Inwoners van Marievale glo ‘onwettig’ uitgesit

Foto: Verskaf.

Inwoners van die militêre basis Marievale in Nigel is sonder heenkome gelaat ná die weermag glo ondanks ʼn hofinterdik voortgaan om inwoners gewelddadig uit hul huise te sit.

Willie Koekemoer, die hoofaansoeker van die dringende interdik en inwoner van Marievale, het aan Maroela Media gesê ʼn interdik is verlede week deur die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan waardeur die uitsetting van inwoners van Marievale verhoed word. Koekemoer beweer die weermag het egter ondanks die interdik bloot voortgegaan om inwoners uit te sit en toegang tot hul wonings in die basis te weier.

Volgens Koekemoer is daar binne ʼn maand sonder waarskuwing toegangshekke by die ingang tot Marievale opgerig wat deur wagte beman word.

Koekemoer was nooit self ʼn lid van die weermag nie, maar sê sy pa was wel. Hy beweer die grond is in die 1990’s aan die departement van openbare werke oorhandig wat dit toe aan die weermag beskikbaar gestel het. Nadat Marievale nie meer as militêre basis gebruik is nie, is die huise aan lede van die publiek uitverhuur.

Volgens Koekemoer is verhuringskontrakte geteken en die huurgeld maandeliks aan die weermag oorbetaal. “In 2001 het die militêre polisie van deur tot deur beweeg en ons opdrag gegee om onmiddellik op te hou om huur te betaal en ons kontrakte te oorhandig omdat daar klaarblyklik bedrog was met die betalings. Hulle het gesê daar is ʼn ondersoek aan die gang en hulle sal vir ons sê wanneer ons weer moet begin huur betaal,” het Koekemoer gesê.

Koekemoer beweer die grond is in 2004 weer aan die departement van openbare werke teruggegee. In 2009 is daar glo gepoog om die inwoners van Marievale uit te sit, maar Koekemoer het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) genader wat ʼn stokkie daarvoor gesteek het.

Volgens Koekemoer is inwoners in 2015 wéér gedreig met uitsetting en Koekemoer het weer die MRK genader. “Die weermag het toe gekom en gesê hulle sal nie mense uitsit nie, maar wel misdaadvoorkomingsoperasies uitvoer. Dit het op 24 Julie 2017 gebeur dat ou mense, klein kindertjies en ander mense vir tot vier uur buite die hekke wat hulle opgerig het in die middel van die winter moes staan en wag dat die operasies klaar uitgevoer word. Hulle het almal se besonderhede geneem voor hulle ons weer binne toegelaat het. Ek het toe al onraad gemerk.”

Foto: Verskaf.

Hy beweer gewapende soldate het ook inwoners se huise en voertuie deursoek en hul militêre ID-nommers kom eis. “Ek het nie ʼn militêre ID-nommer nie.”

Koekemoer vertel emosioneel van ʼn voorval waar hy eendag van die werk af gekom en gesien het hoe swaar gewapende soldate sy bejaarde ouers, wat ook in Marievale woon, dwing om al hul meubels uit te dra na die voorkant van die erf.

“Ek het nader gestap en net gevra of ek darem kan help dra, my ouers is nie gesond nie. Hulle het gesê ek mag nie nader gaan nie en ek moet 10 m weg staan. Ek haal toe my selfoon uit om ʼn video te maak en toe skree hulle ‘arrest that man’! Ek het omgedraai en stadig na my huis gestap en vyf mense het my gegryp, aangerand en op die grond vasgedruk. Hulle het my in ʼn militêre voertuig ingedwing, 10 minute met my rondgery en heeltyd my foon se PIN geëis.”

Koekemoer het hom daarna tot die hof gewend om ʼn interdik te bekom om die verdere uitsetting van inwoners te verhoed. Maroela Media het dié interdik onder oë gehad. Die interdik is verlede week Woensdag toegestaan, maar ʼn dag later is Koekemoer glo deur soldate gedwing om sy huis te ontruim. Hy en sy gesin huur nou ʼn huis in Springs.

Koekemoer sê hoewel die interdik Maandag op die betrokke partye beteken is, sal hy nooit weer terugkeer na Marievale toe nie. Hy is ook onseker oor hoeveel van die sowat 600 inwoners daar nog oor is in Marievale.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag, het aan Maroela Media gesê die weermag doen tans ondersoek na die toestand van die militêre huise by Marievale. “Tydens die ondersoek is vasgestel daar is weermaglede wat sonder toestemming in die huise bly. Daar is ook vasgestel dat daar huise is wat verhuur of onderverhuur is aan lede van die publiek en dit is ʼn oortreding van die behuisingsregulasies.”

Volgens Dlamini verwyder die weermag tans hierdie weermaglede en die lede van die publiek. “Marievale is ’n weermagfasiliteit en -eiendom en word volgens die voorskrifte van alle militêre fasiliteite bestuur.”

Jeff Dubazana, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (Sandu), het aan Maroela Media gesê die eiendom behoort aan die departement van openbare werke. “Geen soldaat het die reg om inwoners uit te sit nie.”

Neels Toerien, die voorsitter van AfriForum se voormalige tak in Nigel, het aan Maroela Media bevestig dat Marievale-inwoners ondanks ʼn hofinterdik uit hul huise gesit is. “Daar is meubels op laaigrawe gelaai en voor die hekke afgelaai.”

Toerien meen daar is moontlik nog drie of vier gesinne in Marievale oor. “Hulle het weggekruip vir die weermag, niemand weet eintlik waar hulle is nie.” Hy beweer egter dat van die inwoners van vandag af ingevolge die interdik sal begin terugkeer na hul huise toe.

Die veldtog Right2Know (R2K) het verlede week in ʼn verklaring gesê die gemeenskap word met uitsetting gedreig omdat daar glo steenkool in die omgewing ontdek is. “Die weermag het nie ʼn hofbevel nie en het ook nie alternatiewe behuising aan die inwoners verskaf nie, daarom beskou ons dié uitsettings as onwettig ongeag wie dit uitvoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Waaragtigwaar ·

Waaragtigwaar, die weermag is toe nie so lam soos ek gedink het, hulle kan tot vrouens en kinders rondstoot.

jan_alleman ·

hier kom geweld in die land want sekere kulture leer op geen ander manier nie

HPV ·

Volgens die berig neem dit vyf van hulle om een ongewapende man aan te vat! Ha-ha kan maar net lag! Lyk of daar darem nog een van hul twee voertuie nog loop.

Wilma ·

Van die inwoners wat daar uitgesit is, is afgetrede weermaglede wat al 40 jaar daar woon en wettig huur. So as hul dan wil myn moet daar alternatiewe behuising vir die inwoners van Marievale gekry word. Onwettige plakker wat plak en deur stadraad geskuif word word toe nie net so op straat gelaat nie – die regering gaan uit hul pad om die mense elders te vestig. Hoekom kan dieselfde nie vir die Marievale inwoners gedoen word nie. Wat sleg is, dis die vooraand van kersfees. Waar kry mens op kort kennis die nodige finansies om vooruit te betaal vir huur en om te trek. Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Sekere departemente in ons land maak dit mos hul stokperdjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.