Is dit nog veilig om tweeminuutnoedels te eet?

(Argieffoto: Pixabay)

Verbruikers het begin neus optrek vir tweeminuutnoedels omdat hulle nie weet wat fout was met hierdie gewilde kitsmaaltyd nadat kinders onlangs dood is toe hulle daarvan geëet het nie. Ina Opperman het by kundiges gaan hoor wat hulle vermoed die oorsaak kon wees.

Die departement van gesondheid ondersoek ʼn saak van voedselvergiftiging ná die dood van drie kinders in die Oos-Kaap en twee in Mpumalanga nadat hulle tweeminuutnoedels geëet het. Sover weet niemand egter nog wat die oorsaak van hul dood was nie, aangesien die nadoodse ondersoek nog hangende is.

Kitsnoedels is ʼn voorafgaargemaakde en gedroogde blok noedels wat verkoop word saam met ʼn sakkie geurmiddel wat in kookwater geweek of gekook word vir twee minute voordat jy dit kan eet. Die hoofbestanddele is gewoonlik koringmeel, palmolie en sout, monosodium glutamaat, geurmiddel en suiker.

Mense eet al vir honderde jare lank noedels en die Japanse uitvinder Momofuku Ando het dit die eerste keer gemaak en verkoop deur sy maatskappy, Nissin, in 1958. Ando het die hele proses om die noedels vinnig te braai om dit langer te laat hou verfyn. Noedels wat in Westerse lande verkoop word, word gewoonlik met warm lug gedroog.

Hoe kan die noedels jou siek maak?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Miles Burke/Unsplash)

Dr. Hanli de Beer, senior lektor by die Departement Verbruikerswetenskap aan die Noordwes-Universiteit, sê die noedels word in ʼn geseëlde pakkie verkoop en aangesien dit droog is, is daar omtrent geen kans dat enige organisme daarop kan groei nie. Die noedels het ʼn lang raklewe net soos rys en normale pasta.

“Selfs al kan dit nie sleg word nie, is dit belangrik om te weet wat het gebeur tydens die gaarmaakproses en wanneer die kinders dit geëet het. Voedselvergiftiging gebeur wanneer daar ʼn toksiese middel in die kos is en simptome kom gewoonlik vinnig voor binne ʼn paar uur nadat iemand die kos geëet het.”

Volgens De Beer kan die middel ook chemies wees, soos in gevalle waar die houer waarin die noedels gaargemaak is, besmet is. Gifstowwe word ook afgeskei deur bakterieë wat geaktiveer word deur hitteskok.

Sy sê die eerste plek waar sy sal soek, is die geurmiddels, want dit kan bakterieë bevat wat spore vorm. “Die spore van hierdie organismes is ook hitte-bestand, wat beteken al kook jy die spore van Bacillus cereus, word dit nie vernietig nie. Inteendeel, die hitte sal dit aktiveer.”

Gifstowwe in geurmiddels

De Beer wys daarop dat selfs as die noedels gaargemaak is en gestaan het vir ʼn rukkie om af te koel voordat die geurmiddels bygevoeg is en dan weer in bakkies gestaan het voordat die kinders dit geëet het, kon die organismes gegroei het en gifstowwe afgeskei het.

Nicola Brook, direkteur van Foodpath, vermoed ook dit kon die geurmiddels wees wat die kinders se dood veroorsaak het, aangesien dit baie meer bestanddele bevat wat besmet kon word. Sy sê ook dat die bepaalde geurmiddel belangrik is omdat dit die lys bestanddele sal bepaal wat ondersoek moet word.

Volgens die “best before” datum kan kitsnoedels ses tot nege maande lank in jou koskas hou volgens die produksiedatum, hoewel dit net ʼn riglyn is. “Die noedels behoort veilig te wees om te eet selfs ná hierdie tydperk omdat dit droog is. Vervaldatums is gewoonlik nie ʼn kwessie nie en standaard pasta het ʼn raklewe van twee jaar.”

Volgens Brook kon die besmetting ook veroorsaak word deur ʼn chemiese middel en die geurmiddel kon ook besmet wees deur ʼn chemiese middel en ʼn patogeen, wat Escherichia coli kan wees, hoewel dit nie gewoonlik met hierdie soort produk verbind word nie.

E coli 0157 is bekend daarvoor dat dit die dood kan veroorsaak by kinders, maar dit is gewoonlik aanwesig in vleisprodukte. Hierdie soort patogeen word egter ook gevind in drinkwater van ʼn swak gehalte, veral water van ʼn rivier of dam waar beeste drink, maar as die water eers gekook is om die noedels gaar te maak, sou die proses die patogeen uitwis.

Voedselveiligheid is belangrik

Hierdie voorval wys hoe belangrik voedselveiligheid is. De Beer sê versorgers moet altyd versigtig wees wanneer hulle warm kos voorberei wat nie dadelik geëet word nie omdat dit die voedsel teen die temperatuur hou waar organismes kan groei.

Volgens Brook is dit belangrik om te fokus op die vyf basiese sleutels tot voedselveiligheid wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vasgestel is:

  1. Kies (veilige rou kos)
  2. Skoon (hou hande en toerusting skoon)
  3. Skei (rou en gaar kos)
  4. Kook (kos behoorlik)
  5. Veilige temperatuur (hou kos teen ʼn veilige temperatuur).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.