Inwoners vreesbevange ná twee se verdwyning, verkragting

Kinders van Dennilton in Limpopo stap deesdae eerder in groepies, weens vrese vir hulle veiligheid. (Foto: ANA)

Inwoners van Dennilton en omliggende nedersettings in Limpopo leef in vrees nadat twee van die vier tienermeisies wat vroeër as vermis daar aangegee is, opgespoor is. Hulle is verkrag.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die twee meisies, onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, is verlede week ontvoer en twee dae lank in ʼn huis gyselaar gehou.

Inwoners van die gebied het die meisies Vrydag uit die huis bevry en ʼn man aangekeer. Hulle het hom aan die polisie oorhandig, wat hom in hegtenis geneem het.

“Die twee meisies is verkrag. Die man het [Maandag] in die Moutse-landdroshof verskyn. Hy verskyn weer op 23 Mei in die hof, wanneer hy aansoek om borgtog doen,” het Ngoepe gesê.

Hy het gesê nóg ʼn 15-jarige meisie, Boitumelo Dikola, het Donderdag in die vroeë oggendure spoorloos by haar huis in Moteti, naby Dennilton, verdwyn. Sy is Maandag in die gebied opgespoor.

“Sy het beserings opgedoen, maar ek kan nie verdere besonderhede bekend maak nie, omdat die ondersoek nog voortduur. Ons doen ʼn beroep op inwoners om ons te help soek na die ander 16-jarige meisie wat steeds vermis word. Sy is verlede week ontvoer terwyl sy in ʼn straat in Dennilton gestap het.”

Malesela Radebe, ʼn inwoner van Moteti, sê hy en baie van sy bure stap nou saam met hulle kinders skool toe weens vrees vir hulle veiligheid.

“Ek weet nie wat presies hier aangaan nie, maar ek is bang my kinders kom iets oor,” het Radebe gesê.

Verskeie skoolkinders wat in Moteti woon, sê hulle stap nou eerder in groepe wanneer hulle na die skool in Matshiding stap. Dié dorpie is sowat 2 km van hulle huise in Mpumalanga.

“Ek is selfs bang om deur die dag na winkels hier naby te stap,” het Mavis Kekana, een van die leerders, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Dan wonder hulle hoekom die gemeenskap reg in eie hande neem ? Die kinders se lewens is verwoes en die skuldiges sit in die howe en lag . Gaan kyk wat doen hulle in Malawie met verkragters ….

Elna ·

Dalk moet ons gemeenskap dit sommer self toepas in ons land wat Malawi se regering doen want wet en orde is daar geheel en al nie in hierdie land nie want hulle het dubbel standaarde en dis al wat vir hulle van toepassing is en wat vir hulle saak maak. Sie krimeneel word mos beskerm in ons land

Anke ·

Dis nou al 25 jaar dat ek bang is om ‘selfs in die dag alleen winkel toe te loop’. My kinders loop nooit nêrens alleen nie. Ons weet mos dis gevaarlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.