Interne SAL-memo bevestig redery is op rand van likwidasie

Argieffoto

Argieffoto

In ʼn interne dokument van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat ʼn hof Donderdag toestemming gegee het dat dit bekendgemaak mag word, word die lugdiens se raad gewaarsku dat die redery nie sy verpligtinge teenoor Airbus en ander krediteure kan nakom nie en word die raad versoek om vir sakeredding aansoek te doen of likwidasie te aanvaar.

“Indien Airbus ʼn kennnisgewing van wanbetaling uitreik of poog om die koopkontrak te beëindig weens kontrakbreuk, kan dit aanleiding gee tot ʼn situasie waar leners en verhuurders hul skuld versnel, hul huurkontrakte beëindig en ander regstappe neem,” waarsku die memorandum van die lugredery se uitvoerende span aan die raad. “Bogenoemde kan finansiële probleme en/of insolvensie vir SAL beteken.”

Die dokument is saamgestel om die raad in te lig van die noodsaak om met Airbus te korrespondeer en het die gevolge uiteengesit indien die lugredery dit nié sou doen nie. In die dokument is benadruk dat SAL nie geld het om die nuutopgelegde verpligtinge teenoor Airbus na te kom en sy ander skuld te dek nie en word voorspel dat die redery se geld teen die einde van verlede maand op sou wees.

Aangesien die lugredery handel dryf onder insolvente omstandighede sal dit roekeloos wees om so voort te gaan in terme van art. 22 van die Maatskappyewet. Daarom moet die raad vir sakeredding aansoek doen of die direkteure sal verplig wees om vir likwidasie aansoek te doen.

“Die besluit deur die raad om vir sakeredding aansoek te doen moet dringend geneem word om ʼn sakereddingspraktisyn in staat te stel om beheer te neem met die doel om ʼn sakereddingsplan te laat goedkeur en daarna te implementeer,” lui die dokument.

“As die raad besluit daar is geen vooruitsig vir sakeredding nie, sal die direkteure noodgedwonge op ʼn dringende basis vir likwidasie moet aansoek doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Winston ·

Ek voel jammer vir die werknemers al is dit hoe n slapgat organisasie. Wens hulle likwideer vining dat hy reg bedryf kan word. Volgende is die die arrogante ACSA wat in die hek moet duik. Daar is lig aan die einde van die tonnel lyk dit my. Privatiseer en vee die gemors by die die deur uit. Sela

Peet Schabort ·

Dit lyk tog moeiliker om ‘n vliegtuig in die lug te hou as om ‘n lughawe se naam te verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.