Inwoners gemaan om water spaarsamig te gebruik

Argieffoto

Argieffoto

Rand Water het Vrydag inwoners van Gauteng weer gemaan om water spaarsamig te gebruik, aangesien watertekorte dreig weens min reën.

Die maatskappy het ʼn waarskuwing uitgereik oor ʼn tekort aan grootmaat watervoorsiening vir Johannesburg, Pretoria en die Ekurhuleni metropolitaanse munisipaliteit.

“Voortdurende hoë temperature in die plekke waar Rand Water water verskaf, plaas druk op die grootmaatvoorsieningstelsel,” het Justica Mohale, woordvoerder van Rand Water, gesê. “Die gebrek aan reën in Gauteng vererger die situasie. Alle gebruikers moet water verantwoordelik en spaarsamig gebruik.”

Owerhede in Johannesburg het aangedui die stad se opgaardamme bly stabiel, ondanks ʼn beroep aan inwoners om water te bespaar.

Suid-Afrika beleef tans ʼn droogte en baie warm temperature, met KwaZulu-Natal wat die ergste hierdeur geraak word. Dié provinsie is vandeesweek tot ʼn rampgebied verklaar weens die droogte.

Maroela Media het vroeër berig Pretoria het tydelike waterbeperkings ingestel ná ʼn waarskuwing deur Rand Water. Die beperkings tussen 06:00 en 18:00 daagliks geld vir besproeiing, om tuine met ʼn tuinslang nat te spuit, voertuie met ʼn tuinslang te was en om swembaddens te vul.

Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, sal Sondag tydens ʼn perskonferensie die land se droogteprobleem bespreek en hoe dit aangespreek gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ig ·

Ek het in die algemeen met my werkers gepraat en die watersituasie verduidelik asook wat my vewagting is om water te spaar by die werkswinkel en een se kommentaar is ” Hoe kan daar n watertekort wees as die Vaalrivier vol water is”. Ek dink daar is baie werk om te doen om almal op te voed en in te lig.

ELIZE STROEBEL ·

laat die munsipaliteite ophou water spuit in parkies. ..

HENNA ·

Daar kan verseker op ander plekke water gespaar word soos parke waar daar net gele en gemors word en middel man soos in George Storrar Pretoria tot Saterdae en Sondae spuit die sproeiers … waarvoor is dit nodig ?

Yvonne ·

En hier op Richardsbaai lê my eens geil groentetuintjie verskrompeld en byna tot stof gereduseer in die warm son, terwyl die munisipale waterwerkewerkers hierdie week vir die soveelste keer moes spook om die hoeveelste gebarste waterpyp te herstel!

Theresa ·

Ons kan water spaar, verseker, ma die munisipaliteite (Tshwane) reageer net nie op pype wat stukkend is nie. By ons oprit het dit twee maande gevat om pype te kom reg maak…… Soveel water loop die pad af en mens se hart word somme seer as jy dink aan al daardie liters water wat net dood eenvoudig verlore is…..

M A ·

En dan is daar dié van ons, ek ingesluit, wat van boorgate afhanklik is. Ons moet grondbelasting betaal maar kry GEEN dienste daarvoor nie; nie water of krag of rioleering of vuillisverwydering nie. Ek het al hierdie jaar amper R100 000 uitgegee om die waterprobleem op te los en steeds geen verligting nie. Ek sou graag die geld aan die munisipaliteit wou gee in ruil vir water maar hulle water pyplyn kan net verby ons gaan na die plakkerskamp, waar krane nie toegedraai word nie, gebarste pype nie aandag kry nie en kosbare water in die veld inloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.