Interpol ondersoek ontvoering van driejarige  

Argieffoto

Argieffoto

Interpol ondersoek die ontvoering van ʼn driejarige dogtertjie van Oos-Londen in die Oos-Kaap wat na bewering deur ʼn kinderoppasser gevat is en R500 000 eis om haar veilig aan die ouers terug te besorg.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het die ondersoek aan die Daily Dispatch bevestig en gesê die ondersoek is in ʼn “sensitiewe stadium”.

“Die Valke werk saam met Interpol om die kind terug te kry en dit is ons eerste prioriteit. Ons kan tans nie meer inligting bekend maak nie want dit kan die ondersoek belemmer,” het Mulaudzi gesê.

Die polisie se mensehandel- en georganiseerde misdaadeenheid, asook die departement van binnelandse sake is by die ondersoek betrokke.

Die Daily Dispatch het vroeër vandeesweek berig die driejarige dogtertjie is op 3 Augustus glo deur haar kinderoppasser ontvoer. ʼn Egpaar van Oos-Londen het die vrou glo gehuur om die kind se ouma te help om na die kind om te sien terwyl hulle by die werk is.

Die polisie het nie die identiteit van die ouers of die kind bekend gemaak nie weens die sensitiwiteit van die saak. Die kind se ontvoerder het glo die ouers opdrag gegee om nie die polisie of die media by die saak te betrek nie.

Daar word beweer dat die kinderoppasser glo van Mosambiek afkomstig is.

Volgens die koerant is dit die tweede kind wat die afgelope paar weke ontvoer is.

Nog ’n kind, Nelson Mayekiso (18 maande oud), is glo ook deur sy kinderoppasser, slegs bekend as Nosiyoyo, ontvoer en sy dring aan op haar onbetaalde salaris van R1 500.

Nie een van die tweee kinders is al nie opgespoor nie en die sake kan nog nie in die stadium verbind word nie.

Mayihlome Tshwete, woordvoerder van binnelandse sake, het bevestig dat die departement saam met die polisie werk en dat nuwe visum-wetgewing sal help om die vrou aan te keer as sy probeer om die land met die kind te verlaat.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Ek hoop as hulle gevang word, sal hulle ‘n stywe tronkstraf ontvang!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.