IRV gereed vir regsaksie oor onteiening-konsepwet

hof-hamer

Argieffoto

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) is gereed om die howe te nader oor die konsepwetgewing wat voorsiening wil maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Die konsepwetgewing sal na verwagting reeds volgende week in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kennisname en kommentaar.

“In teenstelling met al die versekerings wat deur die ANC gegee is – en die mandaat wat aan die ad hoc-komitee gegee is om die wysiging te formuleer – doen die konsepwetsontwerp veel meer as bloot ‘eksplisiet te maak wat implisiet is’ in die bestaande bewoording van art. 25 [van die Grondwet],” het die IRV in ʼn verklaring gesê.

Die konsepwet maak dit duidelik dat grond en “enige verbeteringe daarop” onderworpe is aan onteiening sonder vergoeding, aldus die IRV. Die ad hoc-komitee se mandaat is egter slegs die grond. Volgens die IRV kan die bykomende waarde van strukture altyd bepaal word. Vergoeding vir sodanige beleggings moet ten minste betaal word om die “billike balans” wat in art. 25 vereis word, te verseker.

Volgens die IRV gee die konsepwet die parlement die mag om ʼn aantal daaropvolgende wette te bekragtig (wat met ʼn meerderheid van 51% aanvaar kan word), wat “spesifieke omstandighede uiteensit waar ʼn hof kan bepaal dat die bedrag van die vergoeding nul is”.

“Die onderafdeling brei die omstandighede waarin ʼn nulvergoeding uitbetaal kan word, verder uit. Dit bied eindelose vooruitsigte vir moontlike onteiening sonder vergoeding.”

Die IRV meen dat indien die konsepwet bekragtig word, kan minstens drie moontlike statute aanvaar word ingevolge die nuwe subartikel 3(A). Eerstens kan die parlement die huidige onteieningswetsontwerp van 2019 aanvaar, wat ʼn vae en maklik uitbreibare lys het van vyf gevalle waarin nulvergoeding betaal kan word.

Tweedens, in ooreenstemming met die voorstelle wat deur die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou voorgelê is, kan die huidige onteieningswetsontwerp op twee maniere gewysig word. Die vae en uitbreibare lys kan verdubbel word van vyf tot tien gevalle waar nulvergoeding van toepassing is. Daarbenewens kan ʼn nuwe klousule aanvoer dat nulvergoeding betaal kan word wanneer ʼn plaaslike munisipaliteit grond as geskik vir herverdeling geïdentifiseer het, maar die eienaar geweier het om dit te skenk óf om dit aan die munisipaliteit te verkoop teen ʼn minimale prys.

Volgens die IRV kan die parlement derdens ʼn bykomende statuut instel, ook met ʼn meerderheid van 51%, wat die staat die kurator van alle grond maak, en bepaal dat hierdie onteiening ʼn “spesifieke geval is waar ʼn hof kan bepaal dat die bedrag van die vergoeding nul is”.

“Die voorgestelde veranderinge in die konsepwet is alles behalwe minimaal,” voer die IRV aan en voeg by dat dit ook nie konsekwent ooreenkom met die ad hoc-komitee se mandaat nie. Volgens die IRV is die wyse waarop art. 25 gewysig word ook strydig met art. 74 van die Grondwet, met sy belangrike prosedurele reëls vir wysiging van die handves van regte.

In teenstelling met art. 74, word ʼn twee fase-metode gebruik om hierdie onteiening sonder vergoeding-wysiging aan te neem. “Die grondwetlike hersieningskomitee het in werklikheid besluit dat ʼn onteiening sonder vergoeding-wysiging nodig is, terwyl die parlement nou beperk is tot die besluit oor die bewoording wat gebruik moet word.”

Tog vereis art. 74 duidelik ʼn “een fase”-proses, aldus die IRV, waarin die parlement self die behoefte aan ʼn wysiging ten volle moet oorweeg, asook die bewoording van enige nuwe klousules.

“Hierdie ongrondwetlike optrede en misbruik van die parlementêre proses kan nie onbetwis bly nie. Veral nie as die gevolglike skade aan vertroue, belegging, indiensneming, groei en welvaart waarskynlik so groot sal wees nie.”

Die IRV beplan dus om al hierdie belangrike prosedurele tekortkominge met litigasie, wat in Januarie of Februarie 2020 sal begin, aan te pak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adrian ·

Wanneer die diewe kom om my huis te vat brand ek dit af tot teen die grond met vol gassilinders in die vlamme van my sal hul net die as be erwe thats for sure

Johanna Botha ·

Met die anc se rekord die afgelope 25 jaar gaan dit ook n flop wees soos saa eskom …ag noem maar op !

Von ·

Johanna in die kol…..die bietjie wat nog funksioneer word uitgemoor. Sukses verhale….is dit gulsigheid …verrotting tot op die been.

Evert ·

Dankie IRV. Nou moet alle patye saamstaan teen hierdie onreg wat ons land gaan tref, al moet ons Wêreldhof toe gaan. Dit is mos onreg teen die mensdom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.