Inwoners ‘uit huise gedwing weens Covid-19’

Inwoner se huise in die Dennebos-oord in Ceres. (Foto: Verskaf)

Semi-permanente inwoners van die Dennebos-oord in Ceres in die Kaapse Wynlanddistrik moes inderhaas alternatiewe verblyf vind nadat hulle glo deur die munisipaliteit uit hul huise gedwing is. Dit nadat die Witzenberg-munisipaliteit die oord se hekke gesluit het, glo weens die algehele stand van afsondering wat sedert Donderdag in Suid-Afrika van krag is.

Daar is nou sprake dat die oord as kwarantynsentrum gebruik gaan word vir mense wat moontlik Covid-19 het, maar inwoners kla húlle is nou uitgelewer aan die virus.

Anzél du Toit, ʼn inwoner van Ceres, se werknemer is een van minstens 20 mense wat as semi-permanente inwoners in die Dennebos-oord woon en Donderdag haar huis moes verlaat. Du Toit sê dat haar werknemer ʼn huurkontrak met die munisipaliteit het, wat hulle toelaat om slegs ʼn bepaalde tyd op die grond deur te bring, “soos ʼn vakansiehuis”.

“Vir die afgelope drie tot vyf jaar is daar egter verskeie mense wat permanent daar woon. Die munisipaliteit het nog nooit teen hulle opgetree of enige regstappe gedoen nie. Daar was ʼn soort mondelinge ooreenkoms dat die mense daar kan bly.

“Verlede week Donderdag voor die ‘lockdown’ is hulle skielik sonder kennisgewing en sonder ʼn hofbevel uitgesit,” sê Du Toit.

Persone tussen die ouderdom van 21 en 80 jaar in die oord. Waar sommiges aanvanklik in woonwaens gewoon het, is dit later, op eie onkoste, met houthuisies vervang.

Een van die jongste inwoners van die oord, Yentl Visser (21), haar kêrel en hul nege maande oue baba,is van dié wat Donderdag uitgeskop is.

‘n Inwoner se huis in die Dennebos-oord in Ceres. (Foto: Verskaf)

Haar pa was eers ʼn gereelde vakansieganger by die oord en het later permanent daar begin woon. Visser verduidelik dat sy weens finansiële redes in 2018 van Kaapstad na die oord verhuis het. Sy woon al twee jaar hier saam met haar kêrel. “Daar is geen reëls waarvolgens ons moet optree nie. Niemand het voorheen beswaar teen ons aangeteken nie”.

Volgens Visser is daar ʼn bietjie meer as ʼn week gelede (Vrydag 20 Maart) ʼn A4-bladsy uitgedeel wat lui dat die Dennebos-oord in Ceres met onmiddellike effek gesluit is. “Hulle sou ons oor daardie naweek kom uitsit, maar niks het gebeur nie.”

Nog ʼn inwoner, wat anoniem wil bly, sê die A4-kennisgewing het haar onrustig gemaak, maar die opsigter, Ryno Africa, het vir haar gesê sy het niks om oor bekommerd te wees nie.

Sy het sowat drie jaar gelede weens die sukkelende ekonomie noodgedwonge saam met haar man na Ceres verhuis om permanent in hul vakansiehuis by die oord te gaan woon. “Die munisipaliteit was bewus daarvan dat mense permanent hier woon,” sê sy.

ʼn Week het verloop sonder dat daar met die inwoners gekommunikeer is. Donderdag 26 Maart om 21:00, slegs ure voor die tydperk van algehele inperking in werking getree het, het ʼn plaaslike veiligheidsdiens by die oord opgedaag.

“Dis die grootste trauma wat ek in my lewe deurgegaan het” sê die inwoner.

“Hulle het die mense in hul motors forseer en gesê hulle moet onmiddellik uit [hul huise]. ʼn Bejaarde paar moes laat in die aand na hul kinders in Gansbaai ry. Daar is vir almal, jonk en oud gesê: ‘Julle beter nou julle klere vat en in julle motors klim’. “

Visser is met haar nege maande oue baba en kêrel, haar pa en sy lewensmaat na ʼn familielid in Bella Vista, ʼn woonbuurt in Ceres. Sy sê hulle is nou meer as ooit blootgestel aan die koronavirus.

“In Dennebos was ons drie mense in ʼn huis. Nou is ons tien mense met geen warm lopende water nie.”

Africa, die tydelike opsigter, het aan Maroela Media gesê alle gerugte dat inwoners sommer so uit hul huise gedwing is, is “onwaar” en enige ander vrae moet aan die munisipale bestuurder, David Nasson, gerig word. Dié het aan Maroela Media gesê niemand is veronderstel om permanent in die Dennebos-oord te woon nie. “Ons sukkel al drie jaar om die huurkontrakte te finaliseer. Mense is oneerlik as hulle sê hulle bly permanent hier.”

Nasson sê daar is ʼn kennisgewing oor die ontruiming uitgestuur.

“Niemand is onder dwang verwyder nie. Een inwoner het ʼn dispuut verklaar en vir haar is alternatiewe verblyf verskaf, wat sy aanvaar het. Die ander het [die plek] vrywillig ontruim.”

Die Dennebos-oord in Ceres. (Foto: Verskaf)

Volgens Nasson is die idee dat inwoners hul vakansiehuise slegs vir die tydperk van afsondering verlaat. Daarna kan hulle terugkom.

Verskeie inwoners met wie Maroela Media gepraat het, sê dit is nie só aan hulle gekommunikeer nie. Hul jaarlikse heffings aan die munisipaliteit is boonop tot Junie 2020 betaal.

Nasson hou voet by stuk dat hulle die oord vir twee redes moes sluit.

“Eerstens dwing die nuwe regulasies alle openbare geriewe om te sluit. Tweedens het die Witzenberg-munisipaliteit die Dennebos-oord as ʼn moontlike gebied vir ʼn kwarantyn-sentrum geïdentifiseer – weens die oord se grootte en omdat dit oorkant die munisipale hospitaal geleë is.”

“Dit is nog nie seker wanneer en óf die oord as ʼn kwarantynsentrum gebruik gaan word nie. Tans is hier nog geen [Covid-19] gevalle nie,” sê Nasson.

Du Toit is sedert Vrydag met die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die DA tussentydse-leier, John Steenhuisen, en die Menseregtekommissie in kontak.

Die deeltydse provinsiale kommissaris van die Menseregtelommissie, Chris Nissen, het aan Maroela Media bevestig dat daar ʼn taakspan na Ceres onderweg is om die betrokke owerhede oor die kwessie te spreek.

ʼn Bewoë Dennebos-inwoner het gesê: “Ja ek verstaan as hulle wil hê ons moet gaan, maar die manier waarop hulle dit doen is nie reg nie. Dit is ʼn ‘sad’ situasie. Waar ons veilig in ons huise was is ons nou aan die virus blootgestel.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Hoe kan mense 21:00 in die nag uit hulle huise gedwing word? Hulle bly in ‘n gesonde omgewing net soos mense in’ n kompleks, lyk dit my. Wat van hulle besittings? Maar nou ja, soos dit vir my lyk is dit nie “our people” nie. Wat is die verskil tussen hierdie mense en die die lot wat in plakkerskampe bly? Hiekom word hulle hutte wat op mekaar is nie toegemmak en die inwoners gedwing om ander te gaan woon nie? Ons is besig om in ‘n militerestaat te verander. Waar is die mense se menseregte, of geld dit net sekerelede… Lees meer »

Gawie

Die situasie is baie duidelik – ‘n week voor die tyd is almal in kennis gestel dat hulle die huise moet ontruim. Omdat daar niks gedurende die eerste naweek gebeur het nie, het hulle gedink niks gaan verder gebeur nie. Toe die bestuur egter die uitsetting uitvoer, is almal vies vir hulle. Hulle het ‘n week gehad om voor te berei.
Ek is jammer vir hulle vir hulle persoonlike situasies, maar moenie die stadsraad blameer as jy nie van die tyd gebruik gemaak het wat jou gegun is nie.