesprek tree.

Duisende pendelaars van Lethabong het vroeër dié week gedreig om die busdiens te boikot. Hulle voer aan die diens is opgeskort sonder enige kennisgewing, en dat dit boonop duurder is as die tariewe van minibustaxi’s.

Dié staking volg kort op die weke lange nasionale busstaking wat in April en Mei honderde duisende pendelaars ontwrig het.

Die Thari-busdiens is gekontrakteer deur die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoer en is bedoel om ʼn veilige en betroubare manier van vervoer aan merendeels arm gemeenskappe te bied. Die busdiens bedien ook pendelaars van Lethabong na Rustenburg en in en om Brits.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

André ·

Die mense in hierdie land staak meer as wat daar gewerk word. Miskien moet elke dag van die jaar toegeken word aan ‘n maatskappy sodat ons hiervoor kan beplan. ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.