‘Is daar trappe hemel toe?’ vra dogtertjie na ma sterf

Johan en Bianca Muller by hul vierjarige dogtertjie, Natasha. Foto: Facebook

Johan en Bianca Muller by hul vierjarige dogtertjie, Natasha. Foto: Facebook

Bianca Muller (27), die ma van Boksburg wat Dinsdag dood is nadat sy met varkgriep gediagnoseer is, se man het Woensdag gesê hy sal sy vrou altyd onthou as sy “rooikop vlamvegter” saam met wie hy enige hindernis kon oorkom.

“Ek en sy het saam baklei. Daar het al so baie dinge in ons lewens gebeur waar ons saam moes veg om bo uit te kom en ons het altyd daar uitgekom. Ek was baie lief vir my vrou en ek weet sy sal altyd by my wees,” het Johan Muller gesê.

Maroela Media het vroeër berig Bianca is op 10 Junie in die Parkland-kliniek opgeneem vir ʼn roetine-ondersoek toe sy 37 weke swanger was. Bloedtoetse het getoon dat sy die H1N1-virus onder lede het en dokters het besluit om haar babadogtertjie met ʼn noodkeisersnee in die lewe te bring.

Haar toestand het baie versleg nadat sy akute-asemnood-sindroom én ’n hospitaalkiem opgedoen het. Sy is Dinsdagmiddag in die waakeenheid van die hospitaal dood.

Johan moes gister die tragiese nuus aan die egpaar se vierjarige dogtertjie, Natasha, oordra. “Ons dominee se vrou was by toe ons haar vertel het en ons het mooi vir haar verduidelik dat mamma nou by Jesus in die hemel is. Gisteraand het sy my gevra of daar nie trappe is wat hemel toe gaan nie. Ek moes vir haar sê nee,” het hy hartseer gesê.

Johan het gesê die familie sal vandag bymekaarkom om oor begrafnisreëlings te besluit. “Die hospitaalpersoneel was net so ongelooflik deur hierdie tyd en het regtig uit hul pad uit gegaan om ons te ondersteun. Ek sal nooit vir hulle genoeg kan dankie sê nie,” het hy gesê.

“Dit is ʼn baie harde slag wat ons seker later eers regtig gaan tref. Vir nou moet ʼn mens maar net hier deur kom. Ek sal Bianca vir ewig lief hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Susan ·

Dis verskriklik hartseer!! mag die Hemelse vader hierdie pappa en kindertjies styf vashou en hulle troos deur hierdie vreeslike hartseer tyd .
Sterkte pappa ek dink aan julle almal .

Karina ·

Jammer om te hoor. Hoop hul toekoms sal sterkte mekaar. Wonder net is baba dogtertjie lewe nog? Die Here sal hulle be skerm en goeie toekoms sal kry.

Ina ·

jip die babadogtertjie is gesond by die huis. Sy is die 10de Junie gebore.
Sterkte aan die familie in hierdie hartseer tyd.

Gezina Scheepers ·

Dit is ongelooflik hartseer, sterkte aan haar hele gesin. Wonder of hospitaalkiem nie ook bygedra het tot haar dood nie, hoor so baie mense praat oor hospitaalkieme wat jy optel in hospitale as jy vir behandeling in hospitale is !

Liewe lulu ·

Agv diabetes was ek n paar keer in Parkland Hospitaal te Springs. Ek kan werklik nie kla nie. Het elke keer puik behandeling van personeel ontvang

Maureen ·

Kan nie glo dit ruk my so persoonlik nie! Ek huil so oor die mense se hartseer. Ek is tans 37 weke swanger, en het 4 en 5 jarige seuntjies wat nie kan wag vir hul boetie nie. Die moes ‘n opgewonde tyd vir jul gewees het. So jammer oor jul verlies! Sal bid vir julle!

Sumari ·

Ek kry die pappa so jammer. Moet nie maklik wees om dit vir ‘n 4 jarige te vertel nie. Het so gehoop dat die mamma sou herstel, maar die Here het ander planne vir almal van ons. Ek bid vir julle hele familie in die tyd.

Kathleen ·

Sterkte aan die familie. Ek ken jul nie maar my gebede is met julle. En onthou God is elke dag daar vir julle.

Kathleen ·

Sterkte aan die familie. Ek ken jul nie maar my gebede is met julle. En onthou God is elke dag daar vir julle.

Santoinette ·

My hart gaan so uit vir die familie. Hoe verduidelik mens aan die kinders. Dis so hartseer sterkte aan die pa wat ook nou alles deurgaan

Dave ·

Daardie dogtertjie se vraag; sy wil vir haar mamma gaan kuier – hoe verduidelik mens aan haar dat daar wel trappe is maar jy klim ‘n hele aardse leeftyd daaraan…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.