Inwoners raadop oor kragprobleme in Lichtenburg

‘n Kragpaneel in die hoofsubstasie het ontplof (Foto: Verskaf)

Inwoners van Lichtenburg, Noordwes, sit al sedert Donderdag sonder krag nadat ’n kragpaneel in die dorp se hoofsubstasie ontplof het. ’n Ander substasie is dieselfde dag beskadig, wat verdere kragonderbrekings veroorsaak het.

Dele van die dorp se kragtoevoer is teen Dinsdagoggend herstel, maar talle inwoners sit steeds sonder krag.

Boonop loop inwoners se krane ook droog ná van die waterpompe by die dorp se waterwerke deur die kragonderbreking belemmer is. Die dorp word al die afgelope agt jaar deur waterkrisisse lamgelê, en inwoners het daagliks slegs twee uur lank water.

Lichtenburg het Oktober verlede jaar óók vyf dae lank sonder krag gesit en inwoners is keelvol vir die Ditsobotla-munisipaliteit, wat Lichtenburg bedien, se versuim om hul infrastruktuur te onderhou.

Die munisipaliteit het aanvanklik in ’n verklaring gesê inwoners sal nie langer as twee dae sonder krag wees nie. In nóg ’n verklaring wat Maandag uitgereik is, sê die munisipaliteit hy werk om krag so gou moontlik na geraakte dele te herstel. Die oorsaak van die ontploffing word ook nog ondersoek.

Volgens Jacqueline Theologo, die DA-kiesafdelingshoof in Lichtenburg, moes die munisipaliteit ’n kontrakteur van buite inkry om die herstelwerk te doen en daarom het die herstelproses langer geneem as wat beplan is.

Volgens Theologo het die munisipaliteit nie sy eie kontrakteurs of planne vir wanneer ’n situasie soos dié voorkom nie.

“Die kontrakteur het ander foute in die proses waargeneem. Weens die munisipaliteit se skynbare versuim om oor die jare die infrastruktuur te verbeter en in stand te hou, gaan dit ten gronde.”

Kos vrot, ondernemings staan stil

Die inwoners in Lichtenburg sit al die afgelope vyf dae sonder krag (Foto: Verskaf)

Die kragonderbreking het omstandighede vir siekes en bejaardes ontwrig, ondernemings staan stil en kos word sleg in inwoners se ys- en vrieskaste.

Pius Batsile, munisipale woordvoerder van die munisipaliteit, sê hulle besef die kragonderbreking het verreikende gevolge vir inwoners en wil glad nie hê dié situasie moet hom herhaal nie.

Volgens Rehet Theron, ’n sake-eienaar op die dorp, staan haar onderneming die afgelope vyf dae stil omdat sy nie krag het nie. “Ons is geseënd om ’n kragopwekker te hê, maar moes ongeveer R1 000 vir twee dae opdok om petrol daarvoor te koop.”

Die Clover-kaasfabriek – wat ’n groot trots en verskaffer van werk vir die inwoners van Lichtenburg is – skuif juis nou na KwaZulu-Natal weens die voortdurende krag- en waterprobleme.

Volgens Theron sukkel die skoolkoshuise en ondernemings in die dorp sonder water. Dít terwyl matrieks nou eindeksamen moet skryf.

“Daar is talle behoeftige gesinne wat nie die voorreg het om ’n kragopwekker of gas te hê nie en hulle word aan hul eie genade oorgelaat,” vertel Theron.

Volgens Theologo ly talle bejaardes wat van suurstof afhanklik is, ook onder die kragonderbreking.

“Dit is ’n groot slag vir die dorp en sy ekonomie,” sê Theologo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Solank die ANC aan bewind is van ons land sal dit nie beter gaan nie.

Di ·

Ja, so val al die wiele uiteindelik af danksy ‘n korrupte regering wat niks in stand hou vir 28 jaar nie. Die land is met die spoed van lig besig om totaal en al ineen te stort

marius ·

Geen krag . Geen water . Hulle is te sleg om krag opwekkers aan te koop om die water pompe aan te skakel . TE SLEG !

Baardman ·

En ons neem aan daar is vir dieselfde party gestem in die munisipale verkiesing.

Di ·

ja sal tot in ewigheid vir die korrupte spul stem net om die grants te kry!

Magda ·

Wonder vir wie het hul nou gestem.? Het nou n gulde geleentheid gehad om van die ou stelsel ontslae te raak. As hul nogsteeds vir ANC gestem het, kry ek hul nie jammer nie.

Ellie ·

Hulle het seker al ‘n paar keer gulde geleentheid gehad, maar die fondse gaan gatsak toe… hoekom bekommerd wees oor die instandhouding van enige iets in ons dorpie..tot jy jou maand se vleis moet verloor.. :(

Pieter ·

Maar ouer people stem nog steeds vir die sleg anc kommuniste gemors.

Jakes ·

Die munisipaliteit is n klomp patete. Duidelik het hulle nie krag nodig nie want daar word kos gekook in n konka buite en water is ook nie n probleem nie. Bad eenmaal in die somer en nie so gereeld in die winter nie.

Keelvol ·

Kom bly in Ekurhuleni, dan sien julle wat is krag onderbrekings. Met die voortgeslepe krag snert, gaan ons binnenkort by die 100 tal draai net vir die jaar.

Pietertjie ·

Pleks die kiesers aldaar is raadop met die ANC. Maar nee, ons stem nog steeds volgens politieke beloftes.

JohanR ·

Moenie bekommer nie Lichtenburg….Zimbabwe, Zambia en Mozambique kry nog elke dag hulle krag….geen verbreekings nie.

Erna ·

Beslis meer as 2 keer per jaar. Hierdie is ‘n maandelikse storie wat daar kragprobleme is in Lichtenburg vir dae lank.
2 weke voor die grappie, was ons ook 3 dae sonder krag.

Philip ·

Die fout is duidelik volgens die foto sigbaar met n kabelent wat ontplof het en kan binne 1dag herstel word en dit sluit in die herstelwerk op die paneel plus diens daarvan. Indie selfde tydperiode kan die kabel gesny/ gelas en n nuwe konneksie aan die kabelverbindings gedoen en getoets word. Ek kan nie sien waarom dit so lank neem om die onderbreking herstel te kry nie.Mense met die kennis en ondervinding is nog baie en skud net hulle koppe in ongeloof vir die kaderbeheerde se kennis.

AmY ·

Ek ken hulle pyn.
Ons was een jaar vir agt dae sonder krag gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.