Iqbal Sharma vandag weer in hof

Mbana Thabethe, Limakatso Moorosi, Seipati Dhlamini en Iqbal Sharma verlede week in die hof. (Foto: Verskaf)

Iqbal Sharma, hoëprofiel-sakeman en vennoot van die berugte Gupta-broers, en een van sy medebeskuldigdes sal na verwagting vandag (Maandag) in die Bloemfonteinse landdroshof aansoek om borgtog doen.

Sharma en die voormalige Vrystaatse hoof van die departement van landelike ontwikkeling, Peter Thabethe, het die naweek in die aanhoudingselle van die Bainsvlei-polisiestasie deurgebring nadat hul borgtogaansoek Donderdag uitgestel is.

Sharma en Thabethe en twee ander amptenare is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem in verband met die omstrede Estina-suiwelprojek.

Limakatso Moorosi, voormalige departementshoofde, en Seipati Silvia Dhlamini, voormalige finansiële hoof van landbou in die Vrystaat, is Donderdag borgtog van R10 000 toegestaan.

Maroela Media het vroeër berig al vier staan tereg op aanklag van bedrog, terwyl ʼn bykomende klag van geldwassery Sharma ook in die gesig staar. Die drie amptenare word ook van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla.

Volgens die klagstaat is sowat R25 miljoen tussen 1 November 2011 en 28 Februarie 2012 deur die departement aan die maatskappy Nulane Investments 204 betaal om ʼn ondersoek te doen om te bepaal of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is. Sharma is ʼn direkteur van Nulane.

Nulane het die opdrag aan ʼn maatskappy, Deloitte Consulting (Edms.) Bpk., wat die ondersoek teen ʼn bedrag van R1,5 miljoen gedoen het, uitgekontrakteer.

Daar is altesaam 17 beskuldigdes wat in die saak aangekla word, onder wie vier Gupta-familielede wat tans in die buiteland sit. Dit sluit in Atul Gupta, Rajesh Kumar Gupta, Chetali Gupta en Arti Gupta. eNCA het vroeër berig die proses het begin om hulle uitgelewer te kry.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, sê die vyfde verdagte in die saak, Sharma se swaer en ʼn verteenwoordiger van Nulane Investments, Dinesh Patel, sal weens gesondheidsredes volgende week formeel in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Wanneer n persoon in hegtenis geneem word en hy is siek dan gaan hy hospitaal toe onder polisie bewaking, waarom word dit nie in die geval ook gedoen nie?

Di ·

Wonder hoeveel van die Guptas se trawante is nog steeds in SA besig met hulle onderduimse korrupsie? Seker gedink hulle gaan nooit uitgevang word nie! Sal sien hoeveel van die Regering se amptenare gaan nog uitgevang word wat deel was van die Gupta skandaal.

Pieter ·

Vertrou dat borgtog nie toegestaan sal word nie. Hulle kan maklik die land verlaat na Indië. Verhoor hulle en laat reg geskied

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.