IOL gaan rassistiese kommentaar ondersoek

Argieffoto

Argieffoto

Independent Media gaan ‘n paneel saamstel om openbare haatspraak op sy webwerwe te ondersoek.

“Die paneel sal die hoeveelheid haatspraak ondersoek en dan sy bevindings en aanbevelings in ‘n verslag saamstel,” het Zenariah Barends, hoof van personeel by Independent Media, in ‘n verklaring gesê. “Die paneel sal haatspraak, persoonlike aanvalle en lasterlike uitlatings wat vervat is in die publiek se kommentaar op die maatskappy se webwerwe, ondersoek.”

“Iqbal Survé, uitvoerende voorsitter, het gesê die paneel se doelwit is om te bepaal hoe dit verhoed kan word dat haatspraak op digitale platforms toeneem, maar dat die reg tot vryheid van uitdrukking nie ontneem word nie,” het Barends gesê.

Jacques Lous, mediaprokureur, is aangewys as die voorsitter van die paneel. Latiefa Mobara, advokaat van die Persraad; politieke analis, dosent en rubriekskrywer Eusebius McKaiser; en Karima Brown en Anthony Robinson, onderskeidelik hoof van inhoud en hooftegnologiebeampte by Independent, sal ook op die paneel dien.

“Die paneel moet die grondwet van Suid-Afrika en enige ander betrokke wetgewing in berekening bring,” het Barends bygevoeg.

Survé het aangekondig dat hy ‘n ondersoek wil instel oor haatspraak op IOL ná ‘n erge aanval op die 16-jarige Kine-Dineo Mokwena-Kessi, wat ‘n rubriek vir die Cape Argus geskryf het. Sy het in Augustus ‘n internskap by dié koerant aanvaar. IOL het op 15 Augustus berig ‘n “oorvloed rassistiese kommentaar” is op dié tiener se stuk gelewer.

Die paneel behoort na verwagting teen 31 Oktober verslag te doen.

Independent Media sluit IOL, Business Report, Cape Times, Cape Argus, Pretoria News, The Star, The Sunday Independent en GQ Magazine in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.