Inwoner trek byna drie boewe vas

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Inwoner van Port Elizabeth in die Oos-Kaap het byna drie vermeende verdagtes van ʼn huisroof vasgetrek deur sy flink optrede.

Die inwoner, wie se naam onbekend is, het drie mans en ʼn wit Toyota Camry in die bosse in Pari Park opgemerk. Een van die mans was ’n insittende en hulle het verdag opgetree. Ná die inwoner met sy eie voertuig omgedraai het in die rigting van die verdagtes, het twee van die mans te voet gevlug terwyl die ander een in die motor weggejaag het.

Die inwoner het die verdagte in die motor ná ʼn hoëspoedjaagtog vasgetrek in ʼn doodloopstraat in Salisbury Park. ʼn Polisielid is na die toneel ontbied, maar die verdagte het weer daarin geslaag om weg te kom.

Die ander twee verdagtes het in ʼn taxi gespring en weggejaag. Die polisielid en inwoner kon nie daarin slaag om hulle weer vas te trek nie.

Die polisie het gesteelde goedere in die Camry opgespoor wat verbind word met ʼn huisroof Maandagnag in Pari Park. Tydens dié voorval is ’n man en sy seun vasgebind terwyl selfone, rekenaartablette, ʼn televisie, tassie en rekenaartoerusting gesteel is. Niemand is in die voorval beseer nie.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder, het die inwoner bedank vir sy hulp om misdaad te help bekamp.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Net ‘n regstelling: hierdie voorval het in Port Elizabeth plaasgevind en nie in King Williams Town nie. Pari Park en Salisbury Park grens aan die voorstad waar ek woon. Die berig was ook op die plaaslike radiostasie, Algoa FM.

Mariné Lourens ·

Dagsê Johann

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die voorval het inderdaad in Pari Park, Port Elizabeth plaasgevind. Die berig is gewysig.

Vriendelike groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.