Inwoners boos vir Tshwane oor plakkersprobleem

Die Plastic View -informele nedersetting in Pretoria. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Inwoners van Moreletapark in die ooste van Pretoria is boos vir die Tshwane‑metro omdat hy klaarblyklik niks doen om die groeiende plakkersprobleem in die gebied op te los nie.

Dit ten spyte van nie minder nie as veertien hofbevele wat reeds hieroor uitgereik is en die stadsraad onder meer verplig om alternatiewe behuising vir inwoners van Plastic View en Cemetery View te vind.

Dié nedersettings het na raming sowat 15 000 inwoners, van wie ʼn groot aantal immigrante uit ander Afrikalande is.

“Dit het tyd geword het dat politieke partye na die belastingbetalers in die woonbuurt luister,” sê Deirdré van Helsdingen van die Community Caring Forum (CCF) in ʼn sterk bewoorde brief aan Tshwane se stadsbestuurder. Die brief is geskryf kort ná ʼn onlangse brand in Plastic View.

Honderde mense is na die mees onlangse brand weer dakloos gelaat. (Foto: REZA/Twitter)

Die stad se koffers word na raming maandeliks met sowat R14 miljoen gevul wat afkomstig is van eiendomsbelasting wat die inwoners van Moreletapark betaal.

“Maar die munisipaliteit ignoreer ons versoeke vir gesprekvoering,” lui die brief wat ook aan DA‑raadslede gestuur is. Dié raadslede verteenwoordig die vier munisipale wyke in die omgewing.

Inwoners is boonop ontevrede oor ʼn toename in misdaad wat hulle glo verband hou met die groeiende getal inwoners in dié nedersettings. “Verlede jaar het ons drie moorde in Plastic View gehad. Verkragtings en aanrandings word nie noodwendig by die polisie aangemeld nie en drawwers, stappers, fietsryers, huishulpe en tuiniers word aangeval en geroof van selfone, fietse en selfs hul tekkies,” sê Van Helsdingen, ook ʼn lid van die gemeenskapspolisiëringsforum in Moreletapark.

Plastic View is twee weke gelede vir die vyfde keer in vier jaar gedeeltelik deur ʼn band verwoes. “Telkens word daar ná ʼn ramp van inwoners in die omgewing verwag om hul harte en beursies oop te maak vir diegene in nood,” sê Lex Middelberg van die Informal Settlement Forum (ISF) se Pretoria-Oos‑tak.

Middelburg sê die behoefte om ʼn aanvaarbare en permanente oplossing vir die knellende vraagstuk te vind word egter misgekyk en nooit deur die stad getakel nie.

Vier mense is vir rookinaseming en ligte brandwonde behandel toe ‘n brand in Julie in Plastic View uitgebreek het. (Foto: REZA/Twitter)

Volgens Middelberg is die stad wetlik verplig om voorsiening te maak vir hulpverlening tydens ʼn ramp en bestaan daar ook ’n hulpplan. “Tshwane begroot jaarliks hiervoor en finansier dit met belastingbetalers se geld, maar jaar na jaar het die stad nie die vermoë om hulp te verleen of die noodplan te implementeer wanneer Plastic View brand nie.”

Hy sê Gauteng se premier, David Makhura, het in 2016 ná ʼn brand in Plastic View ’n veelpartykomitee in die lewe geroep om ’n gemeenskapsgedrewe oplossing vir al die probleme te vind. Dit sou onder die vaandel van die stad se burgemeester funksioneer en die stadsbestuurder het as sameroeper opgetree.

Daar het skynbaar nog niks hiervan gekom nie.

Die DA se huidige burgemeesterskandidaat, Randall Williams, sê die stad het tot op hede geen proaktiewe optrede van die provinsie in dié verband gesien het nie. “Die stad het onder DA bestuur wel ’n nuwe vloot noodvoertuie, ambulanse en brandweerwaens vir die inwoners daargestel,” sê hy.

Die veertien hofbevele wat al so vroeg as 2008 teen Tshwane uitgereik is, behels onder meer dat alternatiewe behoorlike behuising aan inwoners van die plakkerskampe voorsien word, dat die groei van die nedersettings beheer word, en die omheining in stand gehou word. Dit plaas ook ʼn verbod op die verdere oprigting van plakkershuise en die verskaffing van sekuriteit ten einde behoorlike beheer uit te oefen oor wie daar woon en wie nuwe aankomelinge is.

“Van hierdie bevele is toegestaan toe daar maar ongeveer 200 mense in Plastic View gewoon het en nou is daar derduisende,” sê Phillip Coetzer, die voorsitter van Woodlands Lifestyle Estate se direksie en lid van die ISF.

Williams sê die DA het na die aanvanklike brand in 2016 aangekondig dat ’n nuwe ontwikkeling by Pretoriuspark‑uitbreiding 40 geïdentifiseer word, waar gesinne hervestig kon word.

“Dit het wel plaasgevind, maar die meerderheid van die mense het nie Suid-Afrikaanse verblyfreg gehad het nie.”

Williams blameer die departement van binnelandse sake vir die feit dat die verskuiwing nie afgehandel is nie. Hy sê daar was nie “beduidende ingryping” deur die departement nie.

Coetzer sê die inwoners gaan weer binnekort hof toe om Tshwane te dwing om bystand te verleen. Hy wil ook toesien dat binnelandse sake aan boord kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks

So sal hulle aan hou plak, want ONS betaal vir die plakkers! Julle gaan lank sukkel en wag en te hel nou met die regering wat ons geld so mors!

Anel

In die eerste plek, moennie vir hulle kos en geld gee. Dan, waar kom hulle oorspronklik vandaan? Dan, deporteer die buitelanders of sit hulle in kampe. Dit moet so sleg wees dat hulle uit hul eie na hul eie lande teruggaan. Ons kan nie vir almal sorg nie. Ons moet na onsself ook onsien. Dit klink dalk wreed maar dis hoe dit is. Ek kan nie net na ‘n ander land gaan en verwag hulle moet vir my sorg nie. Dis hoekom daar reëls is. Maar reëls geld mos nie in Afrika nie.

koos10

In die weste lyk dit nog erger. Kom ons stop om maandeliks te betaal. Stop ook om hulp te gee. Die plakkers kom en word meer want hulle weet daar word vir hulle gesorg. Sny die geld en hulp af en hulle sal weg beweeg.

Cherokee

Copy …waar gesinne hervestig kon word.
“Dit het wel plaasgevind, maar die meerderheid van die mense het nie Suid-Afrikaanse verblyfreg gehad het nie.” Cut
Nie dat die laaste deel van die laaste sin enigiemand betrokke gepla het nie.

Andrew

Kry n genset en hou op betaal