Iran ontken berigte oor beoogde sluipmoordaanval op Amerikaanse ambassadeur in SA

Lana Marks (Foto: Jacques Naude/ANA)

Iran het Maandag heftig ontken dat hy betrokke is by ʼn beweerde sluipmoordpoging op die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika.

Maroela Media het vroeër berig bewerings het onlangs aan die lig gekom dat die Iranse regering ’n komplot smee om Lana Marks te vermoor uit weerwraak vir die dood van die Iranse generaal Kassem Soleimani. Soleimani is in Januarie vanjaar in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak dood.

Die Amerikaanse webwerf Politico het die afgelope naweek berig Amerikaanse amptenare is luidens ’n Amerikaanse intelligensieverslag reeds ’n geruime tyd bewus van die bedreiging teen Marks.

Saeed Khatibzadeh, woordvoerder van die Iranse departement van buitelandse sake, het die verslag afgemaak as “pasgemaak, bevooroordelend en doelbewus”.

“Ons raai die Amerikaanse amptenare aan om op te hou om hulle tot holruggeryde en afgesaagde metodes vir anti-Iranse propaganda in die internasionale arena te wend,” het Khatibzadeh gesê.

Khatibzadeh sê Iran is ʼn verantwoordelike lid van die internasionale gemeenskap en is verbind tot diplomatieke beginsels en norme. Hy beskuldig die VSA daarvan dat hy buite die raamwerk van internasionaal aanvaarbare metodes optree. “Dit sluit in die uitdink en inwerkingstelling van tientalle komplotte vir sluipmoord en militêre en intelligensie-inmenging, die skending van die grondgebied van lande, asook die lafhartige sluipmoord van genl. Kassem Soleimani, die agbare bevelvoerder van die stryd teen terreur,” het Khatibzadeh gesê.

Iran sê hy is nie verbaas dat die VSA sogenaamde anti-Iran-beskuldigings voor die Amerikaanse presidentsverkiesing rondslinger nie en dat dit gepaard gaan met die Amerikaanse regering se beweerde druk op die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad om weer druk op Iran te plaas.

“Sulke maatreëls en die fabrisering van nuus – wat moontlik in die toekoms gaan voortduur – gaan ongetwyfeld nêrens kom nie en gaan net bydra tot die lang lys van Washington se voortgesette nederlae teen die Islamitiese Republiek van Iran,” het Khatibzadeh gesê.

Hy sê Iran gaan intussen voort met internasionale regstappe oor Soleimani se dood en gaan “dié daad van terreur nie vergewe of vergeet nie”.

Die VF Plus sê intussen berigte oor die beoogde sluipmoordaanval is ernstig en die Suid-Afrikaanse regering moet dadelik vasstel of daar enige waarheid in steek.

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het ʼn beroep op min. Naledi Pandor gedoen om die ambassadeur van Iran in Suid-Afrika, Mohsen Movahhedi Ghomi, so gou moontlik te ontbied om vas te stel of daar enige waarheid in die bewering steek.

“Indien dit sou blyk dat die Iranse ambassade in Suid-Afrika op enige wyse by die aangeleentheid betrokke is, dring die VF Plus daarop aan dat die ambassade sonder meer gesluit word,” het Mulder gesê.

“Die feit dat verskeie internasionale nuusdienste reeds oor die aangeleentheid berig, bring mee dat die Suid-Afrikaanse regering dit nie kan ignoreer nie en sal moet optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stefan ·

In elk geval niks om bang voor te wees nie Lana.
Ons het mos ‘n uistekende polisiediens, wonder net ‘n klein bietjie aan watter kant van VSA/Iran staan hulle.

Casper ·

Waar sou Amerika daaraan gekom het.Iran sal dit mos nooit erken nie.Waar daar ‘n rokie trek brand daar ‘n vuurtjie.

Pieter J ·

Lana hoef nie bekommerd te wees nie. Sy is mos ń groot vriend en bewonderaar van die ANC regering so hulle sal ons uitstekende polisiediens gebruik om haar te beveilig soos hulle daagliks alle SA burgers beskerm.

Keelvol ·

Die Amerikaanse Geheimdiens pas hulle ambassadeur op. Nie die SAPD nie. Kry jou feite reg.

Hennie ·

Ek sal Iran help! Sy moes al lankal herroep gewees het! “Sy is blind…kan nie sien wat fout is in SA nie…. Swaap!

msp ·

Sy is so behep met die anc en al hul stammilinge dat ek net vir haar will sê haar “rip”. Sy is niks werd in Suid Afrika nie.

Anel ·

Isis is al lankal hier en ek glo hulle sê die regering voor. Hulle is mos maatjies!

Dries ·

Kan die plaaslike media asseblief ‘n verklaring by Me Marx kry oor haar opinie van beurtkrag? Dis seker ook iets wat SA mee voor in die koor is en haar eie ‘hopelose’ land oor kan leer, soos al die ander dinge waarmee SA volgens haar uitblink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.