Inwoners dagvaar munisipaliteit ná verwoestende Knysna-brande

(Argieffoto: Koos Britz/Twitter)

ʼn Groep inwoners van Elandskraal buite Knysna in die Wes-Kaap dagvaar die Knysna-munisipaliteit vir miljoene rande nadat hulle groot skade gely het weens verwoestende brande wat in 2017 in die omgewing gewoed het.

Inwoners van Elandskraal het die munisipaliteit en brandweerdiens destyds deurentyd gevra dat die brand, wat weke lank op ʼn plaas in die omgewing gesmeul het, geblus moet word. Hulle versoeke het op dowe ore geval.

Die brand het weke later opgevlam en na Knysna versprei.

Maroela Media het vroeër berig sterk bergwindtoestande tesame met baie droë plantegroei het waarskynlik veroorsaak dat die smeulende vuur by Elandskraal, wat aanvanklik deur ʼn weerligstraal veroorsaak is, opgevlam het.

Wat daarop gevolg het, was een van die ergste brandrampe in Suid-Afrika se geskiedenis.

Sewe mense is eindelik dood in die brande wat 12 dae lank deur die omgewing gewoed het. Sowat 700 huise en ander strukture is verwoes en tussen 10 000 en 15 000 ha grond is afgebrand. Sowat 5 000 mense moes in dié tyd na veiligheid geneem word.

knysna-brande-morne-jonker

Van die lugfoto’s wat in April 2017, voor die brand versprei het, geneem is. (Foto: Morné Jonker/Facebook)

Jean du Plessis, verbonde aan die regsfirma Klagsbrun, Edelstein, Bosman & Du Plessis Ing., verteenwoordig nou 19 eisers van die Elandskraal-gebied wat die munisipaliteit vir skadevergoeding van altesaam R17,2 miljoen dagvaar.

Du Plessis het gesê inwoners meen die munisipaliteit het hulle in die steek gelaat nadat hulle telkens om hulp gesmeek het. “Die Knysna-brandweer het uitgekom, maar niks aan die brand gedoen nie. Hulle het aangedui die inwoners moet die vuur dophou. Die gevoel was dat dit moontlik sogenaamde bosslapers was wat kookvure of vure om warm te bly, gemaak het,” het Du Plessis gesê.

“In Mei 2017 is die Knysna-munisipaliteit ʼn paar keer deur verskillende mense oor die rook gekontak en gevra om te help.

“Die inwoners het selfs ʼn hommeltuig gebruik om die rook af te neem en het die video vir die Knysna-brandweer gestuur om te wys dit is nie bosslapers se vuurtjies nie, maar ʼn brand wat geblus moet word.”

Volgens Du Plessis is die dagvaarding sowat twee weke gelede op die munisipaliteit beteken, maar tot dusver is nog geen terugvoer daaroor ontvang nie.

In hofstukke voer die eisers onder andere aan die munisipaliteit het sy plig versaak om betyds behoorlike stappe te doen om die brand te blus terwyl dit nog klein en betreklik beheerbaar was. Daar is toegelaat dat die brand buite beheer raak en na omliggende eiendomme versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Ja die onbevoedgheid duur voort. Weet nou van niks, dit is hoekom hulle nog niks van hulle laat hoor het nie. Wonder of hulle die assuransie ook laat verval het soos n groot dorp naby hulle?

MrMagic ·

Meester stadsrade en die staat het ‘n traak-my-nie-agtige houding jeens die belastingbetalers en dit is hoog tyd dat dit gestop moet word. Amptenare moet ook persoonlik verantwoordelik gehou word vir alles wat hulle verkeerd doen, en wanneer hulle nalaat om hul pligte uit te voer.

VannieBaai ·

Ek sal dié tyd nooit vergeet nie. Ons was deel van vele vrywilligers wat gehelp het met skenkings aanry, kospakkies opmaak en uitdeel aan mens en dier. Knysna was donker vir ‘n hele aantal dae aangesien die as so dik was en terug grond toe geval het dat geen sonstraaltjie kon deurkom nie. So grys soos mens se somber gemoed daai tyd. Ons was hartseer om bekende dele te sien waar daar eens geboue, huise en houtstrukture was en net in as en murasies verander is. MAAR die spangees wat geheers het, die positiwieteit tussen mense wat help, die gesindheid om goedjies uit te deel aan ALMAL en die dankbaarheid in daardie ontvangers se oë te sien, het die somberheid effens gelig. Knysna het weer opgestaan, mense het saamgewerk en nuwe vriendskappe is gesmee. Ek ondersteun graag die klasaksie teen die munisipaliteit!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.