Is Bitcoin se glanstydperk verby?

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Sommige ekonome en markontleders meen die kripto-geldeenheid Bitcoin se glanstydperk is dalk getel.

Die geldeenheid het sedert sy hoogtepunt van bykans $20 000 in Desember, vroeër dié week met amper 50% geval.

Ontleders sê ingryping deur owerhede in lande waar Bitcoin verhandel word, het die kripto-geldeenheid gekortwiek. Bitcoin se vooruitsigte lyk minder rooskleurig en sal in Maart op die G20-beraad onder die vergrootglas kom.

Chris Wehmeyer,  ʼn bestuurder by PSG Konsult, sê dit is sy persoonlike siening dat Bitcoin nie veel waarde het nie. Hy sê die markte het ʼn borrel ondergaan en beleggers is nou besig om vinnig uit die mark te tree.

Volgens Wehmeyer sal hy nie Bitcoin vir beleggers aanbeveel nie. “Bitcoin lyk te onseker om in te belê.”

Volgens ontleders is monetêre owerhede wêreldwyd tans op hul hoede oor Bitcoin. Een ontleder wys daarop dat dit juis hieroor is dat China, Japan en Suid-Korea opgetree het om Bitcoin te beperk.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, is egter nie onkant betrap deur die huidige verwikkelinge nie.  Hy was een van die min ekonome wat teen Bitcoin gewaarsku het.

Schussler wys daarop dat Bitcoin 7,5 keer meer wisselvallig as die rand is. Hy sê dit beteken daar is meer vertroue in die rand as in Bitcoin.

Hy maan beleggers om twee keer te dink voordat hulle daarin belê – veral noudat monetêre owerhede streng optrede teen Bitcoin instel.

Volgens ontleders is Bitcoin ʼn gunsteling-  monetêre middel, veral vir geldwassery en dwelmhandel, juis omdat dit nie gereguleer word nie.

Stappe wat sover gedoen is om Bitcoin te strem sluit in om die handel daarvan op markte stop te sit. Dit is veral China, Japan en Suid-Korea wat die voortou geneem en die geldeenheid se vooruitsig geknou het.

Een ontleder voorspel meer onstuimigheid indien die Europese Unie, Brittanje en die Verenigde State ook  standpunt teen Bitcoin inneem. Hy meen die G20-beraad kan dalk bepalend wees vir Bitcoin se toekoms.

Bitcoin is op 3 Januarie 2009 deur Satoshi Nakamoto begin. Daar is 21 miljoen Bitcoins in die handel. Ontleders sê Bitcoin se grootste probleem is dat dit nie gereguleer word of deur sentrale banke ondersteun word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Bitcoin behoort eintlik bo verwagting goed te doen in die helhool synde die bruikbaarheid vir geldwassery en dwelmhandel.
Eish, dan het van die geleerde ekonome ook ontbytsessies aangebied om die stukmunt se werking te verduidelik. My aansien vir Mike Schussler styg sommer met rasse skrede vanweë sy nugtere en deurlopende afkeuring van die verskynsel sedert sy ontstaan.

Douglas ·

Wel gedaan dis die kommentaar van n oningeligte, persoon as die persoon gelewe het toe voetuie bedink was toe was dit seker van die duiwel.

The Dollar word nog altyd gebruik vir dit wat hy noem hoekom vat hy/sy nie die US Dollar aan nie.

Jack Russl ·

Douglas dit gaan nie so strek oor die geldeenheid nie. Die feit is dan Bitcoin nie gereguleer word nie, dus vergemaklik dit die geldwassery ens. Dit is baie makliker om onwettige bedrywighede op te spoor indien dit gedoen word met ‘n geldeenheid gedoen word wat gereguleer is as een wat nie gereguleer word nie.

Niemand betwis die feit dat alle geldeenhede (behalwe dalk die Zim $) gebruik word in onwettige praktyke nie

Douglas ·

Hi Jack wat kom saam met regulasie? Nog meer geleenthede vir bedrog. Kyk maar na die finansiele sektor en drank sektor, die mense betaal om hulle drank lisensies te kry, hoeveel mense sterf as gevolg daarvan, swak regulasie? Wat van KPMG? Regulasie kos geld, iemand maak geld en dis die staat want hulle maak asof hulle alles reguleer maar dis maar eintlik net n vront. Blockchain tegnologie gaan eintlik oor Peer to Peer om al die mense wat wil geld maak om niks te doen nie uit te any.

Mokkie ·

Regulasie is net n manier waarop lande en regerings hul geld uit mens uit kry, nou dat die mense n manier gevind het om hul geld vir hul self te hou wil die lande dit weer he. Maar regulasie kan ook gesien word as n goeie ding vir bitcoin, dit maak dit meer “real” vir die mense wat nog dink dis onbruikbaat. Verder is daar baie meer as net bitcoin, wat van zcash, monero, ripple, bitcoin gold, ens. Bitcoin word nou gekoppel aan dwelms en misdaad ens, mens kan dit met rande ook koop, en kontak is nog erger as enige vorm van electroniese betaling. Ripple is in my opinie n baie goeie ding, sien dit as n instant eft transfer sonder bank fooie. N transaksie vat 4sec en kos minder as 0.01%. Watsr bank kan dit bied, en dan ook nog n “rente koers” van 20% of meer.

Mokkie ·

Bitcoin is ou nuus maar tog bly dit nuus. Kyk na die better opsies soos ripple of zcash. Ripple in my opinie gaan beter vorder as bitcoin omrede dit reeds die probleme waarmee bitcoin nou sit opgelos hey deur eers banke en maarskappye te nader.

Stofskoen ·

Dit is jammer dat die hoofstroom media iets wat so baie mense kan help in ‘n swak lig te plaas en nie die hele storie plaas nie.
Bitcoin se waarde was middel Okt. 2017 sowat $7000.00, vir die wat al ‘n ruk besig is met Bitcoin(BTC) was daar ‘n kerspersent van net oor die $20 000,00 op 17 Des. 2017.
Na die groot “crash”, met ‘n laagte punt, sowat $ 10 000,00, wat nie eers ‘n week lank geduur het nie, het Bitcoin(BTC) tans gestabilliseer op $11 500.00.
Lyk nogal na groei vir my.
Ek wonder of Microsoft sagteware ook as waardeloos beskryf kan word?
‘n Fyn ons goud is tans sowat $1328.00 en as jy dit wil verkoop moet jy dit saam met jou dra, nadat dit so moeilik was om te koop vir die gewone man, omdat dit so gereguleer word dat net sekere maatskappye dit maklik in die hande kan kry.
Bitcoin is nog baie jonk as geldeenheid met ‘n geraamde hoeveelheid gebruikers van nie meer as 10 miljoen uit ‘n globale populasie van 7 biljoen.
Die trend van Bitcoin is dus nog baie wisselvallig en vir die laaste drie jaar was daar ‘n “crash” in Januarie. Dit was nogal verwag.
Besluit maar self.

Pieter ·

Dis altyd vir my snaaks as mense in die huidige finansiele sektor ander mense probeer af skrik van crypto-geld.

Herhinner mens aan:
Posdiens teenoor email
Encyclopedia’s teenoor Wikipedia
DSTV teenoor Netflix
Taxi’s teenoor Uber
Gastehuise teenoor Airbnb

Mens moet wonder wie praat die waarheid, en wie probeer net hulle eie belange beskerm.

En moenie so naif wees om te dink dat regerings en kooperasies mense waarsku teen Bitcoin omdat hulle mense wil beskerm teen die wisselvallige pryse nie. Nee, hulle het ‘skin in the game’.

Terloops, SA is n perfekte voorbeel van n land waar die regering so min as moontlik geld behoort te kry by die burgers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.