Is daar kans op ʼn laer rentekoers?

spaarvarkie_geld.jpg

Argieffoto.

Daar is genoeg ruimte vir die Reserwebank om die repokoers met 25 basispunte te sny.

Dit is die mening van Elize Kruger, senior ekonoom by NKC Research. Sy is optimisties dat dit reeds vandeesmaand kan geskied.

Die repokoers beloop tans 6,75% en die prima uitleenkoers 10,25%. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee, wat oor rentekoerse besluit, vergader van 26 tot 28 Maart. Verbruikersinflasie het in Januarie 4,4% beloop, wat binne die sentrale bank se inflasieteiken van 3 tot 6% is.

Kruger sê die ekonomie het ʼn rentekoersverlaging broodnodig. Volgens haar raming is reële rentekoerse in Suid-Afrika, dit is inflasiekoers minus die rentekoers, tans hoog en strem die ekonomie. Sy sê Suid-Afrika het ekonomiese groei nodig en ʼn laer rentekoers sal net die regte inspuiting wees.

Volgens haar is verbruikersinflasie tans laag en kan dit nog laer neig. Sy meen egter dat verlede maand se begroting ietwat van ʼn demper kan plaas op die rentekoersvooruitsigte weens verskeie verhogings wat aangekondig is.

Dit is veral die heffing op brandstofpryse en die 1%-verhoging in belasting op toegevoegde waarde, BTW, wat verbruikers se sakke kan ruk.

Kruger sê die feit dat Nhlanhla Nene, minister van finansies, ʼn hoër ekonomiese groeikoers in die vooruitsig gestel het, daarop dui dat die regering positief is oor die land se ekonomiese herstel. Sy is egter van mening dat die groei grootliks deur ʼn herstel in verbruikers- en sakevertroue gedryf sal word.

Boonop meen sy die gunstige rand-wisselkoers sal ook ʼn rol speel. Kruger is egter oortuig daarvan dat die tyd nou ryp is vir ʼn minder stremmende rentekoers-omgewing. Sy meen dat dit ook kan bydra tot ʼn herstel in verbruikers en sakevertroue.

“En dit kan ekonomiese groei ʼn hupstoot gee,” het sy bygevoeg. Volgens Kruger sal Februarie se verbruikersinflasie-gegewens verder daal, wat die Reserwebank ruimte sal gee om rentekoerse te sny. Sy meen dat ʼn 25 basispunte-verlaging waarskynlik ruimte vir toekomstige rentekoersverlagings kan voorspel.

Die kwessies wat egter dopgehou moet word, maan sy, is die effek van die begroting op verbruikers en die vertoning van die rand. Die stewiger rand het grootliks bygedra dat brandstofpryse die afgelope drie maande gedaal het. Dit het weer ʼn groot rol gespeel om inflasie in bedwang te hou.

Nene was optimisties dat die ekonomie vanjaar reeds met 1,5% kan groei. Kruger skat dat dit 1,7% kan beloop en dat die Nasionale Tesourie nader aan die mediumtermynbegroting in Oktober die syfer weer in oënskou kan neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

as dit pap reen moet ons maar skep. as ramaphosa se grondonteiening sonder vergoeding en sy radikale ekonomiese transformasie eers begin, gaan die uitleenkoers na 35% styg, inflasie gaan die hoogte inskiet, SA sal dan nooit weer uit rommelstatus kom nie en die Rand se waarde sal daal na R40 in 1 Amerikaanse dollar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.