Inwoners verwyder na noodskuilings oor Simonstad-brand

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Noodskuilings is in Simonstad beskikbaar gestel terwyl die brand in Klawervallei voortwoed.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het gesê inwoners wat ontruim is, word van akkommodasie voorsien by die Simonstad- en Vishoek-stadsaal sowel as die Simonstad-buiteklub.

Die stad se brandbestrydingsdienste sowel as verteenwoordigers van Talfelberg Nasionale Park, die vloot, Working on Fire, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en rampbestuur het Donderdagaand nog onverpoosd probeer om die brand onder beheer te kry.

Inwoners van Runciman Heights en Harbour Heights in Simonstad is Donderdagmiddag deur brandbestryders aangesê om hul huise te ontruim. Die brand het Woensdagmiddag in Klawervallei ontstaan.

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Powell het gesê twee huise in Afrikanderweg en ʼn huis in Valleyweg is heeltemal in die brand vernietig. In Dorriesweg is ʼn huis erg beskadig terwyl nog ʼn huis tot op die grond afgebrand het.

Powell het gesê ses huisies by die Oatlands Holiday Day Village is beskadig in die brand. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Donderdag gesê helikopters is ingespan om die brand te probeer blus.

Die Froggy Pond-area, waar daar sowat 200 huise is, is reeds ontruim terwyl die pad van Simonstad na Kaappunt tussen Boulders-strand en Miller’s Point gesluit is. Powell het gesê die pad is slegs oop vir gebruik deur inwoners en het ʼn versoek aan mense gerig om die paaie oop te hou sodat noodvoertuie vinnig by ʼn toneel kan opdaag.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die Klawervallei-brand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.