Inwoners van Delmas-omgewing raadop met waterkrisis

Argieffoto: Wikimedia

Inwoners van Delmas en omliggende gebiede in Mpumalanga sit met hul hande in die hare aangesien dié gebiede al langer as ʼn maand sonder lopende water sit – met geen verligting op die horison nie.

Die Victor Khanye-munisipaliteit skuld Rand Water miljoene rand, staatsdepartemente skuld die plaaslike owerheid miljoene rand en intussen ly inwoners hieronder.

Dié munisipaliteit in Mpumalanga bedien onder meer gebiede soos Delmas, Botleng, Rietkol, Eloff en Sundra. Dit is glo veral Rietkol, Eloff en Sundra wat deurloop onder watertekorte.

“Hierdie is ʼn krisis,” het Diane Bath, DA-wyksraadslid in die munisipaliteit, gesê.

Die munisipaliteit skuld Rand Water nagenoeg R101 miljoen in agterstallige skuld en watertoevoer na die munisipaliteit word sedertdien beperk.

Die munisipaliteit skuld Eskom glo ook sowat R100 miljoen.

“Volgens inligting wat aan die DA gegee is, skuld staatsdepartemente in Mpumalanga, waaronder die departemente van openbare werke, menslike nedersettings, gesondheid, ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapsveiligheid, die Victor Khanye-plaaslike munisipaliteit R14,6 miljoen vir basiese dienste soos vullisverwydering, sanitasie en water, asook huurgeld,” het Bath gesê.

“Dit is uiters kommerwekkend omdat munisipaliteite staatmaak op dié geld wat vir dienste betaal word, om te oorleef. Hoe verwag die ANC moet die Victor Khanye-plaaslike munisipaliteit dienste aan die armes lewer as dieselfde regering nie betaal vir dienste nie.”

Bath sê dié departemente moet ʼn voorbeeld stel en onmiddellik hulle skuld vereffen.

Sy sê die agterstallige skuld kan gebruik word om onder meer die munisipaliteit se rekening by Rand Water te begin vereffen.

Die munisipaliteit bou in dié stadium die waterdruk in opgaartenks op strategiese tye op, sodat inwoners minstens sóms lopende water het. Watertenks is ook op verskillende plekke geplaas, en word twee keer per dag opgevul.

Dis egter veral inwoners van hoërliggende gebiede wat die afgelope maand selde kraanwater gehad het.

Samantha Hebler, ʼn inwoner van Sundra, sê sy betaal getrou haar munisipale rekening, maar die krane bly droog. “Ons kan nie bad of wasgoed was of die toilette spoel nie. Ek gaan bad omtrent elke tweede aand by my broer in Springs,” het Hebler gesê.

Sy gaan haal water by die tenks wat die munisipaliteit verskaf. “Dis glad nie lekker nie. Ons betaal ons water. Ek weet nie wat die munisipaliteit met die geld doen nie. Ek wil nie nié betaal nie, maar die munisipaliteit gee klaarblyklik nie om nie,” het sy gesê.

Die DA sê daar is intussen by die provinsiale tesourie om hulp aangeklop.

Letshela Jonas, woordvoerder van die provinsiale tesourie, het by navraag gesê die provinsie het staatsdepartemente vantevore al gewaarsku dat daar streng teen hulle opgetree gaan word as hulle versuim om hul skuld aan plaaslike owerhede te betaal.

Hy het gesê in sommige gevalle kan die tesourie selfs geld van dié agterstallige departemente terughou om hulle skuld te vereffen.

Maroela Media wag nog op terugvoer van Sentebaleng Masemola, woordvoerder van die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

marous ·

Kan net sowel agteruit in die see inloop met ‘n rots om jou nek , vir ‘n jaar lank , en hoop jy verdrink nie .

Andre Stander ·

Haa Haa Ha!! Mooi man, stem nog so n bietjie anc

: ]

Johan ·

Dit is waarom sekere “mislike-paliteite” nie skoon oudits kry nie. Die geld wat inkom word verkwis en uiters belangrike rekenings word nie betaal nie. En dan weier ‘n baie groot deel van die bevolking om vir munisipale dienste te betaal (dis ‘n erfenis van politieke beloftes van die ANC)

Jan du Plessis ·

Goeie dag, dis net n hartseer storie, dat die hoof dorp, Delmas, water het en ons in Sundra/Eloff en omliggende areas die prys moet betaal om gebuk te gaan sonder water voorsiening. Dit as geheel is onregverdig.

Piet parys ·

So wie is in beheer van n land waar alles buite beheer is . Daar was mos ń gewoonte deur die regering gekweek alles is mahalla en nou word hulle water toevor verminder en was dit nie onwettig om mense se water af te sny nie dit is ñ basiese reg volgens die regering of is ek verkeerd.

Jo-Ann ·

Ons woon 10 jaar al in Rietkol. Die mense van die vicktor khanye is die mislikste mense wat ek ooit tee gekom het. Hulle neem nie in ag ons belasting betalers betaal hulle salarisse nie. Hulle dink hulle doen jou ‘n helse guns as jy iets nodig het. Die water situasie is iets vreeslik mense moet op en af ry vir water, dieselfde mense soos ons wat elke maand getrou betaal. Vklm gee nie om nie meeste van hulle woon in Delmas. Delmas het water. Daar is nooit geld vir ons paaie nie ek betaal my erfbelasting en dis nie ‘n R100 of R200 pm nie, hulle kan nie ons paaie kom opvul of skraap nie want daar is nie geld nie. Wel nou sê ek vir vklm ek het ook nie meer geld vir julle nie die huishouding betaal nie weer ‘n sent nie.

AttieNo1 ·

Ja, ons moet aanhoudend heraal: Julle verdien dit! Elke keer as munisipaliteite alles ten gronde laat gaan en mense begin kla of protesteer:Julle verdien dit! Mense verdien die regerings wat hulle het en in ‘n demokrasie dubbel soveel.

Pieter Senekal ·

Die feit dat departemente van n provinsiale wetgewer n munisipaliteit 14.6 miljoen rand skuld is onaanvaarbaar. Dit is egter n druppel in die emmer van dit wat VKLM aan RWR ( R101 miljoen) en Eskom (R139 miljoen) skuld. Die werklike skuld vir die situasie waarin ons onself bevind moet vierkantig gelè word voor die deur van die munisipale bestuurders en ander senior bestuurders oor jare wat nie hulle werk gedoen het nie en die raadslede wat nie hulle verantwoordelikheid nagekom het nie om toesig te hou oor die begroting en werksaamhede van amptenare nie. Na my mening is daar 3 redes vir hierdie situasie. (1) Dat gelde wat deur verbruikers betaal is nie aan RWR betaal is nie. (2) Talle water lekasies by meters wat nie herstel is nie, hierdie water is deur niemand betaal nie maar deur RWR aan VKLM gefaktureer is. (3) Daar was geen gevestigde kredietbeheer beleid nie, of is nie toegepas nie. Die VF+ het n klag by die Openare Beskermer gelè, ons wil weet wat het geword van die geld wat deur verbruikers aan VKLM betaal is. Ons sè ook dankie aan mense, sakemanne, boere en ons buurtwag wat baie doen om ons gemeenskap by te staan.

Elize Nicholas ·

Ek woon op Delmas. En ja ons het nog water, voel jammer vir Eloff en Sundra se inwoners.
Ons dorp is besig om weg te kwyn. Die strate is vieslik vuil. Stukkende karavane word in die hoofstraat parkeer waaruit mense besigheid doen. Geen straatligte, paaie stukkend.
Nou onlangs het n plakker sy “shack” sommer op n sypaadjie opgeslaan. En JA die Victor Khanye personeel is van die onbeskofste mense op die planeet. Ek probeer al jare om my adres by die M/paliteit reggestel te kry. Hulle sê hulle kan dit nie verander nie.

Stephani ·

My pa sit met ‘n wond op sg been waar hy afgesit is.
my ma het die naweek haar been se velle afgebrand oor sy kook water moet aandra oralste heen.
my sussie het ‘n prem-baba… maar steeds geen water.
geen hoop.
Geen leiding!

Sandra ·

Ek voel baie hartseer vir julle. Al wat ek kan doen is a gebed te doen en dat God iets spesial vir julle gaan doen.Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.