Inwoners van Standerton keelvol vir riool

Rou riool in Standerton se strate (Foto: Verskaf)

Inwoners van Standerton in Mpumalanga is raadop oor rou riool wat volgens hulle al meer as ʼn jaar lank in die dorp se strate afloop en nou deur erwe vloei. Behalwe vir die reuk van riool wat inwoners onder kry, vrees inwoners dat hulle ernstig siek gaan word. Hul klagtes by die munisipaliteit val glo op dowe ore.

Mari Louise Brits (28), ’n inwoner van Standerton, het ’n petisie begin as pleidooi aan die Lekwa-munisipaliteit om aan inwoners se klagtes oor die rioolprobleem, waterpype wat op ’n gereelde basis lek en daaglikse kragonderbrekings gehoor te gee. Dit volg nadat die munisipaliteit glo al vir byna ’n jaar nog niks aan die rioolprobleem gedoen het nie.

Brits sê binne etlike ure het hulle reeds meer as 300 handtekeninge gewerf. Brits beoog om 1 000 handtekeninge te kry en dan die petisie aan die minister van gesondheid te stuur.

Brits sê rou riool borrel uit mangate en begin al in mense se erwe vloei. Volgens Brits raak die riool by die dag erger en lê die rioolwater al tot by haar voordeur.

Rou riool is orals in Standerton te sien (Foto: Verskaf)

Brits se agtjarige dogtertjie het die afgelope jaar herhaaldelik blaasinfeksie opgedoen. Brits beweer sy het dit opgedoen weens haar kontak met die rou riool in hul erf. “Vandat my dogtertjie nie meer buitekant speel nie, het sy nie weer blaasinfeksie gekry nie,” vertel Brits.

Brits sê hul huis se fondasie het die afgelope jaar begin kraak en skuif. Sy vermoed dit is omdat die huis konstant in rioolwater staan. “’n Jaar gelede toe ons die huis gekoop het, het die eiendomsagent in ’n beëdigde verklaring bevestig die huis is in ’n goeie toestand. Daar was ook geen krake nie,” sê Brits.

’n Ander inwoner van die dorp, Robert van Bulderen, sê die reuk van riool hang permanent oor die dorp. “Ek kan tans nie uit my huis gaan sonder om waterstewels te dra nie. Ek kan ook nie my erf se gras sny nie, want dit lê onder rioolwater,” vertel Van Bulderen.

Daan Grobler, ’n dokter op die dorp, meen die dorp word deur ’n epidemie in die gesig gestaar as daar nie vinnig ’n oplossing vir die rioolprobleem gevind word nie.

Hy sê behalwe dat mense van die riool gaan siek word, loop kinders ook die risiko om in die oop mangate in te val en te verdrink.

Hillel Coetzer, AfriForum se voormalige takvoorsitter van Standerton, sê AfriForum het die munisipaliteit reeds in 2014 op terme geplaas oor die rioolprobleem. Daar is ’n ooreenkoms bereik net voor die saak die hof kon bereik. Die departement van waterwese het toe ingetree om die nodige verbeterings aan rioolaanlegte en herstellings aan riool-pompstasies te maak.

“Maar weens versuim aan onderhoud het die situasie weer sedertdien agteruitgegaan,” sê Coetzer.

Rou riool in Standerton se strate (Foto: Verskaf)

Bronwen Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Hoëveld, sê die dorp se infrastruktuur is besig om in duie te stort omdat die munisipaliteit versuim het om dit deur die jare te onderhou.

“Dit sal die munisipaliteit miljoene rande kos om die infrastruktuur ten volle te herstel,” sê Pretorius.

Pretorius sê die rioolwater vloei in stormwaterpype wat dan direk in die Vaalrivier invloei. “Daar is mense wat die rivierwater drink of daarin visvang. Dit hou geweldige gesondheidsrisiko’s vir hulle in, want die rivier is vol riool,” sê Pretorius.

AfriForum se plaaslike tak probeer van sy kant druk op die munisipaliteit plaas om die rioolprobleem op te los. AfriForum help ook die inwoners deur verstopte rioolpype oop te maak waar hulle kan.

Rosier de Ville, DA-wyksraadslid van die Lekwa-munisipaliteit, sê sommige dele van die dorp gaan dae lank ook sonder water. Inwoners in dié dele moet staatmaak op watertenks of boorgate vir water.

Rioolwater is al tot by inwoners se voordeure (Foto: VerskafI

De Ville sê kragtoevoer word ook saans tussen 18:00 en 21:00 in areas in die dorp afgeskakel. Dit gebeur sonder vooraf kennisgewing met die gevolg dat die nodige voorbereiding nie gedoen kan word nie. Van die boere in die distrik moet op kragopwekkers staatmaak om hul boerderye aan die gang te hou.

De Ville sê die inwoners is keelvol vir die Lekwa-munisipaliteit se gebrek aan dienslewering.

“Ek versoek en pleit al vir jare by die munisipaliteit dat iets gedoen moet word om dienslewering te verbeter. Die ondraaglike toestande waaronder die inwoners van Standerton moet leef, kan eenvoudig nie meer geduld word nie,” sê De Ville.

Maroela Media het ’n navraag aan die Lekwa-munisipaliteit gestuur, maar het tot dusver nog geen reaksie ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pieter ·

Biologiese oorlogvoering. Hoe kan die ANC Suid Afrika bestuur indien hulle nie eens ‘n rioolplaas kan bestuur nie? Krimineel verby.

Baardman ·

De Ville, as jy al jare pleit sonder om iets reg te kry, dra jou stem nie baie gewig in die dorp nie, miskien tyd om iemand anders n kans te gee.

Skyspy007 ·

Baardman, jy het net mooi niks kommentaar te lewer oor Mnr Rosier de Ville nie. HY is nie die probleem nie! Ek het sedert 1965 in Standerton grootgeword, skoolgegaan tot matriek en 1977 weermag toe tot nadat my ouers nogsteeds daar gewoon het. My vader was ‘n leier in die stadsraad toe dit nog “ons” velkleur was. My vader en Mnr de Ville het saam gedien op dieselfde stadsraad met GEEEEEEN probleme nie. Sedert 1994 het dit duidelik verander onder “ander elfde plaag” leierskap en siedaar….wat ‘n gemors. Ek vermy my ou klein Standerton Juniorskool, Standerton Laerskool en Standerton Hoërskool. Duidelik kan Mnr de Ville niks aan die situasie doen nie, hy word “ondermein” deur die wat nou daar in beheer is. Ek het nog familie daar, en onder andere ‘n groot boer in die distrik wat ook Standerton vermy en elders inkopies doen ipv Standerton.

Anke ·

Duidelik weet jy nie waarvan jy praat nie, as jy iets gedoen wil kry in Standerton vra jy oom Rosier. Hy raporteer elke dag die foute en kry verwysings nrs, as enige iemand anders probeer kry jy nie eers `n verwysings nr. Het jy al iets probeer en nie reggekom, nou ja hou op om jou slim te probeer hou. Die fout lê by die munisipaliteit en niemand anders.

Baardman ·

Lyk nie vir my dat sy verwysingsnommers in hierdie geval enigsins julle probleem oplos nie.

Nie Verbaas ·

Hoe sleg kan mens wees? En dan betaal die ANC hom omdat hy by die werk is.

marius ·

Pleit en dreig sal nie help nie . Skep emmers van die gemors en gaan gooi dit in hul raadskamer uit .

henndrik ·

Ek se die ANC moet aanspreeklik gehou word vir die herstel uit hulle eie sak en om die mense van die dorp skadevergoeding te betaal. As hierdie lede nie persoonlik aanspreeklik gehou gaan word nie gaan hierdie tipe probleme nooit ophou nie

Drico ·

Sjoe Afriforum…! Dis 6jr terug wat jul die munisipaliteit aangevat en n ooreenkoms bereik het. En dis dit. In die 6 jr het jul nooit opgevolg of voort gegaan met stappe nie. Dis nie n goeie pluimpie vir jul verteenwoordiger in Standerton nie. Waar is die ander politieke partye of is Standerton nie waardig genoeg om voor geveg te word nie?

Anke ·

Moet asb nie praat waarvan jy niks weet nie. Die bietjie wat reggedoen word word deur Afriforum gedoen, paaie regmaak ens. Die mense betaal uit hulle eie sak om die dorp skoon te probeer hou, en betaal elke maand hulle munisipale rekeninge. Soos jy sekerlik self weet kry niemand iets reg deesdae, almal sukkel om diens te kry.

OW ·

As AfriForum enigsins kan moet die hofsaak heropen word.Die bewyse op die foto’s is meer as genoeg bewyse dat daar ‘n ernstige gesondheidsoorlas bestaan en dat inwoners se welstand bedreig word. Verskeie verordeninge en veral die Wet op Gesonheid,Wet 61 van 2003 word hier oortree.Die tyd van ‘n ooreenkoms bereik is lankal verby en die verantwoordelike persone moet gedagvaar word.

Kokerboom ·

Kan die inwoners van dorp nie saamstaan? Wat van belastingweerhouding, brief aan CR of ‘n regsopdrag aan die skerp minister Lindiwe Sisulu dat sy ‘n slag haar werk doen!
Hoe kan mense toelaat dat gesondheidsgevaar onbeperk so aangaan?

Emily ·

Nee wat n brief aan CR of LS gaan jou niks in die sak bring nie.

Gerhard ·

Al die klaers blyk Blank te wees…dus, CR en Sisulu sal absoluut niks daaraan doen nie.

Francois ·

Ek stem saam. Gaan skep emmers vol en gooi dit in die raadsale of in die burgermeester se erf

Janee! ·

Die in beheer sien niks verkeerd nie want dit is aanvaarbaar vir hulle …….gaan kyk in enige township niemand tel n papier op , rommelstorting is aan die orde van die dag. Sterkte Standerton

Frans ·

Dit is wat gebeur wanneer jy vrot en gesonde appels bymekaar gooi -op die ou einde sit jy met ‘n sak vrot appels.Wat in Suid Afrika op munisipale vlak gebeur is dat voorheen finansieël gesonde munisipaliteite saamgevoeg is met sukkelende swart munisipaliteite .Dit het gelei tot ‘n munisipale regering sonder die nodige inkomste basis en steeds groter salaris en lone rekening en grootmaat dienste voorsiening ,swakker instandhouding en stygende heffings en tariewe.

Probeer om iemand wat groter en swaarder as jy is en wat verswak is en op die grond lê regop te trek en jy gaan spoedig saam met hom op die grond beland.Solank die werkloosheidprobleem nie spoedig opgelos word nie deur die afskaffing van SEB en RA gaan slegs ‘n klein persentasie die krisis oorleef en dit gaan die mense in regeringsinstansies wees wat uit staatskas leef, baie sterk pensioenfondse,dws as die regering die nie gaan plunder om sinkende SA-boot vlot te hou.

Stofdonkie ·

Die munisipaliteit se naam sal verander moet word, “Lekwa munisipaliteit” maar dit ruik nie so Lekwa nie!

Paul ·

Die Standertonners laat die ANC toe om die pragtige dorp, waar ek groot geword het, in die toilet af te bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.