Interstate Bus Lines bevestig gru-botsing op N8

Die Interstate Bus Lines-bus wat op 3 Julie 2017 op die N8 buite Bloemfontein in ‘n noodlottige ongeluk betrokke was. Ses persone is dood en 51 beseer. Foto: ANA

Interstate Bus Lines het bevestig een van sy busse was betrokke in die noodlottige ongeluk Maandagoggend waartydens ses persone dood is en minstens 51 beseer is.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die bus in ʼn stilstaande vragmotor vasgery het. Die een kant van die bus is tydens die ongeluk oopgeruk.

“Interstate Bus Lines bevestig die ongeluk Maandagoggend omstreeks 06:00 op die N8 waarby een van ons busse betrokke was,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

Thando Lepele, skakelbeampte van die maatskappy, het gesê die 114-sitplekbus het slegs 89 passasiers vervoer ten tyde van die ongeluk. Die bus was van Botshabelo Section W op pad na Bloemfontein.

“Die bus het vermoedelik teen ʼn stilstaande vragmotor gebots. Ons ongelukspan is op die toneel om die feite van die ongeluk te bepaal,” het Lepele gesê. “Ons bevestig ses persone is op die toneel dood en 51 persone het geringe tot ernstige beserings opgedoen. Meeste van hulle is na Pelonomi-hospitaal geneem.” Van die passasiers is op die toneel deur paramedici behandel voordat hulle na die hospitale geneem is.

Lepele het gesê die maatskappy sal die families van die oorledenes bystaan deur versekeringsdekking en beseerde passasiers deur die Padongelukkefonds.

Interstate Bus Lines het sy meegevoel betuig met die families van die oorledenes en om verskoning gevra aan die pendelaars en ander padgebruikers vir die noodlottige ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris Ws ·

Ek kry die beseerdes jammer wat gehelp gaan word om deur die Padongelukkefonds bygestaan te word.Ons was 4 jaar gelede in ‘n erge ongeluk en nou eers is al die hofsake agter die rug.Nou moet ons “geduldig wag” vir my vrou se geld om oorbetaal te word aan ‘n hof aangestelde trustee wat haar dan ‘n maandelikse pensioen sal betaal.Hopelik die’ jaar nog!

Jaco ·

is die nie dalk buite bfn nie ? glo nie bus sal van botshabelo na bfn via bethlehem gaan nie ?

Mariné Lourens ·

Dagsê Jaco

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Leonie Nel ·

My hart is gebreek. Op die regterkantste foto, voor aan die regterkant van die bus, lê Maria. Op die gras. My broer-hulle se liefling huishulp. Dood. My broer-hulle het haar aan haar skoene herken Maandag oggend toe hulle die boodskap kry dat die bus waarop Maria was, verongeluk het. Hy het tot haar selfoon gebel. Dit het gelui in haar handsak. Saam met die oorledenes se besittings. Hy en Maria se suster het haar gister (Maandag) by die lykshuis gaan uitken. Amper onherkenbaar. Hulle moes baie mooi kyk. Hy en Maria se suster is heeltemal getraumatiseer. Maria was my broerskinders van 1 en 4 jaar oud, se tweede ma. Rus sag, Maria. En die ander dames wat oorlede is. My innige simpatie aan al die naasbestaandes. My hart gaan uit na julle.

Leonie Nel ·

My broer sê nou net vir my dat Maria ‘n bietjie agtertoe lê. Half toegegooi onder die silwer kombers. Nie dat dit enigsins ‘n troos is vir die naasbestaandes wie se geliefde voor op die foto lê nie. Ek is só jammer vir almal wat hierdeur geraak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.