IRV begin veldtog om opposisie ‘te red’

(Foto: Aarón Blanco Tejedor/Unsplash)

“Dit is ʼn party sonder rigting en identiteit en as hy steeks en doof bly vir die raad van mense wat glo in ʼn ware, liberale demokrasie, ook ʼn party sonder ʼn toekoms.”

Só het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) die DA Maandag beskryf tydens die bekendstelling van sy #SaveTheOpposition-veldtog. Die IRV sê die belang van só ʼn veldtog het die afgelope week baie duidelik geword toe die faksiegevegte in die DA in die openbaar voortgesit is.

Die doel van die veldtog is om uit te lig wat gedoen moet word om te verseker dat opposisiepartye ʼn teenwig bly vir die regering se implementering van vernietigende beleid. Die instituut sê opposisiepartye het ʼn morele en grondwetlike verpligting om die stem van magtelose en gewone Suid-Afrikaners te wees.

“Die DA, as die land se amptelike opposisie, moet verantwoordbaar gehou en van kaping gered word,” het Hermann Pretorius, veldtogkoördineerder van die IRV, in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie sê hy word daarvan beskuldig dat hy in die DA se sake inmeng, maar dat politici wat hom hiervan beskuldig goed weet dit is die werk van enige denkstigting om presies dít te doen. “Ons meng voortdurend in by die sake van ondernemings, die regering én politieke partye om steun te werf vir beleid wat Suid-Afrika se sukses en die vooruitstrewendheid van al sy mense gaan verseker.”

Die IRV sê Phumzile van Damme, ʼn DA-LP, het die instituut as “honger hiënas” bestempel, terwyl sy self rassespanning in die party veroorsaak het én ondersoek word vir haar beweerde aanranding van ʼn lid van die publiek.

Die IRV sê DA-LP Luyolo Mphithi het op Twitter gesê die IRV het sy “masker lankal afgehaal” en probeer vanuit ʼn agterdeur demokrasie bewerkstellig. Die instituut sê Mphithi is dieselfde persoon wat die DA tot die parlement bevorder het nadat hy die rasseherrie in Schweizer-Reneke – waar ʼn onderwyseres van rassisme beskuldig is – ontketen het.

Johannesburgse burgemeester Herman Mashaba, wat glo deur die DA ondersoek word omdat hy ʼn kollega op rasgebaseerde grondslag bygekom het, het die IRV se betrokkenheid by DA-sake as kommerwekkend bestempel en John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, het ook op Twitter teen die IRV uitgevaar.

“Die afgelope week se gebeure asook die gedrag van dié senior verteenwoordigers het dit pynlik duidelik gemaak hoe belangrik dit is vir gewone Suid-Afrikaners – en denkstigtings soos die IRV – om in die DA se sake in te meng,” het Pretorius gesê.

“Deur sy plig te versuim om ʼn doeltreffende en werklik liberale opposisieparty te wees, laat die DA Suid-Afrikaners in die steek.”

Die IRV sê die DA moet rassistiese leiers uit die party skop, korrupsie in eie gelede uitroei, rasgebaseerde beleid staak, sy alliansie met die EFF opskort en behoorlike leiers aanstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wil ·

Ex DA ondersteuner in my geval… Ek dink wat die IRV hier wil doen is al wat die DA kan red, maar ek verwag nie dat dit gaan uitwerk nie. Ek dink dis te laat, en om die fundamentele prinsiepe van die party terug te verander gaan tyd neem. Wat my betref het die DA oor die laaste paar jaar hulleself soveel skade berokken by hulle ‘ou’ ondersteuners, en om hierdie mense weer om te swaai na die DA gaan selfs nog langer neem. Geen regdenkende witmens kan vir die DA stem nie, want dit beteken jy ondersteun BEE en ander vorms van ‘regstellende’ aksie. Ek hou van Helen Zille omdat sy nie bang is om ‘n ding te sê soos dit is nie, en ek is bly hierdie foute van die DA word ook duidelik uitgewys… maar ek kan nie sien dat hierdie reddingsplan gaan uitwerk soos hulle hoop nie. Ek dink die feit dat die DA kwyn is nie noodwendig ‘n slegte ding nie… hulle nonsens het baie van ons gedwing om mooi te dink oor waar ek as Afrikaner inpas, waar voorheen baie van ons DA gestem het bloot omdat hulle ‘n sterk opposisie was. Ek dink dis beter om te stem volgens jou eie prinsiepe as om bloot die sterkes te volg.

Cherokee ·

Jy hou van Helen Zille, sê jy Wil. Verduidelik ook hoe jy daaroor voel dat sy getweet het “kolonialisme was nie net sleg nie” met verwysings na kommunikasie stelsels, vervoer stelsels, hospitalisasie en al daai dinge waarvan sy meer genoem het. Toe word sy voor ‘n kommissie geroep deur die DA en toe vra sy verskoning vir haar woorde. Toe besluit sy, sy was verkeerd met haar stelling en sy dink toe nie meer so nie. Of hoe anders sal jy haar apologie verstaan? Vertel vir ons hoe jy, met jou likings vir haar, dit hanteer.

elbe ·

nou nie dat die VF enige stofwolk opskop en hond haaraf maak nie, krok

Matt ·

Ek is nie ‘n DA ondersteuner nie maar vind die uitlatings as dubbelle standaarde. Daar word niks van die EFF of BLF gesê nie en dit is juis hulle wat die probleem is.

Arak ·

Ek het twee vragie vir die IRV;
1) Wie befonds julle?
2) As julle so ongelukkig is met die DA, hoekom stig julle nie jul eie party nie? Julle dink dan klaar julle kan voorskryf aan die partye?
Ek is geen voorstaner van die DA nie, maar die IRV is nog meer IRreleVant.

Sam nN ·

@Arak
Hoor hoor!
Die beste stuurman staan meestal aan wal.

Kobus ·

Groot besighede befonds die IVR, plaaslik en internasionaal.

Petrus ·

Uitstekende voorstelle, al gaan dit op ‘n breukspul afstuur en DA beheerde stadsrade aan die ANC afstaan. Maar liewer nou as later.

Judge Dredd ·

Moenie worry nie – “Moderne” liberalisme is ook besig om te faal in die res van die wereld.

Rede: Liberalisme is deur die linkses gekaap en het ontaard in Pop-politiek. Meeste wat hulself liberaal noem is eintlik libleke en ondersteun idees wat tot vermindering van vrye keuses lei.

Dolf ·

Bog. Jy verwar nou liberale denke met ‘n middeljarige daggarokende wit man met lang en vuil hare, deurmekaar baard, pers brille, oorringe, langbroek en sandale wat bome soen en terug verlang na Woodstock. Dis nie ‘n liberalis nie.

Dirk ·

As Van Damme en Mphithi daar teen is, is ek daavoor.

Ek dink die IRV bedoel goed, maar ek geen nie ‘n duit om vir die Afrikanerhater party nie

KrokodilBotha ·

Met meeste DA ondersteuners en eks ondersteuners waarmee ek al gepraat het. Het ook net die kruisie getrek oor hulle nie n koeken clue gehad het waarom nie. Gelukkig is daar die wat wakker skrik. Ander sal slaap en saam die tonnel in boender opsoek na daai perfekte land. Sal nooit gebeur nie. Iemand my n weddenskap maak ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.