Irma Joubert, Tienie Holloway deur FAK vereer

Die skrywer Irma Joubert is deur die FAK vereer met ‘n Inspirasievrou-toekenning. (Foto: Verskaf)

Twee vooraanstaande Afrikaanse skrywers, Irma Joubert en Tienie Holloway, is Sondag op verskillende wyses deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.

Holloway, die vrou wie se Afrikaanse rympies vandag nog in skole geleer word, is ook Joubert se ouma.

Joubert, skrywer van onder meer die gewilde Oorlogstrilogie – Immer wes, Mentje, kind van Pas-opkamp en Na ’n plaas in Afrika, het haar plek ingeneem langs Lizz Meiring, Brümilda van Rensburg, René Roux en Elfi Taljaard as een van die FAK se Inspirasie-vroue.

Met dié toekenning bring die FAK hulde aan verskeie vroue wat ’n reuseverskil maak in die bevordering van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het gesê hy is trots om namens dié organisasie die toekenning aan Joubert te kon oorhandig omdat haar nalatenskap nie net spreek tot hom nie, maar al vir jare oud én jonk inspireer.

“In al my jare was ek nog nooit so vasgevang in die woorde van my medemens nie,” het hy gesê.

“Irma is een van die land se mees befaamde en invloedrykste Afrikaanse skrywers, wat nie net ’n impak gemaak het op die landskap van Afrikaanse literatuur nie, maar ook op die harte van elke persoon wat haar werke lees.

“Haar wyse woorde is ’n baken van hoop in ’n soms donker wêreld en ’n getuigskrif van Afrikanerwaardes, waarna elkeen van ons kan strewe. Ons pragtige moedertaal inspireer haar, nes sy ons inspireer.”

Müller het bygevoeg dat Joubert se oupa, die bekende argitek Gerhard Moerdijk, alombekend is vir sy ontwerp van die Voortrekkermonument.

“Daarom is ons vandag, twee weke voor haar 75ste verjaardag (op 28 Augustus), opgewonde om dié toekenning aan haar te oorhandig op die voorstoep van haar oupa se grootste Afrikanerkultuurskat.”

Joubert is ’n boorling van Nylstroom (Modimolle). Sy het eers aan die einde van 2004 begin skryf nadat sy ná 35 jaar in die onderwys afgetree het.

Sy het verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte gepubliseer en is in 2005 aangewys as Media24 se “Spesialis Joernalis van die Jaar.”

Joubert kan gesien word as een van ons land se grootste uitvoerprodukte met van haar boeke wat reeds in Duits en Nederlands vertaal is. HarperCollins in die VSA het ook haar gewilde boek The Girl from the Train (Tussen stasies) in 2015 wêreldwyd uitgegee.

“Afrikaans is my moedertaal, maar dis ook ’n baie ryk en interessante taal. Ek dink Afrikaans het werklik ’n blink toekoms,” sê sy.

Joubert skryf haar sukses toe aan twee groot inspirasie-vroue in haar lewe, haar oumas. “Ek kom uit ’n familie met twee sterk oumas, wat geweldig betrokke was.

“My een ouma, Silva Moerdijk, kan net beskryf word as ’n vuurvreter. Sy was ’n joernalis vir Die Boervrou en verskeie koerante en het selfs in die politiek betrokke geraak. Sy is vir my ’n geweldige inspirasie en het geveg vir waarin sy geglo het en veral vir haar taal. Interessant genoeg verskyn sy ook in een van die friese in die Voortrekkermonument waar sy op ’n klip staan en sê ‘liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg’, wat ’n baie goeie uitbeelding is van hoe sy as vrou was.

“My ander ouma, Tienie Holloway, was ’n onderwyseres in die twintigerjare en toe kom sy agter dat die kinders wat in daai jare Afrikaans gepraat het geen rympies gehad wat hulle kon leer in hul moedertaal nie. Sy het toe begin skryf. Haar versies word nou nog gebruik op skool. Sy het baie gedoen vir Afrikaans, veral vir die jeug.”

Prof. Jackie Grobler, Annemarie Freiderich en Irma Joubert bring hulde aan hul ouma, Tienie Holloway. (Foto: Verskaf)

Holloway se graf in die Rebecca-begraafplaas in Pretoria-Wes is ook die afgelope naweek deur die FAK se kultuurnetwerk in Pretoria gerestoureer.

Nadat die FAK-Kultuurnetwerke verlede jaar tydens ’n kransleggingsgeleentheid besef het dat Holloway se naam weens verwering nie meer sigbaar is op haar graf nie, het hulle besluit om dié projek aan te pak om die graf op te knap.

Joubert was ook tydens die opknappings teenwoordig. Prof. Jackie Grobler, die bekende historikus en ook ʼn nasaat van Holloway, het ook ’n emosionele besoek aan die graf afgelê en het hulde aan haar gebring deur ’n spekboom by haar graf te plant.

Holloway se kleindogter, Annemarie Freiderich, het by die geleentheid ’n kindergedig voorgelees wat haar ouma geskryf het waarna Joubert ’n kopie van haar boek se herdrukte weergawe vir haar suster Annemarie as geskenk gegee het. Die eerste druk het sy aan haar ouma opgedra, maar die herdruk aan haar drie susters.

“Ons almal ken vroue wat sterk staan deur enige omstandighede en ons moet hulle vier,” het Joubert gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Ek is ‘n groot aanhanger van Irma Joubert. Dit is goed dat die FAK haar spesifiek vereer het. Veelsgeluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.