Irak reik lasbrief vir Trump uit

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

ʼn Hof in Bagdad het ʼn lasbrief vir die uittredende Amerikaanse president Donald Trump se inhegtenisneming uitgereik as deel van sy ondersoek na die dood van genl. Kassem Soleimani, destyds Iran se top- militêre bevelvoerder.

Soleimani is ʼn jaar gelede in ʼn Amerikaanse lugaanval op Irak dood. Abu Mahdi al-Muhandis, die adjunkbevelvoerder van die Iranse militante groep bekend as die Popular Mobilization Forces (PMF) en ’n adviseur van Soleimani, is ook in die aanval dood.

Trump het opdrag gegee vir die aanval op Soleimani nadat hy glo aanvalle op Amerikaanse diplomate en militêre personeel beplan het. Al-Muhandis se dood was egter nie beplan nie en Trump het later gespog dat Amerikaanse magte “twee vir die prys van een” uit die weggeruim het.

Genl. Kassem Soleimani (Foto: ANA)

Agnes Callamard, die Verenigde Nasies se spesiale waarnemer vir wederegtelike, summiere of arbitrêre teregstellings, het die moorde intussen as “arbitrêr” en “onwettig” bestempel.

Iran het reeds in Junie verlede jaar ʼn lasbrief vir Trump se inhegtenisneming uitgereik en Interpol gevra om die lasbrief as ʼn sogenaamde rooi kennisgewing aan ander polisiemagte wêreldwyd oor te dra. Daarvan het tot dusver niks gekom nie.

’n Regter in Bagdad, die Irakse hoofstad, het nou ’n lasbrief vir Trump se inhegtenisneming uitgereik ingevolge artikel 406 van dié land se strafwet wat voorsiening maak vir die doodstraf in alle voorafbeplande moorde.

Volgens die hof is die voorlopige ondersoek na Soleimani se moord afgehandel, hoewel “ondersoeke voortduur om die ander skuldiges in die misdaad te ontmasker, hetsy Irakese of buitelanders”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.