Inwoners soek dringende ingryping vir misdaad op Tafelberg

Tafelberg-kabelkarre. (Foto verskaf deur die Tafelberg-sweefspoormaatskappy (TMACC))

’n Petisie wat SANParke versoek om misdaad op Tafelberg dringend te pak, is teen Vrydag al deur 5 500 mense onderteken.

Vriende van Tafelberg, ʼn openbare bewaringsforum wat die petisie van stapel gestuur het, sê die Tafelberg Nasionale Park (TNP) word al geruime tyd deur misdaad geteister en dat SANParke as bewaarder van die TNP ʼn verantwoordelikheid het om dit te bekamp.

“Ondanks sy natuurlike prag, word die TNP lank reeds geteister deur ongekende vlakke van misdaad wat sy beeld aantas en besoekers weerhou om sy wonders te verken,” lui die petisie.

“Daaglikse voorvalle van onder meer roof, basstropery, bosvernietiging en brande wat deur bosslapers en godsdiensgroepe begin word, is nou algemeen. Hierdie oplewing in misdaad vereis onmiddellike optrede. As die bewaarder van die TNP het SANParke die mandaat en verantwoordelikheid om ’n omvattende kort-, medium- en langtermynplan te ontwerp om alle vorme van misdaad in die park te bekamp.”

Indien ’n plan nie binnekort beraam word nie, vrees die groep dat die park heeltemal ontoeganklik sal word en die toerismebedryf in Kaapstad – wat ’n groot bron van werkskepping is – ernstig sal knou.

Die groep sê verder dat SANParke veels te min hulpbronne aan die TNP toeken om die ernstige misdaadprobleem te pak – ondanks die feit dat park hoogs winsgewend vir SANParke is.

“Vir die 2022‑’23-boekjaar het die park ’n indrukwekkende R298 miljoen gegenereer, waarvan slegs R97 miljoen aan die park toegeken is. Dít is onaanvaarbaar.”

Om hierdie situasie reg te stel, eis Vriende van Tafelberg die volgende onmiddellike en langtermyningrypings:

  1. Die onmiddellike werwing van meer veldwagters. Daar is tans 70 gekontrakteerde veldwagters, maar die groep eis dat dit tot 140 verdubbel word om sigbare polisiëring te verhoog en besoekers te beskerm.
  2. Verbeterde veiligheidsinfrastruktuur, insluitend ’n omvattende kamerastelsel en -netwerk by sleuteltoegangspunte in die park, asook die herstel van beskadigde heinings.
  3. ʼn Omvattende veiligheidsplan wat samewerking tussen SANParke, die TNP, polisie en ander wetstoepassers bevorder.

“Dit is noodsaaklik dat SANParke hom verbind tot ’n aansienlike verhoging in die TNP-bedryfsbegroting, wat die huidige toekenning minstens verdubbel. Dit is van kardinale belang om maatreëls in te stel wat die konsekwente veiligheid van parkgebruikers met selfvertroue kan verseker.”

‘Soos glas wat oorloop’

Kosta Papageorgiou, voorsitter van die organisasie Vriende van Leeukop en die Seinheuwel-openbarebeskermingsforum, het aan Maroela Media gesê daar is maar nog altyd misdaad op die berg. Hy het die situasie egter met ʼn glas vergelyk waarin water stelselmatig oor ʼn tydperk drup: As die water nie toegedraai word nie, gaan dit een of ander tyd oorloop.

En dit is presies wat nou besig is om op Tafelberg te gebeur.

Papageorgiou sê die situasie vererger namate misdadigers al meer op hul gemak raak omdat hulle sien hoe “SANParke op hul louere rus”.

“Ek hou nie daarvan om almal oor dieselfde kam te skeer nie. Daar is baie goeie mense by SANParke wat hul werk doen. Hulle word egter oordonder deur dié wat nie hul verpligtinge nakom nie en bloot ʼn salaris wil trek.”

Hy meen SANParke gebruik al lankal die verskoning dat die TNP te groot is en dat hulle nie “oral kan wees nie”.

“Hulle vergeet dat hulle ongeveer R300 miljoen per jaar aan inkomste [in Kaapstad] genereer. Hulle vra internasionale besoekers aan die Kaappunt-natuurreservaat R400 per persoon net om in te gaan.”

Dit is afgesien van die derduisende rand wat uit ander geriewe gegenereer word – insluitend die Tafelberg-kabelkarretjies.

“Hulle [SANParke] maak hope geld, maar die geld word nie proporsioneel en volgens die behoefte van die onderskeie parke versprei nie. Die TNP is onderbeman met verskeie vakante poste – selfs op leierskapsvlak.

“Ons probeer met hulle praat, maar hulle luister nie.”

Papageorgiou sê hulle is “siek en sat” vir SANParke se leuens en verskonings, en die klaarblyklike gebrek aan samewerking tussen SANParke en die Stad Kaapstad.

Om dié rede het Vriende van Leeukop en Seinheuwel, Vriende van Tafelberg, die buurtwag Table Mountain Watch en verskeie ander rolspelers ʼn vergadering belê om ʼn veiligheidsentiteit te vestig wat deur SANParke gesteun kan word.

Dit sal soortgelyk wees aan ʼn soek-en-reddingsentiteit waarby vrywilligers uit die gemeenskap betrokke kan raak.

“Hoe meer oë en ore jy op die berg het, hoe minder is die kanse wat die slegte ouens kry.”

Papageorgiou sê die betrokke rolspelers het reeds ʼn veiligheidsmonitorgroep op WhatsApp opgestel waar veiligheidsdata en inligting gedeel kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ilse ·

Die area moet gereeld met honde gepatroleer word, en al die onwettiges moet dan aangekla word van betreding.As hulle weer gevang word moet hulle toegesluit word.

Andre ·

…dis alles maar net deel van die langtermyn strategie van die A en C.
Hulle het nog planne vir die Wes Kaap voor die verkiesing!

Hennie Biebouw ·

Wetstoepassing in Suid-Afrika val onder die nasionale regering, dws ANC.
SANPARKE val onder die jurisdiksie van die Nasionale Regering, dws die ANC.

Niks sal gebeur nie. Niks sal verbeter nie. Dit sal dalk baat as die Wes Kaapse se regering toeriste waarsku om tafelberg Nasionale Park te vermy weens die misdaad, en ook sommer aan toeriste verduidelik presies wié hul pligte versaak.

Samuel ·

Dit is nie net in die TNP waar misdadigers oorneem nie. Oor die hele land neem misdaad toe juis omdat misdadigers weet die regstelsel is korrup.

Minnie ·

Misdadigers weet hul kom weg met als. Toeriste moet vergesel word deur ordentlik opgeleide en gewapende sekuriteit. Bewaarders is nie goed genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.