Inwoners van Ladybrand kla oor pikswart water

Die water wat uit die inwoners van Ladybrand se krane kom, is pikswart (Foto: Verskaf)

Inwoners in talle dorpe regoor die land is al raadop oor waterkrane wat alewig kurkdroog is. Wanneer dorpe wel drinkwater het, lyk dit soms soos rioolwater wat uit krane stroom. In die mees onlangse geval het inwoners van Ladybrand in die Vrystaat die afgelope weke gekla oor hul drinkwater wat pikswart en byna ondrinkbaar is.

Tania Halse, ’n DA-raadslid van die Mantsopa-munisipaliteit in Ladybrand, sê die dorp se water is al die afgelope jare by tye só vuil.

“Die dorp se water is nie volgens standaard nie. Ek het sedert 2016 nog net een waterkwaliteittoets van die dorpswater onder oë gehad,” sê Halse aan Maroela Media.

Halse sê sy het al sedert die waterprobleem in die dorp ontstaan het, talle briewe aan die munisipale raad gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie. Die DA het vandeesweek ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) oor die gehalte van water ingedien. Inwoners het self ook al talle navrae aan die munisipaliteit oor die waterprobleem gerig.

“Mense se gesondheid word in gevaar gestel deur hulle aan sulke vuil water bloot te stel.”

Halse het drie weke gelede die watersuiweringsaanleg in Ladybrand besoek en uitgevind dat die meganiese arms wat gebruik word om die slik uit die water te verwyder, nie werk nie. Die water, met slik, word uit die Cathcartdam na die aanleg gepomp en dié arms word gebruik om die slik te verwyder voordat die water na die filtreringstelsel gepomp word. Sonder hierdie meganiese arms word die slik saam met die water na die inwoners se krane gepomp.

“Daar word verneem dat dié arms al vir maande buite werking is. Ek het ’n brief aan die munisipaliteit gerig en gevra of hulle bewus is hiervan.”

Halse sê die hoëdrukspuit wat gewoonlik gebruik word om rioolverstoppings oop te spuit, word nou gebruik om die verstopte waterpype by die watersuiweringsaanleg mee oop te spuit. Dus is daar nie meer toerusting om die rioolpype oop te spuit nie.

“Die munisipaliteit het nou ʼn kontrakteur teen ʼn hengse bedrag in diens geneem om die verstopte rioolpype oop te kry. Só mors hulle die publiek se geld.”

Die DA beoog om ’n brief aan die ouditeur-generaal te skryf om hom in te lig oor die munisipaliteit se vermorsing van geld.

Ladybrand is egter nie die enigste dorp wat probleme met water beleef nie. Volgens AfriForum is talle dorpe regoor die land dikwels dae lank sonder water of ervaar inwoners maande lank waterbeperkings. Morné Mosterd, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê daar is drie algemene waterprobleme wat in Suid-Afrika ontstaan.

“Eerstens het ’n dorp water, maar die water kom nie by die inwoners uit nie weens vervalle of stukkende infrastruktuur of die munisipaliteit se onvermoë om die water by inwoners uit te kry. Tweedens, word watertoevoer afgesny wanneer die munisipaliteit nie sy waterrekening aan die bepaalde waterraad betaal nie. Derdens is daar gebiede wat werklik nie oor water beskik nie, omdat damme of ondergrondse waterbronne opgedroog het,” sê Mosterd.

Volgens Mosterd vorm dié probleme deel van ’n groter probleem van munisipale wanbestuur en die verlies aan professionaliteit binne plaaslike regerings.

“Daar word nie meer bevoegde amptenare in munisipaliteite aangestel nie. Daar is wel mense wat die vermoë het om die nodige dienste te lewer, maar die staat maak nie van hulle gebruik nie weens hul eie politieke agenda.”

Mosterd moedig inwoners aan om deel te word van ’n georganiseerde gemeenskap om die waterprobleme in hul dorp te takel.

“Mense kan petisies opstel om bewusmaking vir die probleem te skep. Drastiese regstappe soos om die munisipaliteit hof toe te neem of ’n klag by die MRK te lê, kan ook gevolg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Dis om van naar te raak!!!! Bo en behalwe daaglikse take verrig en nou maar water koop of reenwater opvang, hoe was mens wasgoed en jou klere sal vlek . Dis skandelik, sies

Tipper ·

so gaan dit as oom Jan nie meer opsigter is nie,gaan kla maar by die honorable members.

Anoniem ·

Dis waarskynlik ons almal se voorland. Hoe gouer ons onsself onafhanklik maak van water en krag voorsiening, hoe beter. Dit kos baie, maar is die moeite werd.

Pietertjie ·

Dit is die beste wat our people’s government kan doen. Enigiets beter is bo hulle vuurmaakplek.

Hennie ·

Hoe dan anders as jy vir Adoons aanstel om net pay te trek en boggerall verder te doen. Tsêk ANC!

Kokerboom ·

Wat doen Tania Halse daaromtrent? Hoekom tree belastingbetalers NIE op? Hoekom is lydende publiek soo ruggraatloos???DOEN iets!!!!

JohanR ·

Die ANC kan nie eers skoon water vir die mense gee nie. Ek voel half skaam dat ek hier in die Kaap sit, en water uit die kraan kan drink dit is soe skoon. Die mense van die Wes-Kaap het net op ‘n tydstip besef nooit weer ‘n ANC regering nie. Net een ding om te doen en dit is die ANC by die stembus uitstem.

Anoniem ·

Om die ANC hier uit te hou gaan al hoe moeiliker raak met al die sinkhuisies wat daagliks opskiet.

Jessey ·

Bel die Kubane, hulle het blykbaar al die antwoorde #TsekANC

Irma ·

Roep die Kubane, hulle sal mos beter weet as die Suid-Afrikaners om hierdie probleem op te los.!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.