Inwoner sleep munisipaliteit hof toe oor riool

Rioolwater (Foto: Verskaf)

ʼn Inwoner van Randfontein aan die Wes-Rand sleep die plaaslike munisipaliteit hof toe vir die buitengewone besoedeling van die Rietspruit-rivier wat deur dié goudmyndorp loop. Themba Goba, Rand West se munisipale bestuurder, het verlede Dinsdag vir die eerste keer in die Randfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van buitengewone besoedeling van waterbronne, sowel as nalatige bestuur van die dorp se rioolaanlegte.

Matian van Vuuren, ʼn inwoner wat op ʼn plot buitekant die dorp woon, het in 2016 klagtes van sy bure ontvang dat hulle kalwers op ʼn streep begin vrek. “Ons het vermoed dit was as gevolg van die rou riool wat oor die veld uitgeloop het. Die rioolwater het tot in die Rietspruit-rivier geloop. Die visse het begin vrek omdat hulle nie kon asem kry nie,” sê Van Vuuren.

Boere van die omgewing het ook gekla dat hul ondergrondse water besoedel word.

Besoedelde water in die strate (Foto: Verskaf)

Van Vuuren het sy misnoeë uitgespreek oor rioolwater wat oorspoel en in die dorp se strate afloop en deur erwe vloei. Verlede jaar September het rioolwater uit ʼn mangat in Westonaria op die hoek van West- en Edwardstraat geborrel en afgevloei na verskillende woonbuurte.

“Daar hang ʼn reuk van riool oor die dorp. Inwoners van die Mohlakeng-nedersetting digby Randfontein het nie toegang tot hul huise nie weens rioolwater wat soos ʼn dam voor hul huise lê,” sê Van Vuuren.

Maroela Media het vroeër berig dat die VF Plus bevind het die Rand West-munisipaliteit sukkel om die mas op te kom weens bankrotskap.

Riool in Rietspruit (Foto: Verskaf)

“Ek het toe besluit tot hier toe en nie verder nie. Inwoners van die dorp gaan nie langer apaties toekyk hoe riool vrylik in strate en riviere afstroom nie,” voer Van Vuuren aan.

Na talle versoeke wat Van Vuuren aan die munisipaliteit gerig het, het hy drie jaar gelede ʼn klag by die plaaslike polisie ingedien oor die buitengewone besoedeling van die Rietspruit-rivier. Die polisie het sy klagtes egter nie ernstig geneem nie.

Van Vuuren het toe ʼn klag by die Randfontein-landdroshof ingedien, waar die Groen Skerpioene ingegryp en die saak ondersoek het.

Die hofsaak gaan op 8 April voort wanneer die munisipaliteit sal pleit. ʼn Boete of vyf jaar tronkstraf kan opgelê word indien die munisipaliteit skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

henndrik ·

Ek reken die party in beheer van die raad moet ten minste 50% verantwoordelikheid dra in hulle persoonlike hoedanigheid en dan die burgermeester en die lede van die raad verantwoordelik vir die probleem die ander 50% in persoonlike hoedanigheid anders gaan die belastingbetaler in elk geval moet betaal vir iets wat reeds voor betaal is

Oujongvrou ·

Magda dis die probleem, mense wat kan en sal word nie aangestel nie. Die hele land sit met hoogsbetaalde onbevoegde mense in hoge poste

Hexadane ·

Wat van die wat verantwoordelik moes opdree in hulle amp, tronk toe gestuur word en dan as gevangene self die herstel werk dan moet doen onder opsig van die tronk bewaarder…. Toemaar ek’t vergeet n gevangne het mos meer regte as iemand wat bydra tot die samelewing. Persoonlik dink ek daar moet meer druk uitgeoeffen word om krimineele se regte weg te vat of sal ons se na basiese regte te verander bv n reg om kos te kry en n slaap plek te he agter tralies en bedags vir die staat bilike arbeid doen om paie en pyplyne en riool plase te herstel, en sommer ook vir eskom kole skoffel.

Miskruier ·

Lyk soos Modimolle, Bela Bela en vele ander dorpe. Vieslik.

Mieke ·

Magda, jou antwoord klink heel logies en redelik…. maar jy moet nou mooi verstaan – daar gaan nou niks van kom nie. Na ‘n lang en uitgerekte hofsaak, gaan niemand die skuld kry nie, beloftes sal gemaak word en daar gaan niks van kom nie. Miskien nog ‘n ‘kommissie van ondersoek’ waar hulle dan ‘n klomp snert gaan kwytraak, nog duisende rande vir al die ondersoek beamptes en geen resultate. Dis hoe die regering werk.

KAIROS ·

Well done Matiam!!! Anders as al die ander kla kouse probeer jy nog die geveg wen. Om 4 jaar lank steeds die moeite te doen vir ondankbare Landsburgers, vat n spesiale soort mens. Dieselfde man het straat name geverf terwyl die ander net negatiewe kommemtaar lewer op nuusberigte. Hou so aan. Ek hoop nou die laaste klomp hek springers kan uit die land, sodat die wat agter is kan begin bou aan ‘n Suid Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.