Die Gautengse regering het mense in Lawley en Ennerdale, suid van Johannesburg, gewaarsku om nie grond te beset wat nie aan hulle behoort nie.
Die provinsiale departement van menslike nedersettings het Dinsdag gesê inwoners van Lawley uitbreiding 4 en Ennerdale uitbreiding 6 wou oor die naweek onwettig plakkershutte by erwe oprig. Die Johannesburgse metropolisie is ontbied om hulle te verhoed om dit te doen.
Die departement sê die suide van Johannesburg het een van die grootste grondgrype in die provinsie beleef toe sommige individue en sindikate regeringsgeboude huise gesteel en dit verkoop het.
“Ons het aan die inwoners van Ennerdale en Lawley verduidelik dat ons planne in plek gestel het om hierdie gebiede te ontwikkel om die las van behuising te verlig,” het Dan Bovu, lid van die burgemeesterskomitee oor behuising, gesê. “Een van die vertragings is die verbinding aan water en riolering en sodra dit opgelos is, kan die konstruksiewerk begin.”
Ntombi Mekgwe, LUR vir menslike nedersettings, het gesê die dade is onverantwoordelik en dui op ʼn gebrek aan leierskap. -SAPA