Inwoners raadop oor waterkrisisse in Mpumalanga

Argieffoto: Pixabay

Inwoners van Volksrust en Bethal sit hande in die hare oor watertekort wat dié twee dorpe in Mpumalanga lamlê.

Volgens inwoners staan gemiddelde damvlakke in die Volksrust-omgewing tans op 5%, ʼn probleem wat toegeskryf word aan die droogte, maar ook aan beweerde wanbestuur in die plaaslike munisipaliteit. In Bethal, sowat 120 km noord van Volksrust, word waterprobleme aan ʼn agterstallige rekening by die plaaslike waterraad toegeskryf.

Albei dié dorpe se krane droog sedert Desember verlede jaar plek-plek op en inwoners moet daagliks planne beraam om water in die hande te kry.

Volgens Veronica Serfontein, ʼn inwoner van Volksrust, het inwoners op dié dorp op 7 Desember verlede jaar vir die eerste keer van die dorp se waterkrisis te hore gekom toe die plaaslike koerant daaroor berig het. Inwoners is in die berig ingelig van die lae damvlakke en aangesê om waterbesparingsmaatreëls in te stel.

Teen 23 Desember het verskeie dele reg oor die dorp se krane reeds opgedroog.

“Die Pixley Ka Seme-munisipaliteit moes die situasie gemonitor het en ons op die hoogte gehou het dat die damvlakke drasties daal. As daar ’n krisis was, moes hulle dit so gekommunikeer het,” sê Serfontein.

Sy vertel dat die gebied wel baie droog is en dat dié omstandighede beslis ʼn invloed op die situasie het. “[Die watertekort] is weens die droogte, maar dit [die watervoorraad]kon beter bestuur word. Ons het begrip daarvoor dat hulle nie vir almal water kan verskaf met ’n watervlak van 5% nie, maar ons is in die duister gehou gedurende Desember.”

Gebiede soos Mountainview, Rooibult en die middedorp word die ergste geraak. Volgens Serfontein is dit kommerwekkend aangesien al die sakeondernemings in die middedorp geleë is.

“Daar is ’n gevoel van paniek onder die inwoners. Ons weet dat dit nie voorkom kon word nie, maar as die munisipaliteit dit kon bestuur soos in die Kaap, kon ons meer bewus gewees het van die krisis en uit ons eie uit begin water bespaar het.”

Serfontein glo egter dat nie alle inwoners weet hoe om water te bespaar nie. “Daar moet opleidingsprogramme begin word om mense meer bewus te maak van die alternatiewe – hoe om minder te gebruik en water op te gaar.”

ʼn Bietjie goeie nuus vir Bethal

Maroela Media het vroeër berig dat Bethal-inwoners nét so raadop met die watersituasie op hul dorp was, maar dat dié situasie intussen verbeter het. Die waterprobleem is toegeskryf aan die feit dat die Govan Mbeki-munisipaliteit in Bethal vir Rand Water, ’n skema wat water vanuit die Vaaldam aan dorpe in Mpumalanga verskaf, sowat R151 miljoen skuld.

As gevolg hiervan is dié dorp se watertoevoer gevolglik met minstens 20% beperk en sekere gedeeltes in die dorp wat die hoogste geleë is, is sonder water gelaat. Gebiede soos uitbreidings 3, 8 en veral Bethal Rand was erg hierdeur geraak.

Volgens Marietjie Fourie, ’n DA-wyksraadslid in Bethal, is daar egter onlangs’n ooreenkoms met Rand Water bereik en ’n betaling is sedertdien gemaak. Dit is in dié stadium onduidelik hoeveel van die skuld vereffen is, maar die beperking van 20% is ná die ooreenkoms opgehef en watertoevoer in die dorp is verhoog.

Fourie glo dat die ooreenkoms groot verligting op die dorp gebring het aangesien net sowat twee uitbreidings in die dorp nog sonder water sit.

Een van die uitbreidings wat geraak word, sluit die Jim van Tonderskool in. Dié skool huisves kinders van talle dorpe in die omgewing en moes sy deure verlede week tydelik sluit.

“Dít is steeds ’n groot bekommernis. Dáár is nie ’n druppel water nie,” sê Fourie.

Fourie verduidelik dat die twee uitbreidings moontlik nog nie water het nie as gevolg van die waterstelsel wat lank vat om vol te loop óf inwoners wat almal gelyk water tap noudat daar weer water is. “Miskien is daardie uitbreidings net die wat laaste aan die beurt kom.”

Sy meen dit is ook moontlik dat ’n tegniese fout die watertoevoer na hierdie uitbreidings kniehalter. “Dit is darem nou makliker om vir hierdie mense water te gee met behulp van watertrokke aangesien dit ’n kleiner area as vroeër is waar water nou afgelewer moet word.”

Fourie sê egter dat die verhoging in watertoevoer vanaf 60% na 80% steeds nie voldoende is vir die dorp nie. “Dit is net ’n tydelike oplossing. Ons kort 100% watertoevoer.”

Sy glo dat waterbeperkings voorlopig in werking moet bly en dat inwoners ingelig moet word oor die erns van die saak.

Maroela Media het albei munisipaliteite om kommentaar genader, maar wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bronwyn ·

Sommige dele van Bethal het wel eergister begin om water te kry maar ons sit nog al die pad met niks. Dis omtrent ‘n kwart van die dorp wat nog sonder water sit en so gaan dit al langer as ‘n maand. Water is ‘n mens se “LIFELINE” jy kan dit nie weg vat van ‘n mens nie. Dis ons reg op water. Gaan die GMM verantwoordelikheid vat as iemand moet sterf van besmette water want ons iewers moes gaan uitkrap het??????? Raadop!

Laevelder ·

Kyk na die paaie ook. Sabie en Graskop ook groot probleme met water. Dan kan jy maar township toe ry. Jy sal ten minste twee straatkrane kry wat n rivier water straat af laat weg loop. Dit kom mos gratis. Hoekom bodder om kraan toe te draai.

Alida ·

Is dit ANC beheerde stadrade? Indien wel is mens nie verbaas nie.

Anoniem ·

Want bestuur het net nie die vaardighede om water te bestuur nie – so sal hulle voortploeter ! Wat gee hulle om solank bestuur net ‘n vet tjek kry aan die einde van die maand ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.